Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 214 of 332

Die dringende vervulling van die Heilige Gees

Ons wat in Suid Afrika bly, besef die water-nood van Suid Afrika. Ons besef en weet as dit nie reën nie, dan is daar nie lewe nie. Plante, mense en diere gaan dood. Kyk maar na die onlangse droogtejare in die Kaap met die dreiging van “dag zero”, as daar geen water sou wees nie. So het ons bewus geraak van bv Theewaterskloofdam, wat Kaapstad direk van water voorsien. In 2018 het die dam net 12% water gehad. Nou loop hy oor.

Maar besef ons die geestelike nood wat daar in ons land is. Die probleem is dat die meeste mense nie eers weet dat hulle ’n geestelike nood het nie. Ja ook sommige Christene besef nie eers dat hulle geestelike nood het nie. Want soos wat ons elke jaar opkyk vir reën en bid vir reën, so kyk ons nie op na God vir hulp nie. As ons nie biddend en in afhanklikheid opkyk na die God vir reën, geestelike reën, vervulling met die Heilige Gees nie, gaan ons weens ’n geestelike droogte al meer agteruit.

God het ’n verbond met ons gesluit dat Hy altyd vir sy kinders sal sorg. Dit is so waar, maar Hy het ook beveel dat ons vir Hom ’n volk moet wees. God wil hê ons moet biddend voor Hom buig en ook ons geestelike dam biddend, afhanklik, vertrouend op Hom, self ook vul.

Hoe vul ons ons geestelike dam? Ons doen dit deur te dors na die lewende water? Lees: Joh 4:10,11; Joh 7:38

Vervulling met die Heilige Gees is veral baie nodig namate die oordeelsdag nader kom. Die dringende dors moet al meer daar wees om staande te kan bly teen die Satan wat dringend anargie, wetteloosheid en ongeloof wil bewerk. Maar as ons vol is van die Woord en die Gees, is daar niks wat ons sal kan skei van die liefde van Jesus Christus nie. Dan is ons in staat om oor te loop en uit te deel en soos reënwater die land te benat. Dan sal ons ‘n lig en ‘n sout in ons land wees, wat die geestelike dors sal les tot eer van God.

Vul jou geestelike dam elke dag deur gebed en Bybellees!

Ds. Gerrit

Die mooiste Naam!

Skriflesing: Eks 20:7; Lev 24:10-16
Teksvers:  Lev 24:15,16

Ons ken iemand by die naam. As ons praat van Karel of Sarel of Anika of Leonette, weet ons van wie ons praat. As ek praat van die man of die vrou, weet niemand van wie ons praat nie, tensy ons dit binne ‘n bepaalde konteks of storie gebruik.

Maar God, is wat Hy is. God is nie ‘n bietjie so en ‘n bietjie so nie. God is volmaak en volkome wat Hy is. Daarom openbaar God Hom aan ons in die Woord eerstens net as God, “Ek is wat Ek is” Eksodus 3:14.

Daarna openbaar God homself met baie name, maar elkeen is volledig God self. Daarom moet ons God “ken” deur sy Naam met eerbied en respek en liefde te gebruik en nie te verswyg of te misbruik nie.

Erken God daarom deur sy Naam te gebruik en te noem en van Hom te getuig!

Laai af

« Older posts Newer posts »