Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 36 of 344

CHRISTUS SAAI IN TRANE ONS OES IN VREUGDE

Skriflesing: Psalm 126; Johannes 14:1-4 (1983)
Teksvers: Ps 126:5,6

‘n Saaier saai. Hierdie saaier werk in die woestynland. Dis dor en droog, die Suidland, woestynland. 

So het Jesus gesaai op die aarde wat dor en droog was weens die sonde. So was sy trane die van geweldige lyde onder die toorn en oordeel en vloek van God, maar met die vrugbare reëns wat in die wintertyd val, lewer die betraande saad weer ‘n ryke oes wat vreugde en blydskap bring. 

Is Jesus se trane ook ‘n rede tot vreugde vir jou? Hy het immers ook vir u gely! 

Jerusalem daarbo is vry

Skriflesing: Galasiërs 4:21-5:1 (1953); Galasiërs 5:1 (1983); Openbaring 21:1-3; Psalm 87
Teksvers: Galasiërs 4:26; 5:1

Paulus se doring in die vlees was waarskynlik die Jode wat alles wat hy met sy sendingwerk opgebou het weer probeer afbreek het. Hulle wou die mense net weer aan die wet van Moses verslaaf en hulle van hulle nuwe vryheid beroof. 

Vandag bekyk ons die figuurlike verstaan van ware en vrye kerk-wees deur die beeld van “Jerusalem daarbo”. 

En dan kom die oproep van Paulus in Gal 5:2 – “Moet julle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie”. 

JUBEL SAAM IN GELOOF & LIEFDE

 (Matt 22:39; Rom 12:10; Ef 4;1; Tess 5:1; Pet 4:10)

 ‘n Jubeljaar/Hersteljaar vir die volk. Vreugde oor skulde afgeskryf en opnuut blydskap oor God se genade en voorsiening! Hy kom en herstel in Christus ons verhouding met Hom, Christus was ons skoon van ons sondeskuld. Die Jubeljaar beeld uit God se genade en ons kan ook daarin deel! 

Hy herstel ook die verhoudinge tussen mense. Hy bring versoening deur Sy Gees wat harte verander, herskep en bekering meebring. Vrymoedigheid in belydenis, vrymoedigheid in geloofsgemeenskap. Hy gebruik ons om in hierdie donker wêreld lig en sout te wees! 

Beleef jy hierdie herstelde verhoudinge? Vind jy vreugde in jou gesin, familie en onder mekaar as medegelowiges? Of is daar seer, ‘n huiwerende gemoed vir saam te kom, ‘n selfsug dat ek op my eie regkom? Kom jy na die erediens net om te ontvang en nie om diensbaar te wees nie? 

Ek skiet tekort in meeste van my verhoudinge. Maar nou kan ons hierdie introspeksie/herstel/“reset” gebruik om weer ‘n stap te neem om saam weer hande te vat, geloofs- en liefdesbande te smee en weer as geloofsfamilie mekaar te bedien. Dit begin by die huis en by ons as gemeente! 

Oudl Fred Reynecke 

Hy vir wie baie vergewe is, het baie lief, maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief

Skriflesing: Lukas 7:36 – 50 (2020)
Teksvers: Lukas 7:47

Jesus maak hier ‘n noue verbintenis tussen vergifnis en liefde. Hierdie gedeelte vertel van ‘n vrou wat moontlik ‘n slegte lewe gelei het, en deur Jesus verseker is dat al haar sondes vergewe is. 

Die besef van haar baie sondes, het haar gedring om vir Jesus liefde te betoon en dankie te sê. Sy het nie aan die gebruike en voorskrifte van die Fariseërs gedink nie. Sy het haar besef van vergifnis, in liefdesdade laat oorgegaan. Daarom het sy met haar trane en salf Jesus se voete gewas en met haar hare droog gemaak. 

Wat word in jou lewe sigbaar as jy aan al jou sondes dink wat volkome deur Jesus Christus vergewe is? Kom ons dink ‘n bietjie na oor ons liefde vir die Here en vir mede-gelowiges. Onvergewensgesindheid lei tot liefdeloosheid of ’n gebrekkige behoefte om die Here en my naaste onvoorwaardelik en met oorgawe lief te hê. 

Helderheid oor God se plan vir my lewe

Skriflesing: Eksodus 19:1-11 (2020)
Teksvers: Eksodus 19:4

1. Insig in die beslissende oorwinning 

Israel het self die saakmakende oorwinning oor Egipte gesien. Israel is nie meer slawe nie. Ken jy jou vryheid volgens God se plan, gelowige? 

2. Helderheid oor versorging 

Israel ontvang ‘n goddelike perspektief op die pad vol worstelinge deur die woestyn. Ken ek hierdie goddelike perspektief? 

3. Duidelikheid oor die sentrum van God se plan 

Die kern van God se plan vir Israel was nie die verlossing uit die mag van Egipte nie. Hy het hulle na Homself gebring. Het ek helderheid oor die kern van God se plan vir my? 

« Older posts Newer posts »