Skriflesing: Genesis 37:1-4, 17-36 en 45:1-9, 24-28 Teksvers: Genesis 37:34-35 HK Sondag 1
Waarom laat God toe dat slegte dinge gebeur met goeie mense? Dit is sekerlik een van die moeilikste vrae om te kan beantwoord.
Waarom doen God niks as gelowige mense onreg verduur nie? Waar is God in ons swaarkry? Dalk het jy ook so ‘n vraag… Dalk is daar by jou ook die teleurstelling en hartseer van traumatiese gebeurtenisse en vrae wat onbeantwoord bly.
Ons kyk vanaand na Sondag 1 van ons belydenis oor die troos prys in Christus.
God se geopenbaarde en verborge wil. Maandag 13 Februarie 2023 Lees: Gen 29 en 30 Kol 2v11-14
Deut 29:29 “Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag: ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet.”
Te veel kere in ons lewens, vergeet ons wat ons moet onthou en onthou ons wat ons moet vergeet.
Wat moet ons onthou? Ons moet onthou wat God in die Bybel aan ons openbaar het. Dit is God se geopenbaarde wil. In die Bybel openbaar God aan ons wat Hy wil hê dat ons van Hom moet weet en wat Hy wil hê dat ons moet doen. Dit kom ook natuurlik na vore in die verbond wat God met ons gesluit het.
Sewe maal word die woord verbond in hierdie hoofstuk, Deuternomium 29 gebruik. • ‘n Verbond is ‘n vaste ooreenkoms wat nooit deur God verbreek sal word nie. Prof Jaap Helberg verklaar die verbond as volg: “Verbond behels hier dat God in sy verkiesende genade die mens, of ’n groep mense, in ’n bepaalde verhouding met Horn stel wat nie net van momentele betekenis is nie, maar van blywende betekenis. God onderneem in die verbond sekere verantwoordelikhede teenoor die mens en bepaal ook sekere verantwoordelikhede wat die mens vrywillig teenoor Hom moet nakom.” Wat is die inhoud van die verbond? Die verbond het twee kante: Eerstens God se kant, ons noem dit die monopleuriese karakter van die verbond. Gen 17:7
God het belowe dat Hy altyd vir ons ’n God sal wees. God sal altyd vir ons sorg as sy kinders. God wat so groot en almagtig en alomteenwoordig en alwetend is, sal altyd daar wees vir sy verbondskinders. Dit openbaar God in sy Woord duidelik aan ons.
Tweedens – Die mens se verantwoordelikheid, die dupleuriese karakter van die verbond.
Dan is daar egter ook verantwoordelikhede wat ons vrywillig moet nakom. Dit beteken dat ons God moet erken en bely en liefhê. Nou is dit so dat ons dit nie uit ons eie kan doen nie. Ons is sondaars wat altyd ons eie wil doen en nie God se wil nie. Maar God se genade is juis so groot dat Hy ons so liefhet dat Hy sy Seun Jesus Christus gestuur het om in ons plek die verbond ten volle te vervul en na te kom, omdat Jesus Christus volmaak en sonder sonde is. Kol 2:13,14 13 ”Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. 14 Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.”
Wat is die geopenbaarde en verborge wil van God dan prakties?
Uit genade is God se beloftes altyd daar en Hy sal altyd sy verbond nakom. Ons moet egter aan Hom gehoorsaam wees en opreg en eerlik ons na Hom bekeer. Al is nog sondig en onvolmaak en kry dit nie reg om altyd gehoorsaam aan God te wees nie, word ons deur die Heilige Gees gelei om God te dien. Ja ook daarin help en lei God ons. • Kom ons lees daarom elke dag die Bybel en luister na wat God van ons vra en doen biddend wat Hy vra. • Kom ons bekeer ons elke dag van ons verkeerde weë. Ons weet dat almal wat God sy kinders gemaak het, uit sy ryke genade, sal die koninkryk beërwe. Maar hulle wat niks met God te doen wil hê nie en doelbewus, uit eie keuse Hom verwerp, is self verantwoordelik vir hulle lot.
Ons wil U elke dag liefhê deur gehoorsaam te wees aan U geopenbaar wil soos wat ons dit in die Bybel lees. Kom ons bid saam Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com
Skriflesing: Gen 25:19-34; 27:1-40; Rom 9:10-13; Heb 11:20 Teksvers: Genesis 27:37b (Heb 11:20) HK Sondag 49
Om ons te laat buig in aanvaarding van sy wil, laat God ons baie keer presies die dinge beleef wat onsself regtig nie graag wil nie. Dit maak egter ons oë oop vir sy wil. Dan moet ons alte dikwels net ons eie wil versaak (opgee).
Die toekoms is immers in sy Vaderhande – as dit nie so was nie sou ons ‘n hopelose en selfs wanhopige spul mensies gewees het. Terwyl ons ons eie planne beraam, is dit dit van die uiterste belang dat ons God vra om ons te help om ons ten volle aan sy wil in oorgawe en absolute gehoorsaamheid te onderwerp.
Dis regtig nie so maklik om dit opreg en eerlik te bid nie!
Soms is dit so dat al wen jy die oorlog of die geveg het jy nie die oorwinning behaal nie. Die vraag is egter, hoekom veg jy? Is dit nodig om in stryd te gaan, om oorlog te maak, om met iemand te veg?
Jakob, een van die drie aartsvaders, Abraham, Isak en Jakob, was ‘n regte bedrieër. Sy lewe lank het hy planne gemaak om te oorleef en dit ondanks die feit dat die Here self aan hom verskyn het (Gen 28:13,16) en hom bemoedig het. Jakob stoei met God en wil Hom nie laat gaan voordat Hy hom seën nie.
Seisoene is die waarborg van God se genade! Donderdag 9 Februarie 2023 Lees: Gen 8:20-22 Open 21:23-25
20 “Toe het Noag ‘n altaar vir die Here gebou en van al die rein vee en die rein voëls gevat en brandoffers op die altaar gebring. 21 Die Here het die offer aanvaar en Hy het by Homself gesê: “Ek sal nie weer so ‘n ramp oor die aarde laat kom vanweë die mens nie. Van sy jeug af bedink die mens net slegte dinge, maar Ek sal nie weer al wat lewe laat omkom soos Ek gedoen het nie. 22 So lank as die aarde bly bestaan, sal saaityd en oestyd nie ophou nie, ook nie koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie.”
Ons is geneig om dag en nag en die seisoene sommer as vanselfsprekend te aanvaar. Ons aanvaar dit moet maar so wees. Elke oggend sal die son opkom, tensy dit bewolk is, en dan sal dit weer aand word. Die somer sal daar wees en die winter sal daar wees, so ook lente en herfs, koue en hitte, saaityd en oestyd.
Dan is ons ook geneig om te dink as daar droogte is, dat God ons straf en dat ons net gou moet bid en ons verootmoedig en dan sal God alles weer laat normaliseer.
Maar hierdie drie verse moet ons lees in konteks van die sondvloed en daarna vanaf Gen 6v5-9:28. God het vanweë die mens se verskriklike sonde en verdorwenheid nadat Adam en Eva gesondig het en al die mense daarna, deur die sondvloed laat omkom. Die hele aarde is met water bedek en net agt mense, Noag, sy vrou, sy drie seuns en hulle dogters, met al die diere, het in die ark ingegaan en oorleef. Dit was ‘n verskriklike oordeel wat God oor die aarde gebring het.
Maar nou het God by Homself gedink en vir Homself gesê, lees ons in Gen 8:21,22 “…“Ek sal nie weer so ‘n ramp oor die aarde laat kom vanweë die mens nie. Van sy jeug af bedink die mens net slegte dinge, maar Ek sal nie weer al wat lewe laat omkom soos Ek gedoen het nie. 22 So lank as die aarde bly bestaan, sal saaityd en oestyd nie ophou nie, ook nie koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie.”
Die sondvloed het die normale seisoene vir ‘n jaar lank laat ophou, maar nou het God belowe dat die normale verloop van die seisoene soos wat Hy dit geskape het nooit weer sal ophou, so lank as wat die aarde bly voortbestaan nie.
Daar word so baie geskryf en gepraat van klimaatsverandering, maar hier is die belofte dat die seisoene sal aangaan, tot met die wederkoms. Die aarde en alles daarop behoort aan die Here Ps 124:1 “’n Psalm van Dawid. Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here,…”
In Gen 8;22 het ons die versekering elke dag en nag, elke seisoen dat God in beheer is. Sy volle toorn het Sy Seun Jesus Christus vir ons gedra en aan die kruis betaal. God sal nooit weer ons met ‘n sondvloed straf nie. Die verdere teken is natuurlik die reënboog wat Hy in die wolke vir ons gegee het. Gen 9:16,17.
Die grootste belofte is natuurlik dat aan die einde van die dae, wanneer die werderkoms daar is, in die hemel sal daar nie meer seisoene en dag en nag wees nie, daar sal net ewige lig, God self, en vreugde wees. Open 21:23-25 23 “Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. 24 Die nasies sal in die stad se lig lewe, en die konings van die aarde verleen luister daaraan. 25 Die poorte daarvan word gedurende die hele dag nooit toegesluit nie: daar sal nie meer nag wees nie.”
Eers in die hemel sal hierdie verbond, hierdie belofte wat God by Homself gemaak het in vervulling gaan. Daar sal nie meer dag en nag, seisoene, planttyd en oestyd wees nie, maar daar sal God alles wees in almal en sal ons Hom elke dag loof en prys.
Kom ons bid saam Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com
Abram het geglo en die HERE het hom dit tot geregtigheid gereken. Die HERE het aan Abram die reg toegereken om sy kind te wees, deur sy onwrikbare geloof. Daarby staan twee beloftes sentraal: ‘n nageslag en ‘n land. Die HERE leer ons dat ‘n toekoms vol hoop nie sonder grond en kinders moontlik is nie. As jy nie ‘n nageslag het nie, sterf jy uit, en as jy ‘n nageslag het, moet hulle tog behoort. Hulle moet ‘n plek hê om te bestaan.
So sluit die HERE met Abram ‘n verbond en gee aan hom en sy vrou nuwe name. Abraham, die vader van menigte. In Abraham, dit is deur die geloof, kom die seën van die HERE deur sy vrou Sara. So word vervul wat ook aan Eva beloof is, die vooruitsig van ‘n Verlosser.