Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 78 of 332

Buite die kerk is daar geen saligheid nie 

Nederlandse Geloofsbelydenis art 28 
1 Joh 4:7-21 (20) 

“Dikwels sê mense in onderhoude dat hulle nog wel in God glo, maar geen erg meer aan die kerk het nie. Hulle wil deel wees van die sogenaamde ”kerk-lose” Christendom. Die kerk het vir hulle te veel sondes, binnegevegte, of is te streng en beperkend. Dis makliker om God te dien sonder ‘n kerk. 

Die NGB (Artiel 28) ontmasker die gesindheid agter sulke uitsprake. Dit bely dat niemand wat sy stand en status ook al is, hom in SELFTEVREDENHEID van hierdie vergadering afsydig mag hou nie”. Dis selftevredenheid wat agter afsydigheid van die kerk skuil. Hierdie selftevredenheid is inderwaarheid ‘n neersien op mede-gelowiges. Dit sê: “Ek is nie soos hulle nie. Ek het hulle nie nodig nie. Ek en God, ons sal allleen regkom, dankie.” 

In ons Skrifgedeelte wys Johannes dat so ‘n houding nie opgaan nie. “Wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, want hy nie kan sien nie” (20). Dis waar dat die kerk baie foute het. Kerkmense is allermins volmaakte mense. Dis ook waar dat geen kerk jou in die hemel sal bring nie. Maar, dis ‘n leuen dat jy God kan liefhê sonder om liefdevol by medegelowiges betrokke te wees. 

Die kerk is die plek waar die liefde van God ontvang en uitgedeel word. Elkeen wat so liefhet is ‘n kind van God en ken God (7). Dink jy werklik dat daar enige saligheid sonder hierdie liefde is? Begin dus vandag om die liefde wat God aan jou bewys het, in alle erns met medegelowiges te deel. Waar mens dit begin doen, word die heerlike wonder van kerkwees sigbaar!” 

Bron. Vergeer Wim. 2007. ‘n Vaste geloof. p.127 

Die krag van die Heilige Gees oortuig en bring die geloof 

Skriflesing: 1 Kor 1:18-2:16 (1983) 
Teksvers: 1 Kor 2:4 
HK: Sondag 20 

Om die evangelie, die blye boodskap te verkondig, vra nederige afhanklikheid van die Here. Daar is nie groot geleerdheid of hoë woorde nodig nie, net ‘n diepe afhanklikheid van God. God gee dan deur die kragtige werking van die Heilige Gees die bevestiging van die evangelie in die harte van sy kinders. Geloof kom dus nie deur die wysheid van mense, deur die vermoë van kragtige predikers nie, maar deur die werking van die Heilige Gees met die krag van God. 

1 Kor 2:4 

“Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar… deur die kragtige werking van die Gees.” 

Ons glo aan die kerk 

Skriflesing: Romeine 9:1-33 (2020)
Teksvers: Romeine 9: 6-8

Daar is baie mense wat vandag sal sê dat hulle in die Here glo en Hom met hulle hele hart dien, maar nie meer kerk toe gaan nie. Hulle glo nie die kerk as instelling het meer ‘n plek nie.
Veral jongmense ervaar kerk baie negatief en vervelig en sien nie die doel daarvan of ‘n toekoms daarin nie. Die vraag is: Wat is die kerk en waarom bestaan die kerk?
Ons staan vanoggend stil by wat ons bely oor die kerk en oor kerk-wees in die verklaring van die ware Israel en die egte kinders van Abraham.

Die Gereformeerde Kerk is Katoliek 

Die kerk glo AAN kerk-wees. Ons glo nie IN die kerk, met die bedoeling dat die kerk ons kan red nie. Ons glo aan die kerk. Ons glo daar moet kerk wees. Want die kerk is die gelowiges wat almal in Christus glo. Ons bely hieroor onder meer in die Apostoliese Geloofsbelydenis dat “ons glo aan ’n heilige, algemene en Christelike kerk”. In die Belydenis van Nicea bely ons “een, heilige, algemene en apostoliese kerk.” 

Die woordjie wat vir “algemeen” gebruik word is die woordjie “katoliek”. Die Latynse beskrywing is De Ecclesia Catholica. Dit is die algemene kerk. Met algemeen, of dan katoliek, word nie die Rooms Katolieke kerk bedoel nie, maar eerder die kerk wat oral op alle plekke voorkom. Dit is eers later, rondom die 5de en 6de eeu na Christus wat die kerk in Rome, haarself as die primus inter pares, die eerste onder die gelykes verklaar het. Gevolglik het die kerk in Rome aangedring om die algemene kerk vanuit Rome te regeer deur die pous. 

Die Heidelbergse Kategismus in Sondag 21 verklaar egter: “Dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom ‘n gemeente, wat tot die ewige lewe uitverkies is, deur sy Gees en Woord, in die eenheid van die ware geloof van die begin van die wêreld af tot die einde toe, vergader, beskerm en onderhou, en dat ek daarvan ‘n lewende lid is en ewig sal bly” 

Dit is dus nie die kerk in Rome wat regeer nie, maar Christus, ons Here, die Seun van die Lewende God. Die kerk behoort aan Hom. Nie die kerkgebou nie, maar die mense. Die mense is die kerk. En die kerk is almal wat deur die eeue, oral op alle plekke op die aarde deur geloof leef. Dit is die ware kerk. Nie die mense wat hulleself onregmatig die naam kerk toe-eien nie, maar hulle wat in geloof en daad bewys. 

Ons gaan hierdie kwartaal die jaar tema afsluit oor wat ons bely van die kerk. Mag u lewe ook daarvan getuig, nie net dat u in die kerk is nie, maar dat u self die kerk is. Dat u aan Christus behoort en Hom bely saam met alle ander gelowiges reg oor die wêreld en deur alle eeue. Immers, buite die kerk is daar geen saligheid nie. 

Lourens (vdm) 

« Older posts Newer posts »