Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Preke (Page 22 of 183)

Christus kom ALTYD Eerste

Skriflesing: Kolossense 1:3-23 (2020)
Teksvers: Kolossense 1: 15-18

Mense hou daarvan om te wen. Om eerste te kom. Dit is ‘n ingeskape begeerte van die mens om te oorwin en bo jou omstandighede uit te styg. 

Om te wen mag ons nooit ons dryfveer wees, ten alle koste, nie. Soms verloor jy deur net te wil wen. 

Dink aan die werk van Christus, Hy wat sy lewe verloor het om eerste te wees. Deur sy lewe prys te gee, word Hy die eerste, die Een wat altyd Eerste kom. 

Ons staan vanaand stil by die loflied oor ons Verlosser en ons taak as Eerstelinge van God. 

Jubeljaar 2025!

Skriflesing: Levitikus 25 (1983)
Teksvers: Levitikus 25:2, 23; Lukas 4:19

Vyftig jaar gelede, op 1 Junie 1975 het die gemeente afgestig van GK Lyttelton. Aanvanklik was ons naam GK Verwoerdburg-Noord wat later aangepas is by die tydsomstandighede. Die GK Centurion kyk hierdie jaar terug op 50 jaar van genade uit die hand van ons Here en Herder, Jesus Christus, die Hoof van sy kerk. 

Ons begin vandag die tema verstaan soos dit aan Israel voorgeskryf is deur Moses by die berg Sinai: Die hoofsaak gaan oor herstel en verlossing wat in die koninkryk van God ons toekom. Mag hierdie jaar een wees van bekering en geloof en vrede in God. 

Waardig voor die Here

Skrifgedeelte: Kolossense 1:1-14
Teksvers: Kolossense 1:9-12

Paulus skryf aan die gemeente in Kolosse as hy onder huisarres is. Natuurlik is daar sekerlik uitdagings wat lidmate te bowe moet kom, maar geloof is baie meer as net om probleme op te los. Daar bestaan ‘n diepe dank vir God se werk. Hier deel die apostel sy blydskap en sy dankbaarheid oor die goeie dinge wat hy van hulle gehoor het. Van die geloof en die liefde en die hoop. Maar hy wil ook daarmee te kenne gee, dat hierdie dinge nie alleen genoeg is of voldoende is nie, want in die geloof is daar nie ‘n versadigingspunt nie. Die gemeente moet ook nie maar net te vrede wees met die vordering wat gemaak is nie, maar steeds daarna strewe en aanhou groei in die kennis van die wil van God.

Ons staan vanaand stil by die gebed vir die gelowiges om waardig voor die HERE te leef.

Ons hulp is in die naam van die Here

Skrifgedeelte: Ps 124
Teksvers: Ps 124:7,8

Elke erediens begin met hierdie bekende woorde: Ons hulp is in die Naam van die HERE.
Dit is ‘n openlike verklaring, ‘n openbare erkenning dat ons hulp en ons behoud nie uit onsself is nie. Ons kan onsself nie help nie, die HERE alleen kan ons help.

Die Psalm stel dit eintlik nog baie sterker, as die HERE ons nie help nie, kan niemand ons help nie. Ons is so verlore, so hulpeloos, net die HERE kan ons help.

As die HERE help, dan red Hy. Die HERE se hulp is ons heil. Dit is die wese van waaroor die jubeljaar gaan. Die blydskap en die jubel gaan oor die verlossing, die vrymaking. Jy is nie meer ‘n slaaf nie, jy is nie meer ‘n dienskneg nie, jy is vry!

Die Here openbaar Homself deur Sy reddende werke en bring ons gees tot rus in Hom

Skriflesing: Habakuk 3:1-19
Teksvers: Habakuk 3:18-19

In die derde hoofstuk van Habakuk kom die boek tot ’n hoogtepunt. Deur die hele boek hoor ons hoe die profeet worstel met die Here oor die onreg van sy volksgenote en die wreedheid van die volk wat die Here stuur om hulle te straf. 

In hierdie hoofstuk hoor ons die lied van die profeet wat terugdink aan al die reddende dade van die Here in die verlede. Op grond van sy oordenking van die Here se verlossing vind hy dan rus in die Here ten spyte van enige ellende wat oor hom kom. 

Jesus word ontklee om ons te beklee

Skriflesing: Joh 19:17 37; Gen 3:21; Ps 22:1-19; 2 Kor 5:1 5; Rom 13:14; Kol 3:12; Op 7:9; 19:1-8; Op 21:1,2 (2020)
Teksvers: Johannes 19:23,24

Jesus klou nie vas aan sy aardse goed nie. Self leer Hy ons dat as iemand jou onderkleed wil vat, laat hom ook die boklere kry (Mat 5:40). Dan doen Hy dit self – Hy word ontklee! Hulle vat sy klere en dobbel daaroor. Hy baklei nie oor aardse goeters nie. 

Hy is besig met die hemelse! Hy vervul Psalm 22 wat Hy later self ook gaan aanhaal! Hy is besig met die profesie! Die groot Profeet wat hier offer (ontklee) word selfverloënende Hoëpriester, en as Hy oorwin word hy Koninklik beklee met dié Naam wat bo elke naam is (Fil 2:11). 

« Older posts Newer posts »