Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 213 of 332

SONDAG, DIE DAG VAN DIE HERE – ‘n RUSDAG, ‘n FEESDAG

Skriflesing: Eks 20:8-11; Psalm 92
Teksvers: Ps 92:1,2,14 (Eksodus 20:8-11)
HK Sondag 38

Die Sabbatsgebod reël die mens se weeklikse roetine. Ses dae werk en een dag rus. So was dit van die begin af. Ja, selfs voor die gee van die Tien Gebooie was dit reeds die reël! (Eksodus 16 – die sewende dag was daar geen manna nie).

Die mens wat as die beeld van God gemaak is, ontvang dus hierdie reël van sy God. Op die sewende dag het God sy werk voltooi deur te rus. Die rus was die kersie op die koek! God laat Hom nie rusteloos voortjaag nie. Hy wil ook dat die mens in ‘n bepaalde roetine kom, en so nie ‘n slaaf van die dolle gejaag van die tyd word nie.

Het jy nog tyd vir die Here? Die Sondag wat in die plek van die Sabbat gekom het, is juis die dag waarop jy en ek kan rus, weer tot verhaal kan kom, om na te dink en weer van Hom te leer hoe ons Hom in die week moet dien!

Laai af

Die Kerk ook Gereformeerde kerke moet altyd reformeer

“Ecclesia reformata semper reformanda”

Skriflesing: 2 Kon 17:1-41
Teksvers: 2 Kon 17:2,13,27,28,34,37,3

Hervorming is ‘n blywende opdrag. Reformeer terug na die Skrif toe, bly ‘n noodsaaklikheid. Nogtans leef ons in veranderde omstandighede, met nuwe uitdagings, met mense wat nuut dink en doen, daarom moet die kerk die mens van die dag bedien. Maar God en die Skrifwaarhede verander nie. Om met die tyd by te bly en God nog steeds opreg en eerlik te dien, is ‘n geweldige uitdaging. Daarom mag die kerk nie verwater nie. Daarom moet die kerk reformerend, relevant bly in ons tyd. Dit beteken nie dat ons reformasie altyd net moet sien as terugkeer na ou tradisies en gebruike van die verlede nie, maar dat ons moet aanpas in ‘n moderne tyd, maar nogtans die Skrif, belydenis en Kerkorde moet gebruik om God opreg en eerlik te aanbid soos wat Hy in sy Woord van ons vra.

Mag ons die wysheid altyd van God kry om ware kerk te bly!

Laai af

DIE HERE SORG!

Ek herinner my presies ‘n jaar gelede hoe ons in die beplanning van die jaarkalender vir 2020 gesoek het vir die regte jaartema. Na verskeie pogings en oorwegings het een van ons die mense se vrese oor die toekoms aangespreek en het ons tot bemoediging van die gemeente besluit die tema sal wees:

Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg- Ps 37:5.

Die besondere van hierdie besluit is dat nie een van ons daardie aand in die konsistorie geweet het wat rêrig in 2020 op ons wag nie!! En dit is presies die waarheid. Hy weet wat ons nie weet nie, en Hy lei ons ook in ons gedagtes ter voorbereiding.

Kyk ons dus terug op die jaar en dan na die jaartema van 2020, is dit aangrypend mooi om te weet dat Hy lankal besig was om ons voor te berei en te herinner dat Hy in beheer is van die toekoms. So lees ons in Deut 31:8 dat die Here ons vooruitgaan en by ons is. So stel Jes 52:12 dat die Here voor ons uit gaan en agter ons aan kom. So leer ons dat die goeie Herder ons lei. En Jesus self verklaar : “Ek is met julle al die dae…” (Mt28).

En hoe het ons dit nie ervaar nie. Ja, sommige van ons het baie verloor en seergekry. En tog sorg die Here. Hy het ons gedra deur die pandemie en sy nare gevolge. Op persoonlike vlak ons gedra. Op kerklike vlak ons soos ‘n herder versorg. Hy sal ons ook verder dra en versorg soos ‘n Herder en Vader, en soos net die Here alleen kan.

Dit laat mens opnuut weer dink aan Mary Stevenson se pragtige gedig: Voetspore

Ds Maarten

~Voetspore gedig~ Mary Stevenson

Een nag het ek ’n droom gehad. Ek het gedroom dat ek op die strand loop en gebeure uit my verlede het voor my afgespeel. In elke toneel het ek twee rye voetspore in die sand gesien: myne en die Here Jesus s’n. Toe die laaste toneel voor my afspeel‚ het ek teruggekyk na die voetspore in die sand en merk toe op dat daar soms net een ry spore was. Dit was telkens gedurende die eensaamste en droewig-ste tye in my lewe! Dit het my gehinder en ek het gevra: “Here‚ toe ek begin het om U te volg‚ het U beloof dat U my nooit in die steek sal laat nie. Hoekom was daar dan net een ry spore gedurende daardie moeilike tye in my lewe? Ek kan nie verstaan waarom U‚ in die tye wat ek dit die nodigste gehad het‚ my verlaat het nie.” Die Here het geantwoord: “My liewe kind! Ek het jou lief en sal jou nooit verlaat nie. Die tye wat jy net een ry spore gesien het was die tye toe Ek jou gedra het.”

Jou woord is jou eed

Skriflesing: Matt 5:33-37; 23:16-22
Teksvers: Matteus 5:37
HK Sondag 37

In die derde gebod is dit baie duidelik waar dit gaan om die Naam van God dat ons in geen opsig dit ligtelik moet opneem nie. Want aan die Naam van God word sy eer gekoppel en is heilig omdat dit sy wese voorstel. Daarin is die miskenning van God se Naam en die misbruik ‘n belangrike saak wat ons nie mag ignoreer nie. God wil dat ons sy Naam nie misbruik nie maar wel dat ons Hom reg aanroep!

Wat het eedswering dan met die Naam en die regte gebruik van die Naam van die HERE te doen? Om te sweer of ‘n eed af te lê beteken om ‘n verbond aan te gaan of dan ‘n kontrak, ‘n belofte. Met hierdie verbond stel jy as persoon die waarheid bo alle dinge. Omdat geen mens in jou hart kan sien of dit wat jy sê die waarheid is of nie, word daar gewoonlik dan op God beroep om as getuie te dien.

Ons staan vanaand stil by die bergrede waarin ons Here Jesus ons leer dat ons woord ons eed is.

Laai af

God sien alles

Skriflesing: Gen 30: 25-43; Gen 31 :1-17,41,42; Heb 11: 21; Psalm 121:1-5 (1Pet4:19)
Teksvers: Hebreërs 11:21(Gen 47:31)

Ai, die arme ou Jakob darem. Hy het vir homself soveel moeilikhede op die hals gehaal. Sy eie planne skelmstreke het hom niks anders as stres en sorge besorg nie en vir sy huisgesin nie goed gedoen nie. Die onreg van die skelmstreke teenoor hom gepleeg het dit nie juis makliker gemaak nie. Ons hoor dat die twintig jaar vir Laban vir hom tog ook moeilike tye was. Die teksgedeelte leer ons egter dat geen onreg teenoor hom gepleeg ooit God se oog ontgaan het nie. En vir God se kinders in die wêreld van onreg en korrupsie geld dit as ‘n troosvolle boodskap.

Nota: In Gen 47:31 lees ons dat Jakob in aanbidding buig oor die koppenent van sy bed., terwyl Heb 11 meld dat hy aanbid oor die knop van sy staf. Die verskil kom in Hebreërs wat aanhaal uit die LXX wat ’n ander lesing het as die MT van die Ou Testament. Die stamwoord is dieselfde, die klinkers verskil. (matê = staf en mitah = bed). Dit maak aan die wese van die saak geen verskil nie. In beide lesings gaan dit immers daaroor dat Jakob aan die einde van sy lewe/ in sy ouderdom ’n dankbare aanbiddende houding in onderwerping aan die wil van God ingeneem het.

Laai af

« Older posts Newer posts »