Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 33 of 344

 Wysheid kom van God

 “Maar die wysheid, waar word dié gevind, waar is die woonplek van die insig? Die mens ken nie die waarde daarvan nie, en dit word nie in die land van die lewendes gevind nie. Die diep waters sê: ‘Dit is nie in my nie’ die see sê: ‘By mý is dit nie!’ Goud kan dit nie koop nie, sy waarde kan nie in silwer afgeweeg word nie.” (Job 28:12-15). 

“En Hy het vir die mens gesê: Om die Here te dien, dit is wysheid, om die kwaad te vermy, dit is insig.” (Job 28:28). 

In hierdie tyd van oorweldigende nood waarin baie van ons, ons tans bevind, raak dit absoluut noodsaaklik om met die nodige wysheid en insig besluite te neem wat soms wyer as net onsself strek. Dan kom die vraag soms, maar waar kry ons dan wysheid en hoekom voel dit of daar so min daarvan is as ons so om ons kyk? 

Die woorde van Gesang 252 som dit so mooi op; 

O HEER, my God, by U is wysheid 

wat by die mense dwaasheid heet – 

dié mense wat in eie wysheid 

steeds dink dat hulle alles weet. 

Volmaak is alles uit u hande, 

u kennis het geen perke nie. 

Die mens, gebind deur sondebande, 

verbly hom in u werke nie. 

In ‘n tyd waar tegnologie so gevorderd is en ons al die inligting moontlik, op ons vinger punte tot ons beskikking het, dink maar net aan Google, Sirri en ChatGPT, is ons steeds in ons menslike swakheid, nie in staat om die wêreld se “groter probleme” op te los nie, ons dink aan die oorloë, of dreigende oorloë, plaasmoorde, armoede, water tekorte, steeds kan al die kennis wat ons het nie al hierdie krisisse oplos nie. 

Waar vind ‘n mens dan wysheid? Ware wysheid kom slegs van God, dit is ook nie iets nie, dit is iemand en ons vind dit in ons Here Jesus Christus deur die krag van die Heilige Gees, deur Sy Woord en in Gebed. 

Kom ons bid saam, ook in hierdie Jubeljaar dat God ons sal seën met wysheid, want blote kennis gaan ons nie kan red. 

Oudl Petri Pienaar 

Die ewige lewe is die moeite werd

Skriflesing: Handelinge 13:13-52 (2020)
Teksvers: Handelinge 13: 46-48

Die apostel Paulus is, gelei deur die Heilige Gees saam met Barnabas op die eerste sendingreis. 

Nadat hulle Ciprus besoek het, vaar hulle terug na die vasteland, en van Perge loop hulle deur die Taurus- berge tot by Antiogië in Pisidië. Hulle verkondig kragtig die evangelie, en die hongerige harte van die mense begeer om nog te hoor. Maar die volgende Sabbat, as die hele stad kom om die evangelie te hoor, is die harte van die Jode vol onguns. 

Is die ewige lewe tog die moeite werd? 

Sien jy die Lam van God?

Skriflesing: Joh 1:19-34; Heb 12:1-3; Op 5:1-7; Job 42:5 (1983)
Teksvers: Johannes 1:29

Die Here leer ons in sy Woord om anders na dinge te kyk. Anders kyk is ook anders dink en doen. In ons eie gedagtes is ons mos tot alles in staat, maar in die oë van die Here net nog verlore sondaars! 

Hy roep ons op om die wonder van sy genade nie mis te kyk nie. Die Man van Nasaret, die seun van die timmerman, die mens Jesus, is die Een wat in staat is om die onmoontlike te doen. Om versoening tussen die heilige God en mense te bewerk. 

En die eenvoudige tekens van die Nagmaal stel u vandag weer in staat om Hom en sy versoeningswerk raak te kyk/sien: Die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. 

 VIER HIERDIE JAAR EN ELKE JAAR ‘n JUBELJAAR

 Ons Jubeljaar of eerder jubellewe begin by die Here. Hy seën ons met ʼn nuwe lewe van oorvloed. Ons deel reeds, en sal eendag in volmaaktheid, deel in sy ewige lewe. Ons jubel nie net elke 50 jaar nie, maar elke dag. Vir ons as verlostes is dit hierdie jaar en elke jaar ʼn jubeljaar. Ons lees van die belangrikheid van rus: 

“So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê” (Jesaja 30:15). 

In ʼn jubellewe kom ons die Here se voorskrifte na en gehoorsaam sy bepalings. Die belofte is: “As julle dit doen, sal julle sonder sorge in die land kan woon” (Lev 25:18). Die aarde en alles daarop behoort aan die Here. ʼn Jubellewe is alles wat ek is en het, en is deur die Here aan my geleen. 

Ons moet dus vir Hom alles gee wat Hy van ons vra. Ons moet gereeld bid dat die Here ons lewe sal verander sodat Hy meer word en ons minder en dat ons meer aan Hom toegewyd sal wees. 

Jubeljaar (Louis Brittz se lied) 

Ons kies die kruispad met ʼn glimlag 
Losgekoop, getuig ons van die kruis 
Jesus, gee sy jubelgees, dat ons al meer soos Hy kan wees. 
Die grond waarop ons voete loop, sal bewe, 
Sal vrugdra want die kruis bring lewe 
Die jubeljaar-belofte bly, skud jou kettings af, jy’s vry 
Kyk, kyk die Koning het gekom om te sê 
Hy bring die jubeljaar. 

Daar’s hoop, hope hoop, ons kan maar droom. “Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want Hy is getrou: Hy doen wat Hy beloof het” (Heb 10:23). 

Daar’s vreugde in die jubeljaar. 

Dis hierdie jaar en elke jaar, ʼn jubel, jubel, jubel, ʼn jubeljaar… 

Is dit ook waar van jou lewe? 

Oudl Ben Erasmus 

« Older posts Newer posts »