Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Preke (Page 54 of 192)

Wie van harte bely sal gered word 

Skriflesing: Romeine 10:1-21 (1953)
Teksvers: Romeine 10:6-10

Hoe heerlik as mense saam in eenheid en liefde lewe. Meer nog as dit gebaseer is in een en dieselfde geloof en die belydenis daarvan. Daarom is die volgende hoogtepunt in die erediens-liturgie die gemeenskaplike Geloofsbelydenis. 

Ek onthou dat ek en my skoonseun op 31 Oktober 2017 in die Luther-kerk in Wittenberg in ‘n erediens was (presies 500 jaar na die begin van die Groot Hervorming!), en daar doen hulle toe die Twaalf Artikels in Duits… en ons twee doen dit toe kliphard in Afrikaans… en die vreugde-trane rol, want daardie liefdevolle geloofsbande oor eeue en tale heen het ons onmiddelike eenheid en liefde laat belewe. 

So kan dit elke Sondag in die erediens saam met al u medegelowiges in hierdie gemeente in Centurion gebeur. 

Wie sê julle is Ek? 

Skriflesing: Matteus 16:13-23 (1983)
Teksvers: Matteus 16:16,17
HK: Sondag 12

Die monogram van die belydenis van Christus as ons Verlosser is redelik bekend in die vorm van ‘n VIS. Die ware monogram is egter die een wat hierbo verskyn en waarin die letters van die belydenis dat Jesus die Christus en Verlosser is, saamgevat is. Die eerste letters van die Griekse woorde vir Jesus Christus Seun van God ons Verlosser vorm saam die woord IXTHUS, in Afrikaans VIS. 

Waarskynlik het die Ichthus-belydenis sy oorsprong in die belydenis van Petrus in ons teksvers en uiteindelik sal dit in die geskiedenis uitloop op die 12 Artikels van ons Christelike en apostoliese geloofsbelydenis. 

Kom ons antwoord vanaand met Sondag 12 op die vraag van Jesus in Matteus 16:16 en bely dat Jesus die lank-beloofde Christus is, ons Koning en ons Verlosser. 

Die Lam is Lofwaardig 

Skriflesing: Openbaring 4:1-5:14 (2020)
Teksvers: Openbaring 5:11-13

Musiek ontroer die siel. Dit streel die snare van die hart. Maar wat is dit tog om musiek te maak of ‘n lied te sing wat nie tot lof van God die Almagtige is nie? Aan die ander kant is die vraag: wat is die reaksie op die ontmoeting van die kerk met die Almagtige? Deur die eeue heen hoor ons hoe mense spontaan in lofliedere uitjubel oor die groot en magtige werke van die Here. 

So kan die kerk ook in die erediens sing! Ons kan die lof van God besing. Lofwaardig is die Lam. 

Die Naam van die HERE red 

Skriflesing: Handelinge 3:1-26
Teksvers: Handelinge 3:6 en 16
HK: Sondag 11

In ‘n naam sit baie meer as net ‘n persoon se herkenning. Ons onthou nie eens altyd mense se name wat ons ontmoet nie. Ander name kan ons weer nie sommer vergeet nie. 

As dit egter kom by die Naam van die HERE, dan is dit baie duidelik dat daar iets uitsonderlik aan die HERE se Naam is. Sy Naam is gekoppel aan Sy wese. Die Naam van die HERE beskryf sy Persoon. So leer ons die HERE ken as “Ek is”. 

Vanaand staan ons stil by ons belydenis van die Naam Jesus, wat Verlosser beteken. 

Die Liturgie: Die Groetseën 

GOD SE GENADE GEE VIR ONS VREDE 

Skriflesing: Openbaring 1:1-11(1983)
Teksvers: Openbaring 1:4-5

Die Here gebied sy seën oor elke leser van sy Woord, veral die luisteraars van die boek Openbaring. Dis die WIL van GOD dat ons uit sy seënende Vaderhand moet lewe. 

Maar ook elke Sondag weer kan u kom en Sy seën kom haal en huis toe, werk toe of skool toe neem. Elke Sondag gee die Here God aan sy gesalfde diensknegte die taak en voorreg om sy ryke seën van genade en vrede van God aan die gemeente uit te deel. 

Wil u dus sy geseëndes wees, kom haal dan elke Sondag die seën van die Here waar Hy dit ruim en onvoorwaardeklik aan u uitdeel in die heilige ontmoeting van die erediens en gaan leef u oorwinnaarslewe vanuit sy genade en in sy vrede! 

Ons lewe in Pottebakkershande 

Skriflesing: Jeremia 18:1-23 (2020)
Teksvers: Jeremia 18:6
HK: Sondag 9/10

Soos klei in die hande van die pottebakker, so is die kinders van die Here in sy hande. Hierdie troosvolle woorde laat ons tog ook diep nadink oor alles wat soms in ons lewe gebeur. Die reën en droogte, die goeie en die slegte. God is al die tyd besig om ons te vorm en te maak wat ons moet wees. 

Ons staan vanaand stil by die beeld uit Jeremia waardeur die Here ons ook prakties leer hoe ons in Sy vaderlike sorg moet leef en op Hom moet vertrou. 

« Older posts Newer posts »