Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Preke (Page 176 of 192)

Hoe lief het ek u wet!

Skriflesing: Psalm 119
Teksvers: Psalm 119:97

Die Marathon-Psalm 119 is die langste hoofstuk in die Bybel. In sy 176 verse handel die digter net oor die Wet van die Here. Dit neem ongeveer 20 minute om die psalm rustig hardop deur te lees.
Alfabetiese akroestiek is die digvorm waarin hierdie psalm aange-bied word. Anders as ander akroestiese dele van die Bybel (Klaagliedere, Spreuke 31:10-31, en Ps 25, 34, 37, 111, 112, en 145 in die Hebreeuse Bybel) word in Ps 119 elke agste vers begin met die volgende letter van die Hebreeuse Alfabet. Die doel was natuurlik esteties (as poësie) en ook om makliker te maak vir memorisering.
Die “rym” is dus in die begin en nie aan die einde soos ons dit vandag gebruik nie! Die alfabet het net 22 letters, dus bestaan Psalm 119 uit 22 onderdele, elkeen met ‘n soortgelyke struktuur.
Eintlik bring die hele Psalm en sy onderdele die eenluidende bood-skap dat kinders van die verbond lief is vir die Wet van die Here. Hoe lief het jy sy wet?

Laai af

NET TWEE DINGE NODIG!

Skriflesing: Spreuke 30:1‑9, en 15,16; 1 Tim 6:6-16 (6)
Teksvers: Spreuke 30:7‑9

Die boek Spreuke gaan oor ware wysheid. Wysheid is nie geleerdheid of slimmigheid nie. Wysheid is die kuns van die ware godsdiens, toegepas in ons daaglikse lewe. Ons praat van ‘lifeskills”. Gaan bestudeer weer die boek Spreuke en jy sal groei in ware wysheid wat van bo kom (Jak 3).
Ons teksvers is in wese ‘n gebed om die vervulling met die Heilige Gees. Die Spreukedigter besef dat hy ‘n sondaar is. Vol van homself en selfsugtigheid. Hy bid hier om genade om te kan verander. Maar ook dit kan hyself nie doen nie. Hy vra hulp van buite, van bo af, van die Here. En die Here gee ons die belofte in Jak 1:5 dat as ons wysheid kortkom, dank na ons dit van Hom vra. Hy gee aan almal sonder verwyt.
Laat Agur se gebed ook ons gebed wees!

Maak oop

Woorde ‘n gawe en verantwoordelikheid

Skriflesing: Spreuke 15
Teksvers: Spreuke 15:1

Dit is opvallend dat mense gewoonlik wanneer hulle wil argumen-teer, ‘n ander stemtoon gebruik. Die stem word gewoonlik harder en hoër. Verder is daar mense wat in ‘n argument net eenvoudig die ander persoon dood praat en glad nie vir die ander persoon kans gee om sy of haar standpunt te stel nie. Of iemand onder-breek die ander persoon die heeltyd totdat die ander persoon maar later noodgedwonge moet stilbly.
Dit is daarom selde dat ‘n argument in ‘n fluistertoon gevoer word, behalwe as jy nie wil hê dat iemand dalk sal hoor hoe hard en lelik jy kan praat nie. Sou iemand egter nie kwaad word nie en altyd sag terug antwoord, dan is dit moeilik om ‘n geveg voort te sit. ’n Harde antwoord lei byna altyd tot ’n heftige reaksie. Is dit vir jou belangrik dat jy altyd ‘n argument sal wen? Laat jy jou le-wensmaat en jou kinders toe om met jou in liefde te verskil?
Hier kom die Here in sy Woord en sê dat ’n sagte antwoord altyd beter is. Glo jy dit?

Laai af

God se wysheid is dwaasheid in die oë van die ongelowige

Skriflesing: 1 Korintiërs 1:18 tot 1 Korintiërs 2:16
Teksvers: 1 Korintiërs 1:18, 22 en 1 Korintiërs 2:2

Paulus het Jesus as die Christus aan die skeptiese en ongelowige inwoners van Korinte verkondig. Daarom het hy hom voorgeneem om die evangelie van Jesus Christus te ver-kondig deur by die kernwaarheid van die evangelie, naamlik die kruisiging van Jesus Christus, te bly.
Die kernwaarheid van die evangelie, Jesus as die Christus en Hom as die gekruisigde, word ook deur Paulus in Galasiërs 6:14 as volg verwoord: “Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld.” Iemand het op grond van 2 Korintiërs 2:2 die prediking van die kruisiging van Jesus Christus die “dwaasheid van die prediking” genoem. Dwaas in die oë van die ongelowi-ges en tog ‘n krag van God vir elkeen wat in Jesus glo as die Christus, die gekruisigde.

Laai af

Ready, steady, go…!

Skriflesing: Matteus 28 en Hand 1:8; I Pet 3:13-17
Teksvers: 1 Petrus 3:15 (13-17)

Na die hemelvaart van die Here Jesus en die groot opdrag is die dissipels na die bokamer en daar word ‘n week later die Heilige Gees op hulle uitgestort. So kry hulle die krag van die Gees om aan hulle opdrag te voldoen: Om getuies te wees. Hierdie opdrag word al moeiliker as die wêreld die gelowiges nie meer duld nie. As vervolging kom sal dit baie moeilik wees om goeie getuies te wees.
Ons teks kom met ‘n baie besliste oproep dat ons gereed moet maak en wees vir wat aan die kom is… Die vraag wat dus gestel gaan word is: Hoe gereed is ek en jy? Miskien moet ons bietjie harder gereedmaak. Die eindtyd is hier en die aanslag van die wêreld op die kerk gaan nou net eskaleer. Is jy gereed?

Laai af

Die lewende water

Skriflesing: Joh 7:37:39 Openbaring 22:1 en 22 (Esegiël 47)
Teksvers: Johannes 7: 38

Ons gee vanaand aandag aan die betekenis van die loofhuttefees in Israel en in die Ou Testament. As ons dit verstaan kry die teks ʼn baie besonderse betekenis in terme van die uitstorting en werking van die Heilige Gees in ons lewe.
Laat ons op hierdie Pinksterfees maar weer die wonderlike krag en genade van die Heilige Gees eer en aanbid!

7:37 En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!
7:38 Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.
7:39 En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.

Laai af

« Older posts Newer posts »