Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 66 of 344

Heilsorde(4): Die gawe van Geloof

Skriflesing: Ef 2; Filip 2:12,13 (1983)
Teksvers: Efesiërs 2:8

Die wonder van die heilsorde is daarin geleë dat dit altyd God is wat aan die werk is in mense se lewens. Sy ingrypende werk bring redding en verlossing. 

Dit is egter so dat die genadige werkinge van God in ons, ons ook aan die gang sit om werksaam te raak. Ons is immers nie dooie blokke of skaakstene wat net rondgestoot of geskuif word nie. As God die geloof in ons werk, dan glo ons ook werklik. En daardie reddende geloof is die ware geloof wat die wedergebore mens nou aan Christus, as Verlosser bind. 

Deur jou geloof word jy gered! 

Krummels vir die hondjies is genoeg

Skriflesing: Matteus 15:21-28 (Markus 7:24-30) (2020)
Teksvers: Matteus 15:25

Om iemand ‘n hond te noem is ‘n geweldige belediging. Honde was nie soos vandag, bekend as ‘n “man se beste vriend” nie. Honde het vry rondgeloop en geaas. Dit was onrein diere. 

Die woorde van ons Here Jesus laat ‘n mens eintlik na jou asem snak, dat Hy die heidene honde noem. Of ten minste dat Hy ‘n Kanaänitiese vrou wat Hom om hulp nader, wegwys en sê: “dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.” 

Ons staan vanoggend stil by die tema wat opgesluit is in die antwoord van hierdie vrou, dat die hondjies die krummels eet wat van hulle base se tafel val. 

Monergisme

Die alleen werking van die Heilige Gees

Die afgelope klompie weke waartydens ons dieper ondersoek instel rakende ons Dordtse belydenis en die heilsorde, is daar wonderlike dinge wat ‘n mens weer ontdek. Dit is nie noodwendig altyd nuwe dinge wat jy nog nooit voorheen geweet het nie, maar eerder ou dinge wat jy ken wat op so ander manier weer nuut word. 

Dit is omtrent soos die buitekamer of motorhuis waar jy ‘n klompie goed weg gestoor het en al daarvan vergeet het. As jy genoeg moed bymekaar skraap en die stoor reg pak, dan vind jy as te ware ou goed, maar dit voel soos nuwes. 

So het ek gevoel toe ek die woordjie monergisme ontsyfer. Dit is nie ‘n onbekende woord vir my nie, want ek besoek al vir ‘n geruime tyd die webtuiste monergism.com. Dit is ‘n wonderlike bron van gratis gereformeerde literatuur. Die betekenis van monergisme is as volg: mono is een of alleen en ergos is werk. Dit is die alleen werk van die Heilige Gees. 

Dit staan teenoor synergisme, die saamwerk van die mens met die Heilige Gees. Met ander woorde, in die wyse waarop die Heilige Gees geloof en bekering in die hart van die mens bewerk is ‘n monergisme, ‘n alleen werking van die Heilige Gees. 

Hieroor skryf die apostel Paulus in sy eerste brief aan die gemeente in Korinte, hoofstuk 2. Hy verkondig Christus as die gekruisigde, nie met allerlei mooi menslike praatjies nie, maar in die krag van God. Hierdie wysheid is nie bekend vir die wêreld of vir die heersers van hierdie wêreld nie. Die Gees van God is nie die gees van die wêreld nie. En daarom sal die natuurlike mens geen ontvanklikheid hê vir die evangelie nie. Dit het duidelik geblyk in die Olimpiese spele se opening. 

Die geestelike mens egter, deur die werk van die Heilige Gees, beoordeel anders as die wêreld. Ons het die denkwyse van Christus ontvang. Daarom leef ons anders, dink ons anders, doen ons anders. Mag ons Here, deur die krag van die Heilige Gees, jou ook verras deur die ou denke, nuut te maak. 

Lourens (vdm) 

Heilsorde(3): Die wedergeboorte

(Last updated on Augustus 5th, 2024)

Skriflesing: Johannes 3:1-10; Rom 3:10-12; Joh 7:45-52; Joh 19:38-42 (Nikodemus) (1983)
Teksvers: Johannes 3:3

Miskien moet u weer dink oor die teks en dan eerlik vra of dit ‘n opdrag (imperatief), maw dat dit iets is wat jy moet doen… 

of 

…is dit net ‘n absolute waarheid waardeur jy moet kennis neem dat jy eintlik BAIE diep verlore is/was as daar geen die bo-natuurlike ingrype van God in jou lewe sou wees nie!! 

Jesus onderstreep in hierdie antwoord aan Nikodemus ons ONMAG as sondaars en daarteenoor Sy ALMAGTIGE vermoë om sondaars uit hul ellende te red. 

(Kyk elders in ons nuusbrief vir meer inligting oor die Heilsorde) 

« Older posts Newer posts »