Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 67 of 331

Wat dink jy van My?

Skriflesing: Psalm 50; Joh 17 
Teksvers: Psalm 50:21(14+23), Joh 17:17 
HK: Sondag 35 

In Sondag 35 bely ons eerlik dat ons “God op geen enkele manier mag afbeeld nie“. Die eenvoudige rede is eintlik dat geen maar géén beeld Hom as God ooit KAN omvat of kan uitbeeld nie. 

Terwyl ons dus nie eintlik baie fisieke beelde van God rondom ons ken (soos bv Boeddhabeelde in Thailand) nie, moet onsself dalk op ‘n ander vlak ondersoek. 

Watter beelde is daar van God in jou kop? 

’n Skat in ’n kleipot tot eer van God

Skriflesing: 2 Kor 4:1-15 
Teksvers: 2 Kor 4:5-7, 15c 

Hoe mooi ’n kleipot of erdekruik ookal is, dit is ’n verganklike, breekbare, maar ook ’n bruikbare artikel. Want ’n kruik word eerstens gemaak om iets binne te hou. In die Bybelse tyd was die erdekruik of kleipot gebruik as ’n waterhouer, as ’n bêreplek vir graan of kos. Vandag het ons baie duursame houers van metaal, duursame plastiek om kosbaarhede soos kos en klere in te bêre. Vir ’n baie kosbare skatte, artikels soos juwele of geld gebruik ons kluise. God gebruik egter mense, wat met kleipotte vergelyk word, om die kosbaarste skat in te bêre. 

  • ’n Kleipot deur God geskape uit genade. 
  • ’n Kleipot deur God gevul met ’n skat. 
  • ’n Kleipot deur God tot eer en verheerliking van God. 

Paulus het geplant, Apollos het natgegooi en God het laat groei!

Paulus was baie teleurgesteld, omdat die gemeente van Korinte hulle nie deur die Gees van God laat lei het nie. Hulle moes teen die stadium al volwasse in die geloof gewees het. Het Paulus dan nie al vir agtien maande lank die gemeente toegerus en vir hulle gepreek en hulle bedien nie? Duidelik stel Paulus dit in vers 9 dat hy en Apollos, net medewerkers is, in diens van God. 

Paulus het die gemeente in Korinte geplant of gestig. Hy was eerste daar om die evangelie van Jesus Christus aan hulle te verkondig. Paulus het hard gewerk om Jesus die Christus te verkondig (Hand 18:1-11). 

Apollos het ook in die omstreke gewerk. Ons lees in Hand 18:24-28 dat Apollos kragtig in die openbaar uit die Skrif bewys het dat Jesus die Christus is. Hy het dus natgegooi en die evangelie verder en duidelik verkondig. Hy kon dit doen want hy was ’n begaafde spreker met ’n deeglike kennis van die Skrif, (Hand 18:24-25). 

God laat egter die evangelie in die harte vasslaan en ontkiem en dit is God wat laat groei. Hier is God Drie-enig aan die werk. God die Vader sorg vir ons en Hy skenk die geloof aan ons uit loutere genade (Ef 2:8-10). Jesus Christus is ons Verlosser, ons Koning, die Hoof van die kerk, die Seun van God, ons Here. Die Heilige Gees is elke dag in ons harte besig met sy heilige werking om ons al heiliger as nuwe mense in en deur Jesus Christus te maak. 

Ons is die saailand van God, (1 Kor 3:9). Beide Paulus en Apollos is medewerkers in diens van God. Hulle is gelyk voor God. Een is nie belangriker as die ander nie. Albei het hulle werk en hulle taak as medewerkers in diens van God om in Sy saailand te kon werk. So het die gemeente van Korinte tot stand gekom. 

In die Gereformeerde Kerk Centurion is ons ook drie predikante. Al drie van ons saai en plant en maak nat. Elkeen van ons is ‘n medewerker in die koninkryk van God, in hierdie gemeente. Ja ons moet die herders wees wat die Goeie Herder navolg. Ons moet sekerlik ook ’n voorbeeld stel en ons verkondig niks en niemand anders nie as Jesus Christus, en wel Hom as gekruisigde en opgestane Verlosser. Kom ons bly dus God dien in opregtheid met die liefde vir God in ons harte. Kom ons hou vas aan Jesus Christus en nie aan Paulus, Apollos of Petrus nie. 

Ds. Gerrit 

Die HERE ons God is Heilig

Skriflesing: Habakuk 1:12-3:19
Teksvers: Habakuk 2: 20
HK: Sondag 34

Habakuk worstel met die gedagte dat God toelaat dat die Chaldeërs wegkom met moord. Op sy wagtoring gaan sit hy, en dan antwoord die Almagtige dat hy geduldig moet wees om te sien wat gaan gebeur.
Nadat al die sondes en onreg aangewys is, bid die profeet ‘n hartroerende gebed van God se redding. Dan erken hy wat gebeur het die oomblik toe God teenwoordig is.
Ons besef nie elke dag Wie God is nie. Ons raak so gewoond aan ons rituele en gebruike. Habakuk herinner ons die Almagtige God wat ons aanbid is Heilig.

Moses se Moses

Skriflesing: 2 Korintiërs 3 (1983)
Teksvers: 2 Kor 3:18

In ons preekreeks oor Tweede Korintiërs kom ons nou by hoofstuk 3. Na analogie van Moses wat sy blinkende gesig met ‘n sluier moes bedek, word ons geleer dat Christus baie groter is as Moses. Hy is Moses se moses. 

In Christus word die sluier weggeneem en kan ons as kinders van God toenemend skyn met die heerlikheid (Grieks: doxa) van Christus! Hier stop Paulus die boelie van die wet en leer ons die vryheid in Christus. 

« Older posts Newer posts »