Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 60 of 344

Vergenoegdheid

Tevredenheid/Contentment – (Josua17:14-18) 

Die gelese paragraaf gaan oor die families van Josef, die stamme van Manasse en Efraim, wat ONTEVREDE is met hulle lot. 

Josua moet die land verdeel en doen deur loting. Deur die gooi van die lot het die Here bepaal wat elke stam moet kry. Die nakomelinge van Josef is egter nie tevrede met hulle lot nie. Hulle kom kla by Josua. 

Ons ken mos die spul Israeliete van ouds. Kerm en kla was hulle gewoonte. 

Oppad uit Egipte, nog voor die deurtog deur die Rooisee, as die Farao hulle agtervolg, kla hulle alreeds. Deur die woestyn verlang hulle terug na die vleispotte van Egipte… en dan ken u die episodes met die kwartels en die waters van Meriba. 

Manasse en Efraim kla dat hulle nie genoeg grond gekry het nie. En heel vroom ook nog… “Ons is baie mense, want die Here het ons besonderlik geseën”. (14) 

Let nou goed op: Hulle kla eintlik teenoor die Here. 

Josua moes mos deur loting (werp van die lot) die land verdeel. So het die Here bepaal wat elkeen kry. Hulle is dus eintlik ONTEVREDE met God se besluit en toekenning. 

As ons nou so bietjie navorsing doen kom ons agter dat hierdie stamme nie regtig rede gehad het om te kla nie. Met die 2de Sensus, Moses se tyd (Num 26), sien ons dat hierdie Josef-stam (Efraim en Manasse saam) wel die grootste stam in Israel gevorm het. Die halwe Manasse-stam het egter Oos van die Jordaan reeds grond gekry. As ons dan die helfte van Manasse aftrek van die totale getal, vind ons dat die oorblywende Efraim en Manasse selfs minder in getal was as die kleinste stamme van Juda en Dan en Issaskar! Hulle het dus ‘n tweede deel ook gekry – Oos van die Jordaan! Daarom was hulle dus nou nie geregtig op meer as één werping van die lot nie! Hulle vroom praatjies was dus nie heeltemal so waar nie! 

Ja, so ken ons die mens! Ons sal selfs teenoor die Here loop en kla! 

Laat ons versigtig wees in ons gebede en in ons klagtes dat ons die Here wat ons alles uit genade gegee het, nie beledig en loop en verkla en aankla nie. Gebruik dit wat Hy jou gee tot die beste van jou vermoë en dank Hom in alles altyd vir sy genade! Sluit gereeld u gebed af met dié woorde van Jesus: “Nie my wil nie, maar laat U wil geskied”. 

Ds Maarten 

Jongmens, onthou wat jy geleer het

Skriflesing: 2 Timoteus 3 (1983)
Teksvers: 2 Tim 3:14,15

As leraars word ons gereeld geskok oor ons eie jongmense se afvalligheid van die geloof. Soms selfs ongeloof en direkte opstand teen die heilige dinge van God! 

Die duiwel gaan rond soos ‘n brullende leeu om te verslind. Laat ons mekaar opskerp en aanmoedig om waaksaam te wees. Dink veral aan ons jongmense… 

Bid vir ons jongmense wat ‘n geweldige aanslag van die Bose moet trots eer. 

Die Versoeker het sy oog op ons jeug wat die vryheid soek. Soms ontaard hierdie vryheid in losbandigheid. 

Vanaand se erediens sluit dus aan by die belydenisklas-kamp wat hierdie naweek plaasvind: “onthou wat jy geleer het…” 

ʼn Nuwe lewe in Christus (2): Om God te ken is die lewe 

Skriflesing: 2 Timoteus 3:10-4:5; Handelinge 8:26-40 (2020) 
Teksvers: 2 Timoteus 3:16,17 

Van brood alleen sal die mens nie leef nie, maar van elke Woord wat uit die mond van God gaan. Nie net skep God deur sy Woord nie, Hy herskep. Hy bring lewe uit die dood. God se Woord is die wonderlikste denkbare geskenk wat enige mens kan ontvang. Dit is die lewe self. 

Daarom moet God se Woord vir ons kosbaar wees, dit moet ons lewe omsluit. Dit moet ons asemhaling wees om God te ken. Deur God se Woord ken ons Hom, spreek Hy tot ons, bestaan ons. 

Vanoggend dink ons na oor die wyse waarop Christene God se Woord hulle hele lewe vervul en rig. 

Skerper as ‘n Tweesnydende Swaard

Een van die grootste gevare van die Christendom is ‘n baie onverwagse en skynbare onskadelike vyand. Dit is nie ‘n boosaardige gedrog wat jou wil oorrompel en verskeur, soos ‘n brullende leeu wat op jou afstorm nie, maar een wat lyk soos ‘n engel van die lig. Dit is gewoonlik die skadelikste dwaling, wat die naaste is aan die waarheid. Dwalinge is nie blote namaaksels van die waarheid soos ‘n goedkoper opsie wat Made in China is nie. 

U sien, hierdie gevaar wat menige gelowiges tot ‘n val gebring het, is gemaksug. Dit is die veronderstelling dat jy as gelowige “veilig” is en niks kan oorkom nie, omdat jy die Bybel ken. Dit is die gerief van ‘n Bybel in die sak, maar God se Woord wat ver van jou hart is. 

Baie self-identifiserende Christene verklaar hulself as Bybel kenners, en sommige van hulle ken inderdaad die Bybel goed, maar die Woord van God bring geen verandering in hulle lewe nie. Vir baie toegewyde gelowiges is die Bybel ‘n sentrale deel van hulle lewe, en tog leef hulle nie die Bybel nie. 

Om Bybel te lees het ‘n gewoonte geword, ‘n manier om geestelik gerus gestel te word. Hoeveel maal het u nie al die Bybel gelees en eintlik al vergeet wat jy gelees het nog voordat jy die Bybel terugplaas op jou bedkassie? Dit is soos iemand wat in ‘n spieël kyk en onmiddellik vergeet hoe hy lyk (1 Korintiërs 13). 

God se Woord is die bekendmaking van die Skepper van hemel en aarde. Dit is die eie Woord van God, die Almagtige aan wie jou hele bestaan te danke is. God wil met sy kinders praat, Hy wil hulle onderrig en bemoedig, waarsku en vermaan, maar sy kinders wil nie na sy stem luister nie. Ons het so besig geword dat ons nie meer tyd het om te hoor wat God vir ons wil sê nie. 

Maar weet u, die oomblik as jy jou tyd anders inrig, om tyd te maak vir God om jou tiende van jou tyd ook aan die Here te wy, om Hom te leer ken, dan verander dit jou lewe. Want God se Woord is skerper as ‘n twee snydende swaard. Dit dring deur gewrigte en murg. Dit sny waar geen lem kan bykom nie. Dit opereer jou hart. 

Maak tyd vir God, laat die Woord van God deur die Heilige Gees jou verander deur jou denke te vernuwe. Beproef die goeie en volmaakte wil van God, dan sal jy ware vreugde en vrede ervaar. 

Lourens (vdm) 

« Older posts Newer posts »