Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 93 of 332

Oordenking 25 Mei

‘n Seën van vrede vir almal wat in Christus is!

Lees: 1 Petr 5:12-14
12 “Silvanus, wat na my mening ‘n getroue broer is, het vir my hierdie kort briefie aan julle op skrif gestel. Ek het geskrywe om julle te bemoedig en julle te verseker dat hierdie dinge die ware genade van God is. Staan hierin vas!
13 Die gemeente in Babilon, ‘n uitverkore gemeente net soos julle, asook Markus, my seun, stuur vir julle groete.
14 Groet mekaar met ‘n soen van Christelike liefde. Vrede vir julle almal wat in Christus is!”

Petrus sluit hierdie eerste brief af met groeteboodskappe en in vers 14:
“Groet mekaar met ‘n soen van Christelike liefde.”
Ons lees op ten miste vier plekke in die Nuwe Testament dat ons mekaar met ‘n christelik kus of soen, moet groet. Rom 16:15; 1 Kor 16:20; 2 Kor 13:12; 1 Tess 5:26;

Rom 16:15 “Groet mekaar met ’n heilige soen…” Paulus

Hierdie is nie ‘n opdrag wat beteken dat ons mekaar vandag nog so moet soen nie. Nee dit was die manier van groet in daardie tyd. ‘n Man het ‘n ander man op die wang gesoen. ‘n Vrou het ‘n ander vrou op die wang gesoen. Dit was ‘n standaard manier van groet in daardie deel van die wêreld, in daardie tyd spesifiek.
• In die ooste groete hulle mekaar met ‘n buiging.
• In die weste groete ons mekaar met ‘n handdruk.
Maar Paulus veral praat van: “soen mekaar met ‘n heilige soen of kus”.
Heilig dui juis daarop dat dit geen ander bedoeling het as ‘n afgesonderde gebruik, tussen christene, wat mekaar erken en liefhet in Jesus Christus nie.

Kan ons onsself indink hoe dit moes wees as ‘n slaaf sy eienaar met ‘n heilige kus gegroet het, want alhoewel die verhouding steeds slaaf en eienaar is, is hulle nou ook broers in ons Here Jesus Christus.

Maar dan sluit Petrus hierdie brief af met ‘n seënspreek:

“Vrede vir julle almal, wat in Christus is.”

Petrus sluit die brief af met sekerlik die grootste en belangrikste en betekeniswaardigste wens.
• Genade vir julle en vrede word vermenigvuldig.
• Die seëninge wat vir hulle verlang word, is genade en vrede.
Genade. Die vrye guns van God, met al sy behoorlike uitwerking, vergifnis, genesing, bystand
en redding.
Vrede. Allerhande vrede mag hier beoog word, huislike, burgerlike, kerklike vrede in die kerk
en geestelike vrede met God, met die sekerheid wat vrede bring.

So word afgesluit met ‘n seënwens, wat hy beperk tot diegene wat in Christus Jesus is, met hom verenig deur geloof en gesonde lede van sy liggaam, die kerk is.

Amen, in teken van sy ernstige begeerte en ongetwyfelde verwagting dat die seën van vrede die deel van al die gelowiges sou wees.

So het ons ook hierdie brief, die Eerste brief van Petrus dan vir die afgelope vier maande bestudeer.
• Mag God ons almal se lewens verryk met Sy Genade en Vrede en Liefde.
• Mag God elkeen van julle seën met ryklike seëninge daar waar julle is.
• Mag julle God se liefde ontvang, dit uitleef in julle lewens en mag ons die lyding wat ons nou moet verduur met geduld en liefde ervaar, want ons weet, ons Burgerskap is in die hemel waar alles nuut en volmaak en ten volle in vrede sal wees.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 22 Mei

God roep ons uit genade om deel te hê aan die ewige Heerlikheid!

Lees: 1 Petr 5:8-11 (10)
8 “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek
na iemand om te verslind.
9 Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld
moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur.
10 God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy
ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle
moedig, sterk en standvastig maak.
11 Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen.”

Ons lees dikwels in hierdie gedagte-eenheid, net die gevaar raak van die Satan wat rondloop soos ‘n brullende leeu.

Maar in vers 9 en 10 lees ons van God se groot genade. Hulle wat standvastig in die geloof bly, ontdek die groot genade dat God altyd daar is. Die duiwel kan geen kind van God permanent van God af wegtrek of verlei nie.

God staan nie afsydig van die ware, opregte gelowige nie. God bly getrou. God is getrou aan Homself, aan sy beloftes. Trouens in 1 Kor 10 vers 13 lees ons dat God is getrou en sal nie toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie. “Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.”

God self is teenwoordig by ons beskerming.
Daarvoor het Hy Sy Seun Jesus Christus gestuur wat gesê het dat Hy nooit weer van ons sal weggaan nie, al is Hy nou in die hemel aan die regterhand van God. Jesus Christus, self God is Alomteenwoordig. Daarom is Hy ook by ons en met ons.

Die Heilige Gees is ook aan ons gegee om in ons te woon en ons elke dag deur die Woord te lei. Daarom moet ons elke dag bid en Bybellees en vra dat God deur die Gees en Woord ons sal lei.

Ons is nie net sommer mense op aarde nie, ons is deur God geroep en deur die genade bevestig. God het ons self geroep en die roeping in ons geplaas, sodat ons Hom WIL en KAN dien. Dit is hoekom daar soveel vreugde in is om die Bybel te lees en te bid en saam met die gemeente eredienste te kan hou en oordenkings te kan luister en om met God besig te wees.

Daarom is die lyding op aarde maar kort en gering. Ja selfs al is ons lyding ons lewe lank, die ewige heerlikheid is ewig. Daar is ons skatte. Daar kan mot en roes nie verniel nie. (Mat 6:19) Daar kan diewe nie inbreek en steel nie. Daar is volmaakte harmonie en liefde by God.

2 Kor 4:17-18 “Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. 18 Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.”

God se beloftes is ook in hierdie gedeelte direk aan ons gegee. God sal self ons oprig, bemoedig, sterk en standvastig maak. Dit beteken in geheel gesien dat God sal ons vashou, toerus, bemagtig teen die aanvalle van die Satan, die wêreld en ons eie vlees. God doen dit deur die Heilige Gees en die Woord wat kragtig in ons werk om ons te versterk. God rus ons toe met innerlike sterkte.

Daarom dat Paulus ook hierdie oproep kragtig aan ons rig in die boek van Kolossense:
Kol 1:22 “Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel.
23 Maar dan moet julle vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie. Dit is die evangelie wat aan al die mense op die aarde verkondig is en waarvan ek, Paulus, ‘n dienaar geword het.”

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Die oordeel van God bevry

Skriflesing: Jona 3:1-4:11
HK Sondag 4
Teksvers: Jona 3:10; 4:1

Een van die belangrikste regsbeginsels is dat jy nooit regter kan wees in jou eie saak nie. ‘n Hele land se regstelsel kan inmekaar stort as gevolg van die misbruik van hierdie enkele reël. Uit God se Woord leer ons dat Hy Wetgewer en Regter is. Hy maak die wette en Hy beoordeel dit. Hoe is dit tog moontlik? As ons as mense God se wet oortree dan kan God nie terugdraai op sy eie Woord en die sonde ongestraf laat bly nie… Ons staan vanaand stil by die tema dat God se oordeel bevry.

Koester kinders as geskenk van God!

Skriflesing: Psalm 127; Psalm 128
Teksvers: Ps 127:3,4; Ps 128:3,4,6

Nie alle mense het die voorreg om te trou nie. Nie alle getroude pare het die voorreg om kinders van God te ontvang nie. Maar almal wat getroud is en kinders het en alle volwassenes moet God se kinders waardeer, vir hulle ’n voorbeeld wees van christen-skap, vir hulle bid, hulle bewaar en beskerm as ge-skenke van God. Onthou wat Jesus Christus self gesê het in Mat 18 ivm die kindertjies. Kinders is geskenke van God en moet opgevoed word tot eer van God.

Ons is almal onderling verantwoordelike vir mekaar 

Hand 2:36-47

As gemeente van gelowiges in ons Here Jesus Christus, het ons ’n groot verantwoordelikheid. Hierdie verantwoordelikheid behels of beteken dat ons aan mekaar verbonde is. Ons is aan mekaar verbind deur ons geloofsband in Jesus Christus. Ons is een groot geestelike gesin, een groot geestelike familie, een voor God in en deur Jesus Christus. Daarom kan niemand homself maar afsonder en op sy eie lewe, los van die ander “gesinslede” nie. Ons is gesamentlik verantwoordelik vir mekaar. 

Juis in die moderne eeu raak hierdie waarheid al hoe belangriker. Almal raak meer individualisties en die moderne mens wil as ’n ware “anoniem” op sy eie voortleef. Ons sit heinings om ons huise, bly agter mure en toe deure, weens veiligheid en elkeen is individueel met homself besig. Dit is nie hoe God dit bestem het nie. 

Die beeld van 1 Kor 12 is duidelik dat elkeen van ons ’n gawe van God ontvang het. Ons is elkeen maar ’n ledemaat van die liggaam. Elke ledemaat van die liggaam is belangrik om die liggaam ten volle te laat funksioneer. Daarom is dit nie van belang of jy die oog of oor of hand of tand is nie. Van belang is dat jy jouself gee aan God en aan die gemeente tot voor-deel en uitbreiding en uitbouing van die gemeente en die koninrkyk van God. 

Om dit te kon uitleef het Petrus aan die gemeente geleer in Hand 2 dat hulle hulle moet bekeer, laat doop, laat onderrig in die Bybel en dan saam eet en bid. Dit wys duidelik op die “koinonia” die saamleef in ’n eenheid voor God. Daarom is dit so belangrik as gemeente om saam die Here te dien, om mee te leef en elkeen op sy gebied met die gawes wat God aan jou gegee het, die Here te dien. 

Mag ons almal saam die Here aanbid en die Here dien, tot eer en verheerliking van God en tot opbou van Sy kerk en Sy koninkryk. 

Ds. Gerrit 

« Older posts Newer posts »