Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 77 of 344

God is altyd in beheer as Skepper, as Verlosser en as Trooster!

Demografie van Klassis Burgersdorp in die Oos-Kaap

Klassis Burgersdorp is ’n plattelandse, uitgestrekte gebied waar die bevolking yl gesaai is. As ek daar bevestig word sal ons DV 3 voltydse predikante wees om 16 gemeentes te bedien, versprei oor ’n baie wye gebied. 

Van Noord na Suid, Aliwal-Noord in die Noorde, na Queenstown in die suide, is 163 km ver. 

Vanaf die Ooste Maclear/Elliot na De Aar in die verre weste is 550 km ver. 

Rofweg kan die klassis in die Oostelike deel en die Westelike deel verdeel word met die volgende indeling: 

• In die Westelike deel is daar agt gemeentes en drie predikante; ds. Bain (Oranjerivier in Orania), ds. van der Westhuizen in Colesberg (wat ’n jaar studieverlof het en in die VSA is) en De Aar, ds. Deysel in Venterstad. 

• In die Oostelike deel met slegs een predikant is daar 7 gemeentes: 

Burgersdorp (DV ds. Gerrit Kruger) Die volgende gemeentes het geen predikante nie, Aliwal-Noord, Molteno, Queenstown, Dordrecht, Maclear/Elliot, Barkly-Oos. 

Die hele klassis het net ’n bietjie meer lidmate as wat die Gemeente van Centurion het, te wete 1400 in totaal. 

Dit bring geweldige uitdagings mee. Nogtans is dit die Here se kerke en die Here is steeds in beheer. Daarom kan en mag ons nie ons oë en ore sluit vir die nood van die plattelandse-kerke nie. Ons mag hulle nie negeer as klein en nietig nie. Ons moet steeds kyk waar ons kan help, op watter wyse ookal. Die belangrikste en grootste hulp wat ons kan gee is deur voorbidding te doen. 

In Centurion is daar baie mense met noue bande met Burgersdorp. Om net ’n paar te noem: Wouter Styger se pa en ma boer in die distrik en dit is waar hy grootgeword het. Henda Vreugde se pa was vir jare ’n mediese dokter in Burgersdorp. Die eerste teologiese skool was in Burgersdorp gewees. 

Daar lê vir my en Rika harde werk voor. Ons bede is dat die Here aan ons die geloofsvolharding, die gesondheid en krag en lus en ywer sal bly gee om hierdie heerlike roeping te kan en mag verrig. 

Soli Deo Gloria – Net aan God die eer. 

Ds. Gerrit 

 

Die Here skeur self die weg vir ons oop na Hom toe 

Skriflesing: Mattheus 27:32-54; Hebreërs 10:1-25 (1953)
Teksvers: Mattheus 27:50-51a

Die doel van die kruisiging word vir ons geopenbaar toe God self die voorhangsel na die allerheiligste skeur. Die doel was dat ons toegang mag hê tot onse God. Ons Here Jesus Christus is die vervulling van die skadu’s van die tempel. Hy is vir ons verskeur, sodat ons deur Hom kan gaan na ons Vader. 

Ons het die opdrag om nou te leef in die teenwoordigheid van God die Heilige Gees, in die allerheiligste. Daar kan ons leef sonder vrees en met groot vrymoedigheid, omdat ons gereinig is in Christus se bloed. 

Die HERE kyk anders as mense

Skriflesing: 1 Samuel 16 (2020)
Teksvers: 1 Samuel 16:7

As mense is ons geneig om met die eerste oog opslag ‘n opinie te vorm. 

Sommige mense maak onmiddellik ‘n indruk op ons met hoe hulle lyk. Hierdie indruk is egter nie altyd ‘n getroue weerspieëling van die werklikheid nie. 

Samuel kry die opdrag om na Isai se huis te gaan om ‘n nuwe koning te salf, en met sy eerste indruk van Eliab, dink hy hier staan die nuwe koning. 

Maar die HERE kyk anders as mense. 

Sondag weer tyd vir nadenke

Skriflesing: Deut 5:12-15 (1983) 
Teksvers: Deut 5:15 

Moses herhaal die Wet of Tien Gebooie hier aan die nuwe geslag wat in die woestyn oorleef het. Hulle moet nadink oor waar hulle vandaan kom. 

As ons vandag deur Woord (ore) en Sakrament (oë) herinner word aan ons afkoms en verlede, dan behoort dit ons te bring by ware aanbidding. 

Miskien moet ons ons net weer bekeer oor watter plek die Sondag in ons lewe en weeklikse roetine inneem, sodat ons nie fokus verloor deur al die ander wêreldse aanbiedinge op Sondae nie. 

« Older posts Newer posts »