Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 37 of 331

SABBAT, SABBATSJAAR EN JUBEL-(HERSTEL) JAAR 

SABBAT – Die Sabbat hou verband met God se skepping in 6 dae. God het die 7de dag as gereelde rusdag ingestel wat geheilig moet word (Eks 20:11). In Deut 5:15 lees ons dat die Sabbat ook verband hou met Israel se verlossing van hul slawebande in Egipte. Die Nuwe Testamentiese gelowiges heilig nie meer die Sabbat nie, omdat dit vervul is in Christus. Ons vier wel die rusdag (Sondag), synde die opstandingsdag van Jesus uit die dood. Sondag word as rusdag gevier aangesien ons as slawe van die sonde deur Jesus se kruisdood verlos is. 

SABBATSJAAR – Dit is al om die sewende jaar gevier en het ‘n jaar lank geduur. In hierdie jaar moes die hele land rus en onbewerk gelaat word. Soos die Sabbat aan God gewy is, is ook hierdie jaar in sy geheel aan God gewy. 

Die Sabbatsjaar is gevier tot eer van die Here (Lev 25:2 en 4). Soos daaglikse werk op die Sabbatdag gestaak moes word, so moes werk op die bewerkte lande en wingerde gestaak word. Deur die bewerkte lande en wingerde van menslike gebruik te onttrek, is die Sabbatsjaar aan God gewy deur die rus en herstel. Die Sabbatsjaar gee erkenning aan die feit dat God die werklike Eienaar van die grond is en daarop voorsien. 

Die Sabbatsjaar gaan egter ook oor skuldafskrywing van mede-Israeliete, vrygewigheid aan die armes, vrylating van mede-Israeliete wat slawe is en eerstelinge van alle vee wat aan God gewy moet word. Die eerstelinge van grootvee mag nie gebruik word vir werk nie en die eerstelinge van kleinvee geskeer word nie. As offers moes dit in die teenwoordigheid van die Here geëet word op die plek wat die Here aangewys het. (Deut 15:19-20). 

As Nuwe Testamentiese gelowiges moet ons blymoedig aan die behoeftes van armes voorsien deur ons diakonale bydraes. Dit gaan dus om die gelowige se verhouding met sy medemens asook ons verhouding met God wat ons as slawe van die sonde deur die kruisdood van Christus bevry het. 

Na 7 Sabbatsjare (49 jaar), moes die Hersteljaar in die 50e jaar deur Israel gevier word as ʼn rusjaar tot eer van God. Israel het gejubel omdat die Here hulle uit Egipte verlos het en in die beloofde land ingelei het. In wese gaan die Hersteljaar oor die lossingsreg en teruggee van eiendom aan die oorspronklike eienaar onder bepaalde voorskrifte. 

Eerstens gaan die Hersteljaar om Israel se verhouding met die Here. Tweedens gaan dit oor die gelowige se verhouding met sy medemens. Die streng voorskrifte aan Israel is nie meer op die Nuwe Testamentiese gelowiges van toepassing nie. 

Alles behoort aan die Here en ons is slegs rentmeesters van dit wat God aan ons gee. Ons moet jubel en juig in die Here se voorsienigheid en daarom moet ons met vreugde en dankbaarheid gee. 

As Christene moet ons jubel en juig oor Christus se verlossing van ons sondes en ons erfenis in die hemel. Daarom moet ons as gelowiges aan behoeftiges gee met blymoedige harte en vrygewige hande en moet ons wegdraai van die sonde en lewe tot heiligmaking. 

Kom ons lei ‘n jubel lewe tot eer van God. 

Oudl Gert Boshof 

Ten volle en altyd in God se diens!

Skriflesing: Lukas 17:1-10 (2020)
Teksvers: Lukas 17:10

1. Die slaaf in die gelykenis kry nie ‘n ruskans nie. En jy, Gelowige? 

Die slaaf moet ná ‘n dag se werk, steeds werk. Onregverdig? Gun ons Here ons ‘n ruskans? 

2. Werk sonder ruskans en sonder loon, slaaf van Christus. 

Soos die slaaf geen ruskans kry nie, is daar ook geen ruskans vir ons as gelowiges in ons diens aan Hom wat ons besit nie. Ons “geen ruskans” verskil egter radikaal van die slaaf se “geen ruskans”. 

3. Geen ruskans in my: 

denke, verhoudings, taalgebruik, gebedsgetrouheid, omgee, ens. nie. 

Vergifnis is nie Omkopery nie

Skriflesing: Genesis 32:1-31 (2020)
Teksvers: Genesis 32: 7-8; 19-20

Die Prediker leer ons omkoop geskenke bederf die mens se hart. Tog is daar ook ‘n wonderlike ervaring wat ‘n geskenk vergesel, ‘n gevoel van omgee en erkenning. 

Dit gaan nie altyd so seer oor die geskenk self nie, maar wat met die geskenk bedoel word. Jakob stuur geskenke vir sy broer vooruit, as hy na 20 jaar terugkeer na die beloofde land. Jakob se bedoeling is nie duidelik nie, hoewel hy self dink dat hierdie geskenk guns gaan wen by sy broer. 

Esau is verbaas oor al die geskenke en vra reguit wat die bedoeling is, want ‘n mens kan nie iemand omkoop om jou te vergewe nie. 

Jubel ook met jou kerklike bydrae in 2025

Ons kerklike bydrae is in alle opsigte ’n dankoffer aan God. Uit dankbaarheid teenoor die Here vir Sy genade wil ons die eerste deel van alle inkomste aan Hom van harte en gewillig gee (2 Kor. 8,9). Ons gee met blymoedigheid, as teken vir die opregtheid van ons liefde en nie uit dwang nie. Ons gee omdat alles wat ons is en het aan die Here behoort en Hy vir ons Sy gawes gee om te gebruik (Ps.24:1; Pred.5:17-18). 

Praktiese oorwegings: 

  • Jou bydrae moet eerste en eers afgedra word voordat jou persoonlike begroting in werking gestel word met die oog op die maand wat voorlê (Lev 23:14 en Lev 14:23). Dit lê op die gewete van elke gelowige of jy wil bydra uit jou inkomste voor belasting of na belasting. Bereken wel jou bydrae, voor enige ander uitgawes soos huis-, motor-paaiement, kruideniers- en klere-aankope, kredietkaartrekening en brandstof. 
  • Swak finansiële bestuur, spandabelrigheid, suinigheid en selfsug moet jou nie verhinder om gereelde bydraes te gee nie. 
  • Alhoewel ons in die perspektief van die Nuwe-Testamentiese vryheid leef, is daar nie werklik getuienis in die Skrif wat sê dat dit nie ’n tiende moet wees nie! Ons laat ons in ons heiligmaking en praktiese etiese lewe tog lei deur die gees van die Wet

Ten diepste bly die gee van ’n keurige kerklike bydrae ’n saak van die geloof en die gewete (Maleagi 3:10). As jy gemaklik sonder die geld kan klaarkom wat jy as ‘n bydrae aanbied, moet jy dalk weer besin oor die keurigheid daarvan! 

Ten slotte: “…God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.” (2 Kor. 9:8) 

Oudl Drikus van der Walt 

« Older posts Newer posts »