Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 86 of 344

Geraamtes in die kas?

Skriflesing: Matteus 1; Fil 3:5-14; Joh 1:12; 2 Kor 5:17 (1983)
Teksvers: Matteus, 1:1,16

Elke mens het ‘n storie. Jou lewensverhaal. Hoogte-en laagtepunte. Jy skryf maar daagliks aan jou eie reputasie. 

Mense is geneig om baie ongenadiglik gereeld jou skuldverlede op te diep. Hulle verwyt en verwys na die geraamtes in jou kas. Biografiese skrywers se kos is die intriges van ander mense se lewens! 

Die Here is anders. Hy vergewe dié wat by Hom skuil en gee werklik die geleentheid van ‘n nuwe begin! 

DIEN DIE HERE MET BLYDSKAP

Ons sluit die jaar 2023 met die jaartema soos hierbo vermeld, nou af. Dit is die woorde van Psalm 100. Ek wonder toe nou of ons rêrig die Psalm as ons eiendom aanvaar het. Ons doen dinge dikwels so outomaties dat ons nie eers dink wat ons doen of sê nie… 

Dien die Here met blydskap! 

Blydskap waarvoor? 

Blydskap of vreugde omdat die Here aan ons gedink het, sy Seun gegee het en ons verlos het. Dit is ons enigste en grootste rede vir ware blydskap. Of is dit? Laat ons bietjie nadink! Hoe bly is ons? Het ons genoeg sondebesef om te weet dat die verlossing in Christus ons grootste rede is vir vreugde. Vreugde wat alle omstandighede te bowe gaan! Dat geen straf ons meer op ons sondes wag nie. Ons sonde is ten volle betaal. Ons rekening by God is vereffen! 

Egter ook blydskap omdat die Here ons versorg het, en toe ons in die nood was en gebid het, het Hy ons uitgehelp en versorg en gedra en uit die nood verlos. Ook in ons daaglikse gewone lewe. 

Blydskap omdat ons weet dat die ellende van die gewone alledaagse nie die einde is nie. Ons is pelgrims oppad en daar wag vir ons die allesoortreffende en heerlikste en vredevollle lewe saam met ons Here en Verlosser vir ewig! 

Blydskap omdat ons weet dat die Here trou is aan sy Woord en Hy sy beloftes nakom. 

Blydskap omdat ons en ons kinders en ons medegelowiges in sy hande, veilig is en niks toevalligs oor ons kom nie. 

Veilig omdat die die tekens van sy wederkoms aan die horison wink. 

Blydskap omdat ek weet dat ek kind is van God die allerhoogste en niemand dit kan wegneem nie. Die Bose kan ons nie uit sy hand ruk nie. 

Kom ons dien die Here met ware blydskap! 
Seënwense vir u almal oor die feestyd! 

Ds Maarten 

Jesus was ‘n volmaakte timmerman en is ‘n volkome Verlosser 

Skriflesing: Mark 6:1-6; Luk 2:1-10 (1983)
Teksvers: Mark 6: 3a, 4

Engele het aan ‘n timmerman Josef, wie se verloofde Maria was, die berig gebring dat sy swanger sou word, deurdat die Heilige Gees oor haar sou kom. ‘n Timmerman, wat sekerlik goed van inbors was, omdat hy getrou was aan die wet van Moses. Hy het die opdrag gekry dat die Baba wat gebore sou word, Jesus genoem moes word. 

“Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.” (Luk 1;32,33) 

Hierdie Baba, sou die seun van ‘n Timmerman, Josef sy aardse pa, wees. 

Wees die geskenk van dit wat jy ontvang

Skriflesing: Matteus 25:13-30 (2020)
Teksvers: Matteus 25: 28-30

Almal hou van geskenke. Veral as jy iets kry wat jy graag wil hê, maar dit nie self kan koop nie. In hierdie bekende gelykenis sien ons hoe verskeie persone “talente” kry. 

Hierdie talente is nie soos ons dit soms wil verstaan as ‘n talent wat jy het nie, dit is ‘n verwysing na ‘n geldeenheid van omtrent 36kg goud. ‘n Talent is dus baie waardevol. Die vraag hier gaan nie oor die hoeveelheid talente wat jy ontvang nie, maar wat jy daarmee doen. 

God gee aan ons gawes en talente, Hy seën ons, sodat ons tot seën sal wees. So word jy die geskenk, van dit wat jy self ontvang. 

In God alleen kan ons Rus vind

Die afgelope semester het ek vir Aurelius Augustinus beter leer ken. ‘n Man uit Afrika, en enigste sg. Roomse “heilige” uit die vasteland. Augustinus het egter geleef lank voor die Rooms Katolieke kerk selfstandig geword het. Tereg word hy ‘n kerkvader genoem. Hoewel hy in ‘n Christelike huis groot geword het, is dit eers op ongeveer 33 jarige ouderdom wat hy tot bekering kom. Een van die eerste dinge wat hy gedoen het, en ook een van die bekendste werke, is sy Confessionnes (Belydenisse). 

Hierdie is nie gewone belydenisse nie, dit is persoonlike gebede wat ‘n mens se hart aangryp. As professor in welsprekendheid, is dit gepas dat Augustinus ons leer waaroor ons kan bely: om God te loof en te prys vir Sy genade. 

Mag jou lewe ook ‘n belydenis wees tot lof en eer van God se genade. Hier is sy eerste hoofstuk van sy eerste boek. Mag hierdie jaar ook vir jou ‘n nuwe hoofstuk bring. 

“Here, U is groot en baie lofwaardig. U is groot in mag en U wysheid is onberekenbaar. ‘n Mens, ‘n deeltjie van U skepping, wil U loof. Ja, ‘n mens wat sy eie sterflikheid met hom saamdra, wat die bewys van sy eie sonde met hom saamsleep, ook die bewys dat U die hoogmoediges weerstaan, dié mens, dié stukkie van U skepping, wil U tog loof. U wek hom op om vreugde daarin te vind om U te loof, omdat U ons vir Uself geskep het, en daarom is ons harte ook onrustig in ons totdat dit rus vind in U. 

Here, gee tog dat ek kan weet en verstaan wat eerste is: om U aan te roep of om U te prys? Wat is eerste: om van U te weet of om U aan te roep? Maar wie roep U aan as hy nie van U weet nie? In sy onkunde kan hy mos ‘n ander wese in U plek aanroep. Of bid mense eerder tot U sodat hulle U kan leer ken? Maar hoe sal mense tot iemand bid aan wie hulle nie tot geloof gekom het nie? En hoe kom mense tot geloof as iemand U nie aan hulle verkondig nie? 

Mense wat die Here soek, sal Hom prys. As hulle die Here soek, vind hulle Hom en wanneer hulle Hom vind, sal hulle Hom prys. Ek wil na U soek, Here, wanneer ek U aanroep en ek wil U aanroep omdat ek in U glo. U is immers aan ons verkondig. My geloof roep U aan, Here, die geloof wat U aan my geskenk het, die geloof wat U in my ingeblaas het deurdat u Seun mens geword het, en deur die werk van hom wat U aan my verkondig het.” 

(Vertaling van prof Jan Scholtemeijer, eggenoot van sr Rina) 

« Older posts Newer posts »