Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Preke (Page 69 of 192)

Die koninkryk van die hemel het naby gekom

Skriflesing: Mat 3:1-12 
Teksvers: Mat 3:2,8,11; Mat 4:17 
HK Sondag 48 

Beide Johannes en Jesus uiter die woorde: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” Wat bedoel Johannes en wat openbaar Jesus hierdeur? 

‘n Koninkryk veronderstel dat daar onderdane, grondgebied en ‘n koning is. ‘n Koninkryk veronderstel dat daar orde is. Hierdie koninkryk is so belangrik dat Jesus ons juis geleer het om te bid en te vra daarvoor: 

“Laat U koninkryk kom!” 

Ons gaan na drie sake kyk… 

  • Wat is die koninkryk? v2 
  • Die eise van die koninkryk! v8 
  • Die troos van die koninkryk! v11 

Aan ‘n nageslag gee God die Land

Skriflesing: Genesis 15; 17
Teksvers: Genesis 15: 6, 17, 18

Abram het geglo en die HERE het hom dit tot geregtigheid gereken. Die HERE het aan Abram die reg toegereken om sy kind te wees, deur sy onwrikbare geloof. Daarby staan twee beloftes sentraal: ‘n nageslag en ‘n land. Die HERE leer ons dat ‘n toekoms vol hoop nie sonder grond en kinders moontlik is nie. As jy nie ‘n nageslag het nie, sterf jy uit, en as jy ‘n nageslag het, moet hulle tog behoort. Hulle moet ‘n plek hê om te bestaan.

So sluit die HERE met Abram ‘n verbond en gee aan hom en sy vrou nuwe name. Abraham, die vader van menigte. In Abraham, dit is deur die geloof, kom die seën van die HERE deur sy vrou Sara. So word vervul wat ook aan Eva beloof is, die vooruitsig van ‘n Verlosser.

Die Heilige God maak ons heilig sodat sy naam geroem word

Skriflesing: 1 Petrus 1:13-21
Teksvers: 1 Petrus 1:14-17
HK Sondag 47

Waarom leer ons Here Jesus ons om die eerste bede te
bid? Besef ons wat ons bid as ons vra dat die Here se
naam geheilig word?

Ons kan nie ons Vader in die hemel se Naam heilig maak
deur ons optrede nie. Ons verander nie Sy heiligheid nie.
Ons bid egter dat daar verandering by ons sal plaasvind.
Ons bid dat God ons sal lei in ons optrede sodat ons daardeur
sy Naam sal grootmaak.

Ons fokus is vanaand baie spesifiek oor dit waarvoor ons
bid as ons vir die Here vra om hierdie verandering by ons te
bring.

Kyk saam met God na sy reënboog in die wolke

Skriflesing: Gen 9:1-17; 2 Pet 3:3-9; Hooglied 8:6,7 (1953); Jes 54:9-11; 1 Kor 3:9-15
Teksvers: Genesis 9:8-17

Tydens u voorbereiding kan u ‘n bietjie nadink oor die wonderlike
reënboog. Ouers, kan u asseblief indringend met jul
kinders praat oor die wonder van die reënboog: hoe dit
ontstaan na die reën, die verskeidenheid kleure en die
betekenis daarvan by Noag, nl. die belofte dat daar NOOIT
weer so ‘n verskriklike waterramp op aarde sal wees nie. Ja,
so het die Here in sy trou gesweer (belowe) en sal dit nooit
verbreek nie.

En onthou daarby dat jy, nes Noag en die ark, by die Doop
self ook deur die water heen gespaar is… in ‘n heilige
VERBOND wat die Here self reeds ook met jou (deur water)
gesluit het!

Kinders van God, roep Hom gerus aan as ‘ons Vader’!

Skriflesing: Jesaja 63:16; Matteus 6:5-13; 1 Johannes 3:1,2
Teksvers: I Johannes 3:1a
HK Sondag 46

Dit is opvallend dat alhoemeer mense die gebruik van God se eiename vermy. Dan hoor ons hulle “van” God praat as die Opperwese of Die Een Daarbo of soortgelyke terme. Dit getuig natuurlik dat so ‘n mens God nie meer persoonlik ken en waarskynlik nie meer gereeld aanroep nie.

So was dit ook al in Jesus se tyd dat mense bang was om “met” die heilige God te praat. Nog minder was dit gepas om “God as Vader” aan te spreek! Jesus leer ons egter om op ‘n persoonlike en intieme wyse met die Here self te praat. Ja, jy mag sy vader aanroep as jou Vader!

‘n Ewige Verlosser aan ‘n moeder beloof

Skriflesing: Genesis 3:1-24
Teksvers: Genesis 3:15

Van kleins af leer ken ons die woorde van Genesis 3:15 as die moederbelofte. Dit is die grootste en die eerste belofte aan die mens na die sondeval. 

Dit is tog vreemd dat die belofte nie aan Adam, die mens nie, maar sy vrou mannin gemaak word. Dit is ʼn belofte aan ‘n moeder, wat nog nie ‘n moeder is nie. ‘n Ewige belofte. Uit die nageslag van die vrou, sal die Verlosser kom wat die slang se kop vermorsel. 

Daarom hernoem die mens sy vrou. Mannin kry ‘n nuwe naam, Eva, met die oog op die belofte van lewe. Ons staan vandag stil by die fondament van God se verbondsgemeenskap met die oog op die nagmaal. 

« Older posts Newer posts »