Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Ou Testament (Page 3 of 58)

Rus tot Eer van die Here

Skriflesing: Levitikus 25:1-13 (2020)
Teksvers: Levitikus 25:2-4

Ons lewe in ‘n rustelose wêreld. Veral hier in die stad beleef ons die rusteloosheid van altyd besig wees, altyd nog werk, altyd nog iets wat gedoen moet word. Maar daar is ook ‘n ander soort rusteloosheid: ‘n onrus van die gewete; ‘n rustelose siel wat net nie tot bedaring kan kom nie. 

Oor hierdie rusteloosheid het die bekende kerkvader Augustinus opgemerk: U het ons vir Uself gemaak, en ons harte is rusteloos totdat ons rus vind in U. Die sabbat, sowel as die sabbatsjaar en die jubeljaar het ‘n pertinente kenmerk van rus, van herstel. 

Vanoggend gaan ons saam ondersoek instel oor wat dit beteken om te rus tot eer van die Here. 

Jubeljaar 2025!

Skriflesing: Levitikus 25 (1983)
Teksvers: Levitikus 25:2, 23; Lukas 4:19

Vyftig jaar gelede, op 1 Junie 1975 het die gemeente afgestig van GK Lyttelton. Aanvanklik was ons naam GK Verwoerdburg-Noord wat later aangepas is by die tydsomstandighede. Die GK Centurion kyk hierdie jaar terug op 50 jaar van genade uit die hand van ons Here en Herder, Jesus Christus, die Hoof van sy kerk. 

Ons begin vandag die tema verstaan soos dit aan Israel voorgeskryf is deur Moses by die berg Sinai: Die hoofsaak gaan oor herstel en verlossing wat in die koninkryk van God ons toekom. Mag hierdie jaar een wees van bekering en geloof en vrede in God. 

Ons hulp is in die naam van die Here

Skrifgedeelte: Ps 124
Teksvers: Ps 124:7,8

Elke erediens begin met hierdie bekende woorde: Ons hulp is in die Naam van die HERE.
Dit is ‘n openlike verklaring, ‘n openbare erkenning dat ons hulp en ons behoud nie uit onsself is nie. Ons kan onsself nie help nie, die HERE alleen kan ons help.

Die Psalm stel dit eintlik nog baie sterker, as die HERE ons nie help nie, kan niemand ons help nie. Ons is so verlore, so hulpeloos, net die HERE kan ons help.

As die HERE help, dan red Hy. Die HERE se hulp is ons heil. Dit is die wese van waaroor die jubeljaar gaan. Die blydskap en die jubel gaan oor die verlossing, die vrymaking. Jy is nie meer ‘n slaaf nie, jy is nie meer ‘n dienskneg nie, jy is vry!

Die Here openbaar Homself deur Sy reddende werke en bring ons gees tot rus in Hom

Skriflesing: Habakuk 3:1-19
Teksvers: Habakuk 3:18-19

In die derde hoofstuk van Habakuk kom die boek tot ’n hoogtepunt. Deur die hele boek hoor ons hoe die profeet worstel met die Here oor die onreg van sy volksgenote en die wreedheid van die volk wat die Here stuur om hulle te straf. 

In hierdie hoofstuk hoor ons die lied van die profeet wat terugdink aan al die reddende dade van die Here in die verlede. Op grond van sy oordenking van die Here se verlossing vind hy dan rus in die Here ten spyte van enige ellende wat oor hom kom. 

Dissiplines van die nuwe lewe (7): Jou daaglikse getuie-wees vir Christus!

(Rome is toe nie die einde van die wêreld nie!)

Skriflesing: Handelinge 1; Jesaja 49:6 (1983)
Teksvers: Hand 1:8; Jes 49:6; Hand 29

Vandag doen 14 kinders en 4 volwassenes Openbare Belydenis van hul Geloof. Ons vier hierdie heuglike dag saam met hulle en hul geliefdes terwyl onsself terugdink aan daardie besondere dag in ons eie lewe toe ons ons geloof in Jesus Christus openlik bely het. 

Handelinge 1:8 se opdrag en bedoelings eindig nie by die laaste verse van die boek nie… Rome is nie die einde van die wêreld nie! 

So is belydenis-aflegging nie die einde van ‘n pad nie, maar slegs ‘n mylpaal langs die pad na volkome gehoorsaamheid aan ons roeping en taak as gelowiges in hierdie wêreld. 

Mag die Here ons almal weer aanspoor tot dissipline in ons getuienistaak, om as sy geroeptes en gestuurdes die Evangelie se lig wyd en syd te laat skyn… tot aan die uiteindes van hierdie wêreld! 

ʼn Nuwe lewe in Christus, Diens (6): Wat is jou verskoning?

Skriflesing: Jeremia 1:1-12 (2020)
Teksvers: Jeremia 1:7-9

Jeremia sê hy is te jonk. Jesaja roep uit: wee my ek is te sondig! Sara het gedink sy is te oud. Moses reken hy kan nie praat nie. Eva sê dit is die slang se skuld. Gideon beweer hy is te gering. Jakob is te bang of te hartseer. Kain is te kwaad. Adam sê dit is sy vrou se skuld. Maria was te bedroef. Jona hardloop weg. Josua dink nie hy kan Moses se skoene volstaan nie. Saul gaan kruip weg. Petrus verloën die Here. 10 van die 12 verspieders dink die reuse is te groot. Thomas wou eers die bewyse sien. Paulus het die kerk vervolg. 

Wat is jou verskoning? 

« Older posts Newer posts »