Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 32 of 331

Kenmerke van ‘n Christelike lewe

Hoe verskil die lewe van ‘n Christen teenoor ‘n nie-Christen? Beleef ons as Christene nie ook maar teenspoed of swaarkry nie? Word ons nie ook maar siek nie? Of beleef ons as Christene nie enige finansiële druk nie? Net soos enige iemand anders, of dalk selfs meer, juis omdat ons Christene is, beleef ons ook moeite, swaarkry en verdriet. 

Paulus bid vir die gemeentes van Kolossense en Tessalonisense: 

Kolossense 1:3-5: “Elke keer wanneer ons vir julle bid, dank ons God, die Vader van ons Here Jesus Christus. Dit doen ons, want ons het gehoor van julle geloof in Christus Jesus, en die liefde wat julle vir al die heiliges het, op grond van die hoop wat in die hemel op julle wag.” 

1 Tessalonisense 1:2-3: “Ons dank God altyd oor julle almal wanneer ons aan julle dink in ons gebede. Voor God ons Vader onthou ons onophoudelik die uitwerking van julle geloof, die moeitevolle inspanning van julle liefde, en die standvastigheid van julle hoop op ons Here Jesus Christus.” 

Paulus bid nie: “ons dank die Here omdat ons gehoor het hoe goed dit met julle gaan en hoeveel voorspoed julle beleef”, nee, Paulus dank God omdat die Christene se lewens gekenmerk word deur geloof, hoop en liefde. 

Gaan dus hierdie week in met ‘n diepe geloof in ons Koning en Verlosser Jesus Christus, en met standvastige hoop op al God se beloftes en ‘n onvoorwaardelike liefde aan God, aan ons naastes en aan alle mense. 

Oudl Eric Guldemond 

Die oopgestaande Jesus vergesel sy volgelinge op hulle lewenspad

Skriflesing: Lukas 24: 13-35 (2020)
Teksvers: Lukas 24: 24: 25

Hoofpunte: 

1. Jesus se verskyning. 
2. Jesus se onderrig. 
3. Die gelowige se blye reaksie. 

“’n Paar van ons het na die graf gegaan en dit net so aangetref soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.” Toe sê Hy vir hulle: “O, julle wat so sonder begrip is, met harte wat traag is om alles te glo wat die profete gesê het! “ 

Lukas 24: 24: 25 

Kan die Verlosser Homself Red?

Skriflesing: Matteus 27:32-54; Psalm 22:1-12 (2020) 
Teksvers: Matteus 27: 42-43 

As die Verlosser Homself nie kan red nie, hoe sal Hy jou kan red? As Hy van die kruis kan afkom, en Homself kan red van die dood, sal dit tog baie rede gee vir mense om in Hom te glo! 

So is daar in die wêreld baie mense wat op hulle eie voorwaardes sal glo. Dit is egter nie die mens nie, maar God wat die voorwaardes van verlossing stel. 

Ons staan vanoggend stil by hierdie skynbare teenstelling, waarom Jesus Homself nie red nie. 

Psalms

In hierdie jubeljaar het ons die voorreg om Psalms te sing. 

Hierdie is aanhalings uit: “Ek sing ‘n lofsang by my snare” (Psalms as lied in die Erediens) deur T.G. van Wyk. Die Griekse woord “psalmos” beteken ‘n lied wat met begeleiding van snarespel gesing word. Volgens sekere verklaarders is dit ook die betekenis van die Hebreeuse woord “mizmoor” wat in die opskrif van 57 Psalms voorkom en inderdaad in Afrikaans met “psalm” vertaal is. 

Wat gebied die Skrif? 

Luister wat sê Ps. 47:7,8: “Psalmsing tot eer van God, psalmsing! Psalmsing tot eer van ons Koning, psalmsing! … ” 

Ps. 81: (Dit is die Verbond Psalm) Vers 3: “Hef aan ‘n lied…” (In die State-Bybel word in die plek van lied, Psalm gebruik) Vers 5: “…want dit is ‘n insetting vir Israel“. 23 Ps. 105:2: “Sing, psalmsing tot sy eer.” 25 Ps. 147:7: “Sing ‘n danklied tot eer van die Here, psalmsing tot eer van onse God, met die siter“. 

Jakobus 5:13: “Is daar iemand onder julle wat ly? Laat hom bid. Is iemand opgeruimd? Laat hom Psalmsing“. 

1 Kor 14:15: “Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing.” 

Ef. 5:19: “Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here“. 

Kol. 3:16: “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here“. 

Laat ons dan in hierdie Jubeljaar in gehoorsaamheid en dankbaarheid saam met ons geliefde mede-broeders en -susters psalmsing tot eer van Sy Naam 

Oudl Leon Lourens 

« Older posts Newer posts »