Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Preke (Page 61 of 192)

Oordenking 11 Mei

God weerstaan die hoogmoediges maar aan die nederiges gee Hy genade.

Donderdag 11 Mei 2023
Lees: 1 Petr 5:5 2020 5) “Net so moet julle wat jonk is, ondergeskik wees aan die ouderlinge. Beklee julle almal met nederigheid teenoor mekaar, want…
“God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.”
6) Daarom verneder julle onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle op die regte tyd kan verhoog. 7) Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy gee vir julle om.”

Die Bybel is baie prakties, want God is Alwetende en Hy weet presies wat om aan ons te openbaar. Daarom skryf Petrus hier dat die jongmense van die gemeente moet luister na die ouer mense van die gemeente en spesifiek na die ouderlinge. Die broeders wat ouer is met meer wysheid en lewenservaring, ryper insig en wat al met die kennis van jare kan praat.

Hierdie nederigheid word in die griekse taal beskryf met ‘n voorskoot wat jy aansit om ander te dien. Plaas ‘n voorskoot aan, beklee jou, sodat jy ander kan dien en bedien kan word, sonder om jou klere vuil te laat word met die verkeerde hoogmoed van die wêreld.

Een van die grootste probleme in die lewe is hoogmoed.

Spr 3:34-35
34 “Met hooghartige spotters dryf Hy die spot, maar Hy is goed vir dié wat beskeie is.
35 Wyse mense verkry eer, maar dwase kom al hoe meer in die skande.”

Jak 4:6 – 1 Pet 5:5b
“God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.”

Hoogmoed gaan oor mense wat nie hulleself volkome voor God wil buig in ootmoed nie. Dan gaan dit oor hulle eie behoeftes, besluite, en hulle eie lewe. Dan is ek vir myself belangriker as om voor God te buig. M.a.w. mense wat nie ten volle voor Jesus Christus wil buig en hulle volle verlossing en genade van Hom verwag nie. Jesus het juis self ook aan ons geleer in …

Mat 11:29
“Leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele.”

Die kind van God wat in diepe afhanklikheid en nederigheid leef, sal van God rus vind. Vir party is daardie rus alreeds op aarde gedeeltelik beskore. Ten minste is dit vir ons beskore dat ons verseker weet dat God altyd vir ons sorg, of dit mensliker-wys goed gaan of nie. God is in beheer. God is altyd by ons. Maar verseker sal ons God se volle genade ten volle ondervind as ons die hemelse heerlikheid ingaan. Dan sal ons weet, dat God se kragtige hand, deur Jesus Christus, ons ten volle verlos het, dat ons die ewige lewe binnegaan.

Daarom hoef ons oor niks besorg te wees nie volgens Mat 6:25-34. God sorg vir die lelies in die veld. God sorg vir al die wilde diere. God sorg soveel te meer vir ons. Werp al jou bekommernis op God. Vertrou volkome op sy genade in en deur Jesus Christus. Weet dat God deur die Heilige Gees jou lei en dat jy altyd sy genade sal beleef in voorspoed en in druk. Ps 34.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 8 Mei

Die taak van ouderlinge.

Maandag 8 Mei 2023
Lees: 1 Petr 5:1-4 “1 As mede-ouderling en getuie van die lyding van Christus en ook deelgenoot aan die heerlikheid wat geopenbaar sal word, dring ek by die ouderlinge onder julle daarop aan: 2 Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op. Hou toesig oor hulle, nie uit dwang nie, maar gewillig soos God dit verwag; nie om eie gewin nie, maar uit toegewydheid; 3 ook nie deur baas te speel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar deur ‘n voorbeeld vir die kudde te wees. 4 En dan, wanneer die Opperherder kom, sal julle die heerlikheid as onverganklike kroon ontvang.”

Ons beleef vandag baie turbelente tye. Die samelewing is onder druk weens verskeie morele etiese kwessies wat direk indruis teen die Skrif. Goddeloosheid, kerkverval en afvalligheid kom al meer voor.
• Daarom moet daar goeie leierskap wees in die kerk.

Petrus skryf hier juis oor wat goeie leierskap is. Dit is juis in ‘n tyd van lyding en vervolging dat ons as christene goeie leierskap nodig het. Leiers wat uit die Bybel leiding kan gee. Die rede is omdat ons gelees het in 1 Petr 4:17 dat die oordeel by die huishouding van God sal begin. Ja die Satan gaan juis by ons as kerkmense begin om ons afvallig, kleingelowig, ongelowig te wil maak. Satan wil ons graag van God af weglei of verlei. Daarom het ons goeie leiers nodig om ons te lei om in hierdie lewe standvastig en gelowig te bly.

Vir hierdie taak gee God aan die kerk ouderlinge. Ons lees in 1 Tim 3 dat God juis aan die Nuwe Testamentiese kerke ouderlinge en diakens gee om hulle te lei en te regeer en te versorg.
Hierdie is ‘n baie ernstige en spesifieke opdrag. Ons lees in Hand 20:28 spesifiek wat die ouderlinge se opdrag is: “Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters ‘n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun.”

Die griekse woord vir ouderling wat Petrus hier gebruik is ‘Biskop” – “presbuteros”. Jesus Christus noem Homself ook die Goeie Herder. Jesus Christus self sorg vir ons, sy skape. Hy het so goed gesorg dat Hy sy eie lewe vir ons afgelê het. So moet die ouderlinge die gemeente versorg met toewyding en erns en opregtheid.

Petrus vermaan daarom die ouderlinge, as mede-ouderling, 1 Petr 5:2 “Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op. Hou toesig oor hulle, nie uit dwang nie, maar gewillig soos God dit verwag; nie om eie gewin nie, maar uit toegewydheid:”

Ontvang julle ouderlinge dan met gasvryheid in julle huise. Maak dit vir hulle maklik om hulle werk te doen. Bel hulle ook en deel julle lief en leed met hulle. Maak julle harte vir hulle oop, sodat hulle hulle werk kan doen soos wat God dit van hulle verwag.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Die Wet

Skriflesing: Gal 3:1-4:7
Teksvers: Gal 3:10-13, 25

Gal 3:25
“Ons is nie meer onder ’n tugmeester nie.” (1953)
“Ons staan nie meer onder toesig van die wet nie.” (1983)
“Ons staan nie meer onder die toesig van ’n oppasser nie.” (2020)

Verlossing kan nooit kom deur die onderhouding van die wet nie. Dit is omdat niemand die wet volkome kan onderhou nie, behalwe Jesus Christus wat self volkome mens was, maar sonder sonde.

  • Die wet leer aan ons hoe om te lewe.
  • Die wet eis gehoorsaamheid.
  • Die wet lei ons na ’n dankbare lewe.

Geslagtelikheid (gender) is God se keuse!

Skriflesing: Genesis 1:23-31; Matteus 19:3-10; Maleagi 2:15; 1 Korintiërs 3:18; Rom 1:21-32
Teksvers: Genesis 1:27; 2 Kor 3:18

In die sogenaamde WOKE-kultuur van ons dekade is daar die idee by sommiges dat ‘n mens jou eie geslag kan kies. Alhoewel dit in alle redelike denke as absurd sou tel, moet ons tog baie goed verstaan dat dit die gangbare taal van ons wêreld-omgewing geword het. Mans wat teen alle manlikheid in kies om ontman te word en andersom! 

Daarteenoor sê Jesus onomwonde “dit was nie van die begin af so nie”. 

Omgekeerde ‘waarhede’ is eintlik net bedekte leuens en ons moet ons (en ons kinders en nageslag) toerus om hier anders te dink as die wêreld. 

Oordenking 4 Mei

Bemoediging in lyding as christen.

Donderdag 4 Mei 2023
Lees: 1 Petr 4:12-19 “Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die
getroue Skepper, en aanhou goed doen.”

Petrus skryf hierdie brief, nie aan ongelowiges nie, maar aan gelowiges. Veral hulle wat verspreid wonend is, maw ver van Jerusalem af, in die vreemde. Hy skryf dit ook aan my en jou wat glo in Jesus Christus en Hom bely as ons Enigste Verlosser en Saligmaker.

Petrus skryf ook hierdie eerste brief spesifiek aan die christene wat lyding en swaarkry verduur. Lyding is ‘n harde werklikheid vir christene. Die christene in Petrus se tyd het baie vervolging in die oë gestaar maar ook vandag, in hierdie wêreld, want om waarlik christen te wees, vra dat jy nie met die wêreld se losbandigheid en die wêreldse standaarde sal meeleef nie, maar met Christelike waardes soos wat die Bybel dit aan ons openbaar. Dit het dan ware lyding tot gevolg.
God wil hê dat ons in die wêreld ook vandag moet leef en ons lig moet laat skyn.

Die wêreldse-, goddelose mense, die heidene vind dit vreemd dat ons nie langer met hulle wil saamleef, soos wat die wêreldse standaarde is nie. 1 Petr 4:4.

Daarom bemoedig Petrus ons in ons lyding en leer hy ons wat ons moet doen as ons lyding ondergaan twv Jesus Christus. Want ons verheerlik, (δοξάζω – doxazō in die griekse taal,) God, deur te leef tot Sy eer en soos wat Hy van ons verwag in die Woord.

Onthou dat selfs ons swaakry is nie buite God se toelatende wil nie. God is Alwetend. God weet dat ons dit in die huidige wêreld sal swaar hê. Om ‘n christen te wees is nie sommer outomaties nie, dit vra toewyding in geloof en vertroue op God.

Petrus noem God hier in vers 19, die getroue Skepper. Dit is die enigste plek in die Nuwe Testament waar God Skepper, (κτιστής – ktistēs – in die griekse taal) genoem word.

Ons moet ons lewens aan ons getroue, (πιστός – pistos in die griekse taal) Skepper, toewy. Getroue God, dui op God wat ons nie net gemaak het nie, maar wat elke dag, elke oomblik van die dag en nag vir ons sorg, ons dra in sy groot liefde en omgee.

Die lyding gaan so erg wees, maar ook God se versorgende hand is so volkome, dat ons lees in Luk 21:17-19
17 “En julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word, maar
18 daar sal selfs nie eens ‘n haar van julle kop af val nie.
19 Deur julle volharding moet julle julleself red.”

Want ons kan ook verseker weet dat daar nie ‘n haar van ons hoof sal val, sonder dat God dit weet nie. Daarom dat Petrus skryf dat ons moet aanhou goed doen. Ons dade moet van liefde getuig en ons moet barmhartigheid aan ons medemens betoon, tot eer en verheerliking van God.
Deur goed te doen aan almal, al word ons vervolg of beledig, ly ons tot eer en verheerliking van God. Wat ‘n voorreg en genade om ‘n kind van God te wees en vir Hom te ly.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Jesus bid dat ons geloof nie sal ophou nie 

Skriflesing: Lukas 22:24-34
Teksvers: Lukas 22:32
HK: Sondag 1 en 7

Geloof in God maak ons opgewonde. Daar is min dinge wat ‘n mens so hart so vrolik maak as wanneer jy weet dat God jou liefhet en deur sy genade as sy Eie kind aanneem. Maar om te glo is nie altyd so maklik nie. Somtyds is daar bykans onmoontlike omstandighede wat lyk of dit ons lewens gaan ruïneer.

So gebeur dit ook net voor die kruisiging dat Jesus die dissipels waarsku dat hulle geloof tot die uiterste getoets gaan word. Al sal ons soos Petrus Hom drie maal verloën, bid Jesus dat ons geloof nie sal ophou nie.

« Older posts Newer posts »