Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 53 of 331

Monergisme

Die alleen werking van die Heilige Gees

Die afgelope klompie weke waartydens ons dieper ondersoek instel rakende ons Dordtse belydenis en die heilsorde, is daar wonderlike dinge wat ‘n mens weer ontdek. Dit is nie noodwendig altyd nuwe dinge wat jy nog nooit voorheen geweet het nie, maar eerder ou dinge wat jy ken wat op so ander manier weer nuut word. 

Dit is omtrent soos die buitekamer of motorhuis waar jy ‘n klompie goed weg gestoor het en al daarvan vergeet het. As jy genoeg moed bymekaar skraap en die stoor reg pak, dan vind jy as te ware ou goed, maar dit voel soos nuwes. 

So het ek gevoel toe ek die woordjie monergisme ontsyfer. Dit is nie ‘n onbekende woord vir my nie, want ek besoek al vir ‘n geruime tyd die webtuiste monergism.com. Dit is ‘n wonderlike bron van gratis gereformeerde literatuur. Die betekenis van monergisme is as volg: mono is een of alleen en ergos is werk. Dit is die alleen werk van die Heilige Gees. 

Dit staan teenoor synergisme, die saamwerk van die mens met die Heilige Gees. Met ander woorde, in die wyse waarop die Heilige Gees geloof en bekering in die hart van die mens bewerk is ‘n monergisme, ‘n alleen werking van die Heilige Gees. 

Hieroor skryf die apostel Paulus in sy eerste brief aan die gemeente in Korinte, hoofstuk 2. Hy verkondig Christus as die gekruisigde, nie met allerlei mooi menslike praatjies nie, maar in die krag van God. Hierdie wysheid is nie bekend vir die wêreld of vir die heersers van hierdie wêreld nie. Die Gees van God is nie die gees van die wêreld nie. En daarom sal die natuurlike mens geen ontvanklikheid hê vir die evangelie nie. Dit het duidelik geblyk in die Olimpiese spele se opening. 

Die geestelike mens egter, deur die werk van die Heilige Gees, beoordeel anders as die wêreld. Ons het die denkwyse van Christus ontvang. Daarom leef ons anders, dink ons anders, doen ons anders. Mag ons Here, deur die krag van die Heilige Gees, jou ook verras deur die ou denke, nuut te maak. 

Lourens (vdm) 

Heilsorde(3): Die wedergeboorte

(Last updated on Augustus 5th, 2024)

Skriflesing: Johannes 3:1-10; Rom 3:10-12; Joh 7:45-52; Joh 19:38-42 (Nikodemus) (1983)
Teksvers: Johannes 3:3

Miskien moet u weer dink oor die teks en dan eerlik vra of dit ‘n opdrag (imperatief), maw dat dit iets is wat jy moet doen… 

of 

…is dit net ‘n absolute waarheid waardeur jy moet kennis neem dat jy eintlik BAIE diep verlore is/was as daar geen die bo-natuurlike ingrype van God in jou lewe sou wees nie!! 

Jesus onderstreep in hierdie antwoord aan Nikodemus ons ONMAG as sondaars en daarteenoor Sy ALMAGTIGE vermoë om sondaars uit hul ellende te red. 

(Kyk elders in ons nuusbrief vir meer inligting oor die Heilsorde) 

Trane sal nie help nie

Skriflesing: Gen 25:19-34; 27:27-41 Heb 11:20; 12:14-17 (2020)
Teksvers: Hebreërs 12:14-17

DL 1 par 15 beskryf dit so: Verder toon die heilige Skrif hierdie ewige en onverdiende genade van ons uitverkiesing baie duidelik aan en verkondig dit nadruklik aan ons. Dit getuig bowendien dat nie alle mense uitverkies is nie, maar dat sommige nie uitverkies is nie of in die ewige uitverkiesing van God verbygegaan is. God het besluit om hulle, na sy volkome vrye, regverdige, onberispelike en onveranderlike welbehae, in die gemeenskaplike ellende te laat bly. Daarin het hulle hulleself deur hulle eie skuld gestort. God het immers besluit om nie aan hulle die saligmakend~ geloof én die genade van die bekering te gee nie. Om sy geregtigheid te openbaar, het God besluit om hierdie mense aan hulleself oor te laat, hulle onder sy regverdige oordeel te laat bly en om hulle nie alleen oor hulle ongeloof nie, maar ook oor al hulle ander sondes te veroordeel en ewig te straf. Dit is die besluit van die verwerping, wat God hoegenaamd nie tot bewerker van die sonde maak nie, want dit sou ‘n godslasterlike gedagte wees. Inteendeel, dit sê juis dat God ‘n gedugte, onberispelike en regverdige Regter is wat die sonde straf. 

Die Weg van Verlossing

Die Prediker is bekend daarvoor dat hy alles op die aarde op die proef gestel het, en bevind het dat alles ‘n gejaag is na wind. Tog is daar sekere dinge wat die Prediker erken wat ‘n misterie bly en kom sy oproep: “Soos jy nie weet wat die weg van die wind is, of hoe die gebeente in die skoot van ‘n swangere is nie, net so weet jy nie die werk van God wat alles doen nie.” Prediker 11:5 

Net so beskryf die Dordtse Leerreëls dat ons nie met nuuskierigheid moet probeer uitvind oor wat die dinge is wat God in sy almag beskik nie. Daar is sekere dinge in die lewe wat God se geheimenis bly. Dit leer die Skrif ons. Maar die Skrif maak ook duidelik aan ons ander dinge bekend wat ons mag en moet weet. 

Dit is in hierdie verband wat ons ondersoek instel na die weg van ons verlossing. Of die Heilsorde. Ons lees gereeld in die 10 gebooie hoe die Here sy volk gered het uit Egipte en hulle gelei het na die beloofde land. Die wyse waarop God sy volk red, word ook aan ons beskryf bv. deur die 10 plae. 

So kan ons ook die werk van God in ons eie lewe ken. Sommige van ons was in die Egipte van die sonde waaruit God ons gered het. Ander weer is kinders van die belofte wat oppad in die woestyn gebore is. Ander weer het die voorreg om nog altyd die beloofde land te ken. 

Die wonder van God se verlossing, is nie vir een van sy kinders minder merkwaardig maak nie. Hy red elkeen op presies dieselfde wyse nl, deur Jesus Christus sy geliefde Seun. Die verskil kom egter, waar op ons lewenspad ons bewus raak hiervan. Vir daardie man aan die kruis, was dit op sy sterfbed. Vir ‘n ander is dit ‘n ernstige siekbed of ‘n groot skrik in die lewe. 

Vir baie van ons was dit nog altyd deel van ons lewe. Miskien kan jy ook nie onthou wanneer jy “gered” is, jou dag en datum nie, omdat jy nog altyd in die Vaderhande behoue was. 

Kom reis saam met ons deur die weg van verlossing tydens die aanddiens, en ontdek weer hoe heerlik jou redding is. 

Lourens (vdm) 

« Older posts Newer posts »