Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Ou Testament (Page 61 of 66)

Woorde ‘n gawe en verantwoordelikheid

Skriflesing: Spreuke 15
Teksvers: Spreuke 15:1

Dit is opvallend dat mense gewoonlik wanneer hulle wil argumen-teer, ‘n ander stemtoon gebruik. Die stem word gewoonlik harder en hoër. Verder is daar mense wat in ‘n argument net eenvoudig die ander persoon dood praat en glad nie vir die ander persoon kans gee om sy of haar standpunt te stel nie. Of iemand onder-breek die ander persoon die heeltyd totdat die ander persoon maar later noodgedwonge moet stilbly.
Dit is daarom selde dat ‘n argument in ‘n fluistertoon gevoer word, behalwe as jy nie wil hê dat iemand dalk sal hoor hoe hard en lelik jy kan praat nie. Sou iemand egter nie kwaad word nie en altyd sag terug antwoord, dan is dit moeilik om ‘n geveg voort te sit. ’n Harde antwoord lei byna altyd tot ’n heftige reaksie. Is dit vir jou belangrik dat jy altyd ‘n argument sal wen? Laat jy jou le-wensmaat en jou kinders toe om met jou in liefde te verskil?
Hier kom die Here in sy Woord en sê dat ’n sagte antwoord altyd beter is. Glo jy dit?

Laai af

God as die Skepper God en omgee God wat ons kroon as heersers

Skriflesing: Psalm 8
Teksvers: Psalm 8:2,10

Hierdie is ’n natuurpsalm waar God se grootheid besing word. God se almag as God self en sy pragtige skeppingswerk word gestel teenoor die nietigheid van die mens.

  1. God word besing omdat Hy die Skeppergod is.
  2. God word besing omdat Hy vir ons omgee.
  3. God word besing omdat Hy ons kroon as heersers. v5-8

Vrae wat ons elkeen moet antwoord is:

  • Hoe dink jy oor die skepping waaroor jy moet heers?
  • Hoe pas jy die skepping op deur dit nie te vernietig nie?
  • Sien jy God se grootheid raak in die skepping?

Laai af

Aan watter stad behoort jy eintlik?

Skriflesing: Gen 4; Ps 127, Heb 12:24 en 11:4; Heb 11:16; 13:14; Openb 3:12
Teksvers: Gen 4:26

Die wêreld bestaan eintlik net uit twee kante: Geloof en ongeloof. Daar is eintlik ook nie plek vir iets tussen-in nie. Dis warm óf koud. As jy lou is sal jy deur Christus uitgespoeg word (Op 3).
Sommer hier in die begin van die mens se geskiedenis sien ons hierdie twee lyne… en dan loop hulle al verder en verder uit mekaar! Laat ons dus glad nie verbaas wees dat die kerk deur die wêreld gehaat word nie. Laat ons egter bou aan die regte stad van God… die ware Jerusalem.

Laai af

Word wakker en besef die dringendheid om die Evangelie uit te dra

Skriflesing: Amos 3
Teksvers: Amos 3:8

In die lig van die toekomstige swaarkry en oordeel kom Amos om die dringendheid van die uitdra van die Boodskap van God te verkondig. Amos sê hier dat die Here niks doen as Hy dit nie eers aan Sy profete bekendmaak nie. Die rede daarvoor is dat dit die taak van die profete was om die mense op te roep om tot inkeer te kom voordat die vreeslike swaar tyd in die toekoms sou aanbreek.
So het Johannes die Doper in Matteus 3:2 die mense opgeroep met die woorde: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom”. Laat ons nóú ons lewe in orde kry, want die koninkryk van God is voorhande. Pasop dat die wederkoms van Jesus Christus jou nie onverhoeds betrap nie!

Laai af

God sal jou nooit in die steek laat

Skriflesing: Psalm 146:1-10
Teksvers: Psalm 146:6c

Die laaste vyf Psalms is die afsluiting van die Psalms en almal begin met Halleluja wat beteken “Prys die Here!” In hierdie Psalm word die gelowige opgeroep om op God alleen te vertrou. Ons moet nie op mense, op magtiges, op prinse vertrou nie. So kan ons vandag so maklik moedeloos raak omdat mense, sisteme, jou in die steek laat. Jy weet nie meer wie moet jy vertrou nie. Wie praat die waarheid? Wie is opreg? Wie bedoel opreg wat hy sê?
1. Vertrou altyd op God.
2. Vertrou nie op mense.
3. Vertrou op God wat ewig regverdig regeer.

Laai af

‘n Dubbele eed bevestig die groot vreugde van die toekoms

Skriflesing: Daniël 12
Teksvers: Daniël 12:1-7

‘n Tyd gaan nog aanbreek waar die gelowiges gesuiwer, gereinig en gelouter sal word. Die goddeloses sal egter goddeloos bly en hulle sal nie wil hoor of verstaan watter verskriklike tyd vir hulle nog sal aanbreek nie. Daarteenoor sal die Heilige Gees die verstand en hart van die gelowiges verhelder om te verstaan en moed te hou.
Na hierdie tyd van ongekende benoudheid, swaarkry en vervol-ging net voor die koms van Jesus Christus, sal elkeen wie se naam in die boek van die lewe opgeskrywe staan, groot vreugde beleef.
Dooies sal uit die dood opstaan. Sommige sal uit die dood opstaan tot die ewige lewe en sommige sal uit die dood opstaan tot groot smaadheid, iets wat vir ewig afgryslik sal wees.

Laai af

« Older posts Newer posts »