Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Preke (Page 106 of 192)

Die Regter kom!

Skriflesing: Matteus 24:1-14; 25:31-46; Openbaring 20; 2 Korintiërs 5:10
Teksvers: Matt 25:31-33

Ek kry so al die gevoel dat die laaste dag vir mense meesal maar net ‘n fabelagtige idee is. As jy tyd maak en begin nadink oor watter groot dag dit werklik gaan wees, mag dit selfs bepaalde vrese by jou inboesem. 

As ek ds Paul se boodskap van verlede Sondagaand in herinnering roep, dat God selfs weet wat in die geheime kamers van ons lewe en selfs ons harte gebeur, dan mag ons werklik met vrees en ontsag hierdie grootse dag van die Here inwag! 

Staan vas in die geloof en bevestig jou liefde

Skriflesing: 2 Korintiërs 1:1-2:11
Teksvers: 2 Kor 1:7, 24 en 2:8

Dit is bykans twee jaar nadat Paulus sy eerste brief aan die gemeente in Korinte geskryf het. Daardie hardvogtige en liefdelose gemeente wat elkeen net op sy eie belange fokus. Tog is die inhoud van hierdie tweede brief so totaal anders. Hulle was immers nog altyd die gemeente van God, al was hulle so sondig. 

Ook hulle het ervaar wat dit beteken om te ly ter wille van die evangelie. En die troos waarmee hulle getroos is, kan hulle ander mee vertroos. Want hulle hoop is vas. Hulle geloof is standvastig, en hulle liefde moet weer en weer bevestig word. 

So is Paulus se woorde en vermaninge nie om baas te speel oor hulle geloof nie, maar juis om ‘n medewerker te wees aan hulle vreugde. Amen 

Hoor God se genade in sy oordeelsaankondiging

Skriflesing: Esegiël 8
Teksvers: Esegiël 8:18

Hierdie aankondiging in Esegiël 8 vind kort voor die ballingskap plaas. Verder word ook aangekondig dat die Here se teenwoordigheid hulle gaan verlaat as gevolg van die leiers van Israel se openlike beoefening van afgodediens. Asof die Here dit nie sou raaksien nie!!! 

In hierdie gesig het die Here vir Esegiël na die tempel en die stad Jerusalem gevat om die geestelike verval van die geestelike leiers te sien. Tog is daar in Esegiël 8 -11 wel ‘n aanduiding dat daar vir hulle ‘n sprankie hoop oor is. God dui aan dat Hy vir hulle ‘n heiligdom sal bly tydens die balling-skap. Daar is ook ‘n belofte deur die Here dat hulle in die toekoms na Israel sal terugkeer. Esegiël 8 vereis egter dat die leiers van Israel tot hulle sinne sal kom. Hulle kan hulleself nie verder mislei om te dink dat die Here nie hulle afgodsdiens raak sien nie. 

Die Here roep ons deur die Heilige Gees op om by hernuwing weer na ons eie sondige lewe en praktyke te kyk. Hoe ver staan jy werklik van die Here af? Is die oordeel van die Here ook vir jou voor die deur of hoor jy die roepstem van die Here se genade te midde van oordeel en gevaar dat die Here se teenwoordigheid van ons onttrek kan word? 

God vervul ons met verwondering

Skriflesing: Romeine 11:33-36; Efesiërs 3:14-21
Teksvers: Romeine 11:33 en 36

Kan jy onthou hoe jy as kind in stomme verbasing en verwondering na iets gestaar het. Opgewonde! Hand voor die mond van pure verbasing. iets wonderliks wat jy gekry het? Jy kon dit nie glo nie… tog: daar is dit voor jou oë… 

Ek dink dit is met so ‘n absolute gevoel van verwondering waarmee Paulus Rom. 11:33-36 geskryf het. Sorgvuldig, keurig onderrig hy in die hele Romeinebrief sy lesers oor die waarheid van die evangelie van Jesus Christus. 

En dan, asof uit die bloute, oorweldig dit wat hy so sorgvuldig skryf, oorweldig dit hom. En dis asof hy sy leraarspen neersit, en spontaan ‘n lied begin sing… ‘n lied van verwondering. Verwondering oor die God wat hierdie verlossing aan ‘n verlore mensdom bewerk en geskenk het. 

O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God. Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik is sy weë! 

Raak ons nog in verwondering oor die skatte van die evangelie, dat ons in verbasing daardeur oorweldig word. 

« Older posts Newer posts »