Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 55 of 331

TULIP

Hierdie woord TULIP het niks te doen met die Hollandse blomme, of die knolkoors wat dit eens op ‘n tyd veroorsaak het nie. Dit is ‘n akroniem wat in moderne teologie iets probeer beskryf van die 5 onderskeie aspekte van “Calvinisme”. 

Hoewel dit in ‘n sekere opsig niks te doen het met wat Calvyn self geskryf het nie, word die 5 punte van Calvinisme, soos daarna verwys word, eintlik verbind aan die Dordtse Leerreëls. 

Tydens die “vermaerde”, of bekende Sinode van Dordt in 1618/19 in Dordrecht in Nederland, is die werke van Jakobus Arminius (bekend as Arminianisme of Remonstrantisme) veroordeel. 

Teenoor 5 dwalinge van Arminius en die Remonstrante, het die gereformeerde kerke in ’n hoofstuk telkens die hoofpunte van die ware leer uiteengesit, en daarna al die dwalinge wat daarmee verband hou, weerlê. Gevolglik het die leerreëls van Dordt tot stand gekom. In kort staan TULIP vir die volgende: 

Total Depravity Hoofstuk 3,4 – Verdorwenheid van die mens 

Unconditional Election Hoofstuk 1 – Predestinasie 

Limited Atonement Hoofstuk 2 – Dood van Christus 

Irresistible Grace Hoofstuk 3,4 – Bekering en die wyse waarop 

Perseverance of the Saints Hoofstuk 5 – Volharding van die heiliges 

Ons gaan hierdie kwartaal die fokus plaas op die betekenis van die Leerreëls van Dordt en hoe dit vandag nog net so van toepassing is soos 405 jaar gelede. Ons sal sien dat die akroniem TULIP nie reg laat geskied aan die werklike betekenis van Dordt nie, maar tog relevant bly. Daarby gaan ons die Ordo Salutis (heilsorde) behandel in die aanddiens om die praktiese toepassing te maak hoe ons deel kry aan die verlossing in en deur Jesus Christus, en hoe die verlossing sigbaar moet word in ons eie lewe. 

Lourens (vdm) 

Jesus kom veg vir ons teen die dood

Skriflesing: Johannes 11
Teks: Joh 11:25,26,35,38

Hierdie teks wat ek tydens begrafnis van Tannie Toy vd Berg gepreek het is op versoek vanaand vir hele gemeente ter tafel.
Mag die vrees vir die dood bedaar as ons in die opwekking van Lasarus sien hoe naby hierdie lewe en die lewe na die dood eintlik by mekaar is.

Ware INTEGRITEIT van die nuwe mens in Christus

Skriflesing: Genesis 39
Teks: Genesis 39:8-12

Skets: Laasweek het ons gesien dat Saul nie ‘n ware diepe hartsvernuwing ondergaan het en by God en sy Woord getrou gebly het nie. Vandag kyk ons na ‘n meer positiewe figuur wat deur die moeilikste teenslae en versoekings aan God getrou bly en dan geseën word.

In die lig van die jongste kerkraadsbesluit dat ons die huwelik as van God moet eer en nie daarmee woer-woer speel asof ons die reëls of beginsels bepaal nie, kom ons by Josef se integriteit daar in die vreemde, in die buiteland, Egipte. Daar waar niemand rêrig weet of sien nie, daar behou hy sy beginsels en eer hy God met ware integriteit en vaste norme en beginsels, gebou op die Woord van God wat in hom leef.

Gereed en bereid tot verandering?

Skriflesing: 1 Samuel 10
Teksverse: 1 Samuel 10:6

In die konteks van vanjaar se tema “Die nuwe lewe in Christus” sal ons ‘n oomblik kyk na die veranderde Saul soos God hom voorberei het vir die koningskap in Israel. Kyk na die betekenis van die drie tekens wat sy roeping en salwing deur die Gees vergesél het.
Miskien moet ons gewoond raak aan die veranderinge wat God in ons lewens wil bewerkstellig, sodat ons meer en meer die veranderde mens kan word wat Hy ons bedoel het om te wees.
Is jy gereed om te verander en is jy bereid om die roeping te aanvaar om die ware Christen te wees wat God vir jou en my in gedagte het. Hou aan bid vir die kragtige ingryping van die Heilige Gees om ‘n ander persoon te word in die werklike sin wat God wil.

« Older posts Newer posts »