Om nie ‘n huis te hê nie, is glad nie lekker nie. Daar is oor die wêreld miljoene mense wat nie ‘n huis het nie.
Almal probeer tog om vir hulleself ‘n skuiling te maak of ‘n veilige plekkie waar hulle beskerm word teen die elemente van die natuur. Maar as jy hierdie huis of skuiling op die verkeerde plek bou, kan dit jou duur te staan kom. So is daar in Centurion baie huise wat sommer net wegsak in die grond, want die fondamente is nie goed.
Op hierdie manier verduidelik Jesus dat ons ook ons geestelike lewe op die vaste fondament moet bou en nie op sandkastele nie.
Maandag 23 April 2023 Lees: 1 Petr 4:7-11 7 “Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid. 8 Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes. 9 Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla. 10 As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ‘n genadegawe ontvang het, die ander dien. 11 As iemand die gawe ontvang het om te preek, moet God deur hom aan die woord kom; as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien met die krag wat God verleen. So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid! Amen.”
Ons lees in vers 7: “Die einde van alles is naby…” Die christene van die vroeë kerk het verwag dat die Jesus in hulle leeftyd, weer sal terugkom aarde toe. Maar die presiese tyd weet niemand nie net die Vader in die hemel. Ons lees in Mat 24:36 “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.” Maar alhoewel ons nie die presiese dag en datum en tyd van Jesus se wederkoms weet nie, beteken dit nie dat ons nie voorbereid moet wees nie. Ons weet verseker dat Jesus Christus weer sal terugkom aarde toe met die wederkoms, wanneer die einde van die aarde aanbreek. Daarom moet ons in Verwagting leef.
Maar hierdie tyd waarin ons in verwagting leef, beteken nie dat ons maar kan terugsit en niks doen nie. Inteendeel ons lees van Paulus se harde werk onder die gemeente van Tessalonika in 2 Tes 3:6-18. Dit is om hierdie rede dat ons in verwagting moet leef, maar met ‘n voorbereidheid en dit terwyl ons mekaar dien.
Petrus gee hier tien opdragte van hoe ons moet leef terwyl ons wag op die wederkoms. 1 Wees nugter en selfbeheers. V7a Die Heilige Gees woon in jou en leef onder Sy leiding. 2 Bid gedurig. V7b 3 Wees hartlik lief. V8 4 Wees gasvry. V9 5 Gebruik jou geestelike-gawes om ander te dien. V10,11 6 Moenie verbaas wees oor swaarkry nie. v12 7 Verbly julle oor lyding namate die wederkoms nader kom. V13 8 Moet nie skaam wees oor lyding nie. V15,16 9 Verheerlik God. V16-18 10 Vertrou jou lewe toe aan God. V19
Hoe ons as christene moet optree namate die eindtyd naderkom is om in liefde mekaar te bedien. Ons moet so leef dat ander mense en gelowiges kan sien dat ons liefhet en omgee vir mekaar en vir alle mense. Ons opdrag is om opreg en eerlik en in liefde vir God en vir mekaar te leef.
Ware liefde is om mekaar se goeie punte raak te sien en daarop te fokus en dit te help uitbou. Moet nie iemand anders se swak punte raaksien en dit uitbuit, sodat dit hulle tot oneer strek nie. Werklike liefde is om mekaar te bedien met die liefde van God tot eer van God en tot voordeel van jou naaste. Dit is regtig harde werk, want as mense is ons dikwels geneig om die slegte in mekaar raak te sien en net oor die slegte te praat, te skinder en nie die goeie oor te praat nie.
Dien dus jou medemense met liefde en begrip en gasvryheid. Bid vir mekaar en wees lief vir mekaar. Namate die wederkoms nader kom gaan dit ook al hoe moeiliker raak op aarde, maar verbly jou in die Here, in jou verlossing in en deur Jesus Christus, want ons weet waarnatoe ons op pad is, na die ewige lewe by ons Hemelse Vader.
Kom ons bid saam Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com
Ons leer by die kategismus-leraar dat ons troos nodig het. Sy tweede vraag veronderstel dat ons sekere kennis nodig het wat ons sal troos.
Kennis wat swaarder weeg as die probleem van die gemors waarin ons weens die sonde beland het. Gewoonlik sal ‘n goeie gereformeerde dit opsom as kennis van sonde-verlossing-dankbaarheid…
Miskien is daar meer in die belydenis as net die drie woorde of dinge. Paulus skryf selfs dat ons ‘n metamorfose moet ondergaan!
Sommige mense voel hulle lewe lank verwerp en nie goed genoeg dat iemand hulle sal liefhê nie. Lea was so vrou. Jakob haar man, het 7 jaar lank gewerk vir haar pa Laban om met haar suster Ragel te trou, maar haar pa het haar, die ouer suster aan Jakob gegee. Maar dit was nie die vrou wat Jakob wou hê nie, daarom het hy nog 7 jaar gewerk vir Ragel.
In hierdie tragiese gebeure sien ons hoe twee susters veg om liefde. Ons staan vanmore stil by die kwartaal tema van die huisgesin waar Lea so ver gaan as om haar eie man, nogal eerlik vir liefdesappels te huur.
Eerste Petrus 4 en 5 handel oor God se genade in lyding. Petrus waarsku die christene, dat daar vurige vervolginge vir hulle voorlê. Onthou Nero het Rome aan die brand gesteek en die Christene beskuldig dat hulle Rome aan die brand gesteek het. Nou vervolg die Romeine die christene.
Maar wat het die lyding tot gevolg in ons lewens?
Lyding leer ons om ons sonde te bely en af te lê en ‘n rein lewe voor God te lewe. Wanneer die lewe gemaklik en sonder sorge is, kan dit maklik gebeur dat ‘n mens kommervry kan begin leef, in die sondige wêreldse verleidinge. Maar ons lees duidelik in Psalm 66:10 “U het ons beproef, o God, ons gelouter soos silwer:” ’83 vertaling “Want U het ons getoets, o God, U het ons gelouter soos ‘n mens silwer louter.” ’53 vertaling
Jesus Christus het aan die kruis in ons plek swaargekry en gesterf. Soos wat ons vir Christus lewe en teen die sonde en die duiwel stry en oorwin, leer ons om God al meer en meer lief te hê. Want om in Jesus Christus se voetspore te wandel, beteken dat ons deur Hom en nav sy versoeningsdood en die krag van die Heilige Gees die sonde al meer en meer aflê.
Dit is juis dat as ons lyding verduur as gevolg van ons christenskap, dat ons besef dat ons volgens en deur die wil van God wil lewe. Ons wil nie volgens menslike maatstawwe lewe nie, maar volgens die maatstawwe van God.
Die wêreld vind dit vreemd dat ons nie die sondige bestaan najaag nie. Die wêreldse dinge word aan ons voorgehou asof dit so mooi en maklik en lekker is. Ons kan maklik dink dat die norm is, om soos die wêreld te wees, waar ons net vir onsself leef, maar God vra dat ons moet leef tot sy eer en verheerliking.
Ons moet nie lyding en swaarkry sien as iets swaar en ongewoon nie. Ons as christene moet leef volgens die wil en die woord van God. As ons dan swaarkry omdat ons God se wil doen, maak dit ons nie bitter nie, maar maak dit ons dankbaar dat ons ter wille van God gely het.
Jesus Christus het ook aan die kruis gely as gevolg van ons sondes. Maar Jesus Christus het gewillig gely, sodat ons gered kon word. Liggaamlik kan ons lei en selfs sterf, maar geestelik is ons gered en sal ons ewig lewe.
Bid daarom in ons swaakry sodat die Heilige Gees ons sal krag gee, om sterk te staan in ons swaarkry. Bid sodat ons nie sal swig onder swaarkry nie, maar dat ons tot eer van God sal bly lewe.
Kom ons bid saam Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com
Maandag 17 April 2023 Lees: 1 Petr 3:19-20 “En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig. 20 Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net ‘n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur die water gered.”
Ek gebruik ruimskoots die verklaring en woorde van Dr. EP Groenewald in sy verklaring van 1ste Petrus in die Die Briewe van Petrus van 1985. Bron Groenewald EP 1985 Die briewe van Petrus p.66-69
“Hierdie twee verse in 1ste Petrus 3:19 en 20 is uiters moeilik om te verklaar, omdat byna elke woord in die griekse grondteks sy probleme oplewer…” sê Dr. Groenwald. Dit gaan oor die lewe en werk van Jesus Christus. (Groenewald. 1986:66-69)
Baie mense wil in die verklaring hiervoor ook 1ste Petrus 4:6 gebruik om dit te verklaar. 1 Pet 4:6 “Daarom is die evangelie immers ook verkondig aan dié wat nou dood is sodat, hoewel hulle as mense onder die oordeel was om na die liggaam te sterwe, hulle na die gees sou lewe soos God lewe.”
Maar die twee tekste handel nie oor dieselfde saak nie en elkeen moet dus afsonderlik in sy eie teksverband ondersoek en verklaar word. Dr. Groenewald verklaar hierdie twee verse aan die hand van vyf vrae wat hy vra. (Groenewald. 1986:66-69) 1 Wie is die prediker van vers 19? 2 Wanneer het Hy daar gepreek? 3 Wie is die geeste vir wie Hy gepreek het? 4 Wat is die gevangenis? 5 Wat was die inhoud van sy prediking?
Groenewald gee kort antwoorde op elke vraag:
1 Wie is die prediker van vers 19? Die antwoord op hierdie vraag is voor die hand liggend. Dit is Jesus Christus. Maar in watter gestalte of hoedanigheid het Hy gegaan om te preek? In die ’53 Afrikaanse vertaling staan daar in vers 19, korrek vertaal, “in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis,” Die 1983 vertaling verklaar dit direk met “En so het Hy, (Jesus Christus) na die geeste in die gevangenis gegaan…”
2 Wanneer het Hy daar gepreek? Het Jesus daar gaan preek voor sy opstanding of terwyl Hy in die graf was? Die vraag is dus wanneer en gaan nie nou oor die plek nie. Die gevolgtrekking waartoe Groenewald kom is … “dat die triomftog van Jesus wat met sy opstanding uit die dood begin, as sodanig ‘n verkondiging was aan die geeste in die gevangenis.” (Groenewald. 1986:68)
3 Wie is die geeste vir wie Hy gepreek het? Daar is verskeie verklarings hiervoor. Is dit bose geeste, is dit geeste in die doderyk, is dit gevalle engele? Mat 12:45; Luk 10:20 “Daar is egter ‘n duidelike verwysing na die dae van Noag, Mat 24:37-39. Die gevolgtrekking van Groenewald is dat die “geeste” die tydgenote van Noag aandui: mense wat die geleentheid tot bekering gehad het, maar wat in die verharding van hulle harte gesterf het.” (Groenewald. 1986:68)
4 Wat is die gevangenis? Daar is ‘n opvatting dat die bose geeste in die lug woon volgens Ef 6:12 “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” Dus ‘n blyplek tussen die hemel en die aarde, êrens in die lug. Die Jode het egter gepraat van die doderyk as “sjeool” en die grieke as “hades”. Hiervolgens is die voorstelling dat die doderyk êrens diep onder die aarde is. Volgens Simon J. Kistemaker, (1987:143) intepreteer hy die gedeelte as volg: “Gevolglik interpreteer ek die frase die geeste in die tronk om te verwys na bonatuurlike wesens en nie na die siele van mense nie.”
5 Wat was die inhoud van sy prediking? Van die latere verklarings, waarmee ek saamstem, is dat die opgestane Christus, met sy hemelvaart, aan almal wat nog op aarde leef en diegene in die hemel, sy oorwinning oor die dood verkondig het met woord en daad. Die opgestane, verhoogde Christus, het sy Oorwinningstog aangekondig, verkondig en geproklameer met sy koms na die aarde, sy kruisdood en opstanding en hemelvaart.
Samevatting
Om daarom mee af te sluit, bely ons, glo ons, en loof ons God volgens Rom 8:31-39, die Oorwinningslied van Paulus. Rom 8:37-39 37 “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”
• Jesus Christus leef. • Jesus Christus berei vir ons plek voor in die hemel. • Jesus Christus is my Koning, my Here, My Verlosser. • Jesus Christus is die Oorwinnaar en ek saam met Hom en deur Hom.
Kom ons bid saam Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com