Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Psalms (Page 1 of 12)

Hoe goed en lieflik!

Skriflesing: Psalm 133; Ef 4:3-6; Klaagliedere 3:21-25 (1983)
Teksvers: Psalm 133

Alles in die lewe is nie altyd “goed en lieflik” (Eng: good and pleasant) nie. Dawid smag na iets wat hyself ook maar min beleef het. 

Tussen hom en sy broers was dit maar ‘n narigheid. Tussen hom en sy werkgewers was daar heeltyd probleme. Selfs tussen hom en sy familie sou die swaard nooit meer wyk nie. 

Hierdie psalm is dus sy versugting en smagting na wat mooi en lieflik is: eenheid van die gelowiges… broers en susters wat in liefde saam aanbid en dien. 

Vandag kry u en ek weer die geleentheid om te midde van ‘n gebroke wêreld iets te beleef van dit wat werklik mooi en lieflik is. En dit vir ewig! 

Die Here is so naby soos ‘n gebed

Skriflesing: Psalm 22 (1983)
Teksvers: Psalm 22:2 en 19-26

In ons aardse lewe is daar verskeie ervaringe van eensaamheid en dalk verwerping. Alleenlopers of weduwees en wese is nie die enigstes wat eensaamheid ken nie. Soms is mense selfs in ‘n huwelik of huisgesin eensaam. Ons dink in besonder aan beproefdes en veral aan die vervolgde gelowiges wat opgesluit is of gedurig op vlug is. 

Miskien is dit ook weer tyd dat ons as lidmate van hierdie gemeente met omgee en liefde sorg dat niemand van ons weens eensaamheid uit die gemeente vervreemd raak nie! 

Daarby het ons dan ook nog hierdie evangelie-woorde uit Psalm 22, wat direk net so deur Jesus aan die kruis van Godverlatenheid aangehaal of oorgeneem word. 

God, ons toevlug in alle omstandighede!

Skriflesing: Psalm 46 (2020)
Teksvers: Psalm 46: 2, 5, 9

Die Nuwe-Testamentiese kerk het baie geworstel met die vraag hoe Psalm 46 uitgelê moet word. Die Psalm is dikwels allegories verklaar en dit het tot ‘n willekeurige uitleg gelei (vgl. bv. Augustinus). 

Luther dui egter tydens die Reformasie koers aan en beklemtoon ‘n historiese verstaan van hierdie Psalm. Hierdie Psalm is duidelik ‘n trooslied soos Luther se ‘Ein feste Burg ist unser Gott’ aandui en moet ook so uitgelê word. 

In die Psalm word God verkondig as: 

  1. ‘n toevlug, 
  2. ‘n lewegewende rivier, en 
  3. ‘n oorwinnaars-koning. 

Die Here bewaar jou oppad 

Skriflesing: Psalm 121 (1983)
Teksvers: Psalm 121:8

Ons het verlede week geleer dat ons bestemming veilig is. Wat ‘n heerlike uitsig op ewige herstel (Jes 35). Ons weet dat Jesus ook saam met ons op hierdie reis is! Ons weet nou ook dat Hy die pad voor ons uitgeloop het, die pad/weg na die kruis, waarvoor Johannes die Doper die wegbereider was (Mat 14). 

Psalm 121 leer ons vanaand dat die Here ons op hierdie pad bewaar. Selfs al gaan ons pad deur die dood heen is Hy steeds daar met sy bewarende regterhand. Ook hiervan is die Nagmaalviering van volgende Sondag ‘n bewys en versekering. 

CHRISTUS SAAI IN TRANE ONS OES IN VREUGDE

Skriflesing: Psalm 126; Johannes 14:1-4 (1983)
Teksvers: Ps 126:5,6

‘n Saaier saai. Hierdie saaier werk in die woestynland. Dis dor en droog, die Suidland, woestynland. 

So het Jesus gesaai op die aarde wat dor en droog was weens die sonde. So was sy trane die van geweldige lyde onder die toorn en oordeel en vloek van God, maar met die vrugbare reëns wat in die wintertyd val, lewer die betraande saad weer ‘n ryke oes wat vreugde en blydskap bring. 

Is Jesus se trane ook ‘n rede tot vreugde vir jou? Hy het immers ook vir u gely! 

Ween jy of is jy gespeen?

Skriflesing: Ps 131
Teksverse: Ps 131:2

In ons uur en tyd is groter altyd beter. Ons wil graag manne en vroue van naam wees. Voordat ons onsself kan vind is daar nog take op ons lys. Ons het begeertes en probleme en dit moet in twee minute opgelos word. Ons het ‘n onrustigheid in ons siele. Die wêreld en sy begeerlikheid en sorge vang ons vas. Ons probeer dit oplos deur meer en groter dinge te doen. Wanneer dinge dan te veel raak gaan ons al huilende met ons klagtes na die Here. Die vraag wat Psalm 131 elkeen van ons vra is: “Ween jy of is jy gespeen?”.

« Older posts