Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 74 of 332

In God alleen kan ons Rus vind

Die afgelope semester het ek vir Aurelius Augustinus beter leer ken. ‘n Man uit Afrika, en enigste sg. Roomse “heilige” uit die vasteland. Augustinus het egter geleef lank voor die Rooms Katolieke kerk selfstandig geword het. Tereg word hy ‘n kerkvader genoem. Hoewel hy in ‘n Christelike huis groot geword het, is dit eers op ongeveer 33 jarige ouderdom wat hy tot bekering kom. Een van die eerste dinge wat hy gedoen het, en ook een van die bekendste werke, is sy Confessionnes (Belydenisse). 

Hierdie is nie gewone belydenisse nie, dit is persoonlike gebede wat ‘n mens se hart aangryp. As professor in welsprekendheid, is dit gepas dat Augustinus ons leer waaroor ons kan bely: om God te loof en te prys vir Sy genade. 

Mag jou lewe ook ‘n belydenis wees tot lof en eer van God se genade. Hier is sy eerste hoofstuk van sy eerste boek. Mag hierdie jaar ook vir jou ‘n nuwe hoofstuk bring. 

“Here, U is groot en baie lofwaardig. U is groot in mag en U wysheid is onberekenbaar. ‘n Mens, ‘n deeltjie van U skepping, wil U loof. Ja, ‘n mens wat sy eie sterflikheid met hom saamdra, wat die bewys van sy eie sonde met hom saamsleep, ook die bewys dat U die hoogmoediges weerstaan, dié mens, dié stukkie van U skepping, wil U tog loof. U wek hom op om vreugde daarin te vind om U te loof, omdat U ons vir Uself geskep het, en daarom is ons harte ook onrustig in ons totdat dit rus vind in U. 

Here, gee tog dat ek kan weet en verstaan wat eerste is: om U aan te roep of om U te prys? Wat is eerste: om van U te weet of om U aan te roep? Maar wie roep U aan as hy nie van U weet nie? In sy onkunde kan hy mos ‘n ander wese in U plek aanroep. Of bid mense eerder tot U sodat hulle U kan leer ken? Maar hoe sal mense tot iemand bid aan wie hulle nie tot geloof gekom het nie? En hoe kom mense tot geloof as iemand U nie aan hulle verkondig nie? 

Mense wat die Here soek, sal Hom prys. As hulle die Here soek, vind hulle Hom en wanneer hulle Hom vind, sal hulle Hom prys. Ek wil na U soek, Here, wanneer ek U aanroep en ek wil U aanroep omdat ek in U glo. U is immers aan ons verkondig. My geloof roep U aan, Here, die geloof wat U aan my geskenk het, die geloof wat U in my ingeblaas het deurdat u Seun mens geword het, en deur die werk van hom wat U aan my verkondig het.” 

(Vertaling van prof Jan Scholtemeijer, eggenoot van sr Rina) 

Is God se goedheid reg in jou oog?

Skriflesing: Matteus 20:1-16 (2020)
Teksvers: Matteus 20:15
HK Son 24

Elke boontjie kry sy loontjie. Of ten minste so wil ons dit graag hê. Dat elke mens hulle verdiende loon sal ontvang. 

Vir die wat goed doen, behoort daar ‘n goeie loon te wees en vir die wat kwaad doen, behoort daar ook ‘n verdiende loon te wees. Waar dit hier gaan om ons geloof en die werk van die Heilige Gees, is die vraag of ons nie deur goeie werke ook onsself kan regverdig voor God nie? Kan ons nie tog iets doen om op te maak vir ons sonde nie? 

Ons staan vanaand stil by die gelykenis van die loon met die oog op die Nagmaal. 

Aan God al die lof en die eer!

Skriflesing: Psalm 100; Ef 1:1-14 (1983)
Teksvers: Ef 1:3,6

God is onmeetlik groot. Ons kan God nooit ten volle verstaan nie want ons is die skepping van sy hande. Tog is God se genade so groot dat Hy ons ryklik seën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. 

Hierdie seëninge is die geloof, die uitverkiesing, die heilige lewe in en deur Jesus Christus, die geestelike gawes wat ons deur die Heilige Gees ontvang. God het ons as sy kinders aangeneem deur Jesus Christus. Dit word telkemale met die gebruik van die Hielige Nagmaal opnuut aan ons verkondig. 

Ons is God se kinders deur Jesus Christus. Daarom kan ons nie anders as om elke dag God te loof en te prys en te aanbid nie. 

Blaas jou genadegawes weer aan soos ‘n vuur!

Skrifgedeelte: 2 Tim 1:1-18 (AFR83) 
Fokusgedeelte: 2 Tim 1:6-11 

As ek in die Bosveld gaan kamp, dan maak ek elke aand ‘n vuurtjie met lekker bosveldhout, wat goeie, warm kole maak. Die volgende oggend as jy ontbyt maak, dan blaas jy net die as van die kole af, sit ‘n bietjie fyn houtjies op en blaas die kole van die vorige aand totdat die vuur weer brand. Dit is hierdie beeld wat Paulus gebruik om Timoteus aan te moedig om die genadegawes wat hy ontvang het weer aan te blaas sodat sy hart warm vir die evangelie klop. 

Genadegawes, o.a. ons geloof, bly nie outomaties brandend nie. Jou geloof, jou genadegawes moet voortdurend gekoester en opgeskerp word, uit die Woord en met gebed deur met God besig te wees. Blaas die vuur aan! Blaas jou geloof weer aan die brand! Brand van ywer vir God en sy koninkryk! 

Paulus is op hierdie stadium in Rome ‘n gevangene. Paulus staar die dood in die oë. 2 Tim 4:6 “…Die tyd van my dood is voor die deur.” Maar Paulus dink nie net aan homself nie, hy is nie op homself gefokus nie, hy is gefokus op sy taak as apostel. Paulus skryf aan die jong predikant Timoteus en bemoedig en versterk hom in die geloof. Timoteus het ook gedurig aanmoediging nodig, soos almal van ons. 1 Kor 16:10-11 Paulus praat hom voortdurend moed in en versterk hom in sy dienswerk. 

Wat is genadegawes? Die genadegawe waarvan hier gepraat word, is spesifiek om die Woord uit te dra, om te preek, om te getuig van die verlossing deur Jesus Christus.1 Tim 4:14 

Genadegawes moet met ywer gebruik word. Deur die Gees, die wedergeboorte, word ons in staat gestel om God te dien. 

Bid voortdurend vir vervulling van die Heilige Gees. Die probleem is dat selfliefde en egoïsme lei tot vrees. Vrees dat alles nie meer sal wees soos wat ek dit wil hê of gewoond aan was nie. Ons kan maklik bekommerd raak dat ons aansien, mag of geld of besittings of voorregte kan verloor. Maar as ons biddend deur die werking van die Heilige Gees leef ervaar ons die werking van 2 Tim. 1:7 “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.” 

Om hierdie rede word ons herinner om die genadegawes wat God gegee het, elke dag weer soos ‘n vuur in ons lewens moet aanblaas. 

Ds Gerrit 

« Older posts Newer posts »