Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Daniël (Page 2 of 3)

Staan vas in jou geloof, God het bepaal wat in die toekoms gaan gebeur

Skriflesing: Daniël 11
Teksvers: Daniël 11:21, 44 en 45

Die Here openbaar in Daniël 11 aan sy kinders watter verskriklike tyd gaan aanbreek wanneer die Antichris, in persoon, in al sy woede net voor die wederkoms van Jesus Christus teen die gelowiges gaan optree.
Daniël 11 fokus eerstens op die opkoms van die antichristelike regering van Antiochus Epiphanes in ongeveer 168vC. Jesus het ook in die evangelies aan die dissipels verkondig dat die tipe lyding wat Antiochus Epiphanes veroorsaak het, ook ‘n werklikheid sal wees in die tydperk van ongeveer 70nC. Dit is met die verwoesting van die tempel. Die einde van die verskrik-like vervolging en lyding van die gelowiges sal in die tyd net voor die weder-koms van Jesus Christus op sy ergste wees volgens Openbaring.
Om staande te kan bly in die stryd en vervolging deur die antichristelike magte en eindelik die Antichris self, is daar nou tyd om jou voor te berei en toe te rus deur die werk van die Heilige Gees. Net die wat in Jesus Christus glo, sal die genade ontvang om te volhard tot met die wederkoms van Jesus Christus.

Laai af

Wees voorberei vir die finale aanslag van die duiwel

Skriflesing: Daniël 10
Teksvers: Daniël 10:12

Daniël 10 -12 handel oor die gebeure rondom die verbondsvolk in die eind-tyd. Hierdie laaste drie hoofstukke van die boek Daniël vorm ’n eenheid wat:
(1) die verskyning van ’n hemelwese as voorbereiding vir die openbaring beskryf,
(2) die beskrywing van die openbaring gee,
(3) en die uitleg daarvan gee. In Daniël 10 word daar stilgestaan by die verskyning van ‘n hemelwese wat dien as voorbereiding van die openbaring wat in Daniël 11 en 12 verder omskryf word.
Die vraag is hoe ons as gelowiges ons kan voorberei op die aanbreek van die eindtyd.
Mag jy geestelik wakker wees en jouself voor die Here verootmoedig om staande te kan bly wanneer daardie tyd sal aanbreek.

Laai af

God bly, ten spyte van alles wat in die wêreld gebeur, in beheer

Skriflesing: Daniël 8
Teksvers: Daniël 8: 20-26

In hierdie hoofstuk verduidelik die engel Gabriël aan Daniël waarop die toorn van God gaan uitloop in die eindtyd. Hier word na wrede- en bose heersers deur die eeue heen gekyk.
Wanneer die Antichris in persoon op die toneel verskyn, is dit die tyd wat die sonde en goddeloosheid sy hoogtepunt bereik. Hy sal baie sterk word, bloot maar net omdat die Here dit sal toelaat. Dan sal die einde van die wêreld aanbreek. Hy is ‘n verwoester van formaat, en behaal by dit alles, geweldige sukses. Hy sal selfs die volk van die Here doodmaak. Hy sal selfs in sy hoogmoed, oorlog teen die Here verklaar. Hierdie is baie swaar tye vir die gelowiges. Maar die Here sal Hom vernietig.
Geweldige wreedheid, magsbeheptheid en wreedheid voer dus in hierdie hoofstuk die botoon. Sal jy moed hou in jou geloof en vertroue in die He-re? Sal jy kan aangaan om die Here te dien onder druk van vervolging en wreedheid teenoor jou geliefdes en jouself?
Weet verseker dat net die Here vir jou deur sy Gees sal dra deur hierdie wrede en skrikwekkende tye.

Laai af

God heers as ewige Here

Skriflesing: Daniël 7
Teksvers: Daniël 7:13 en 14

In Daniël 7 en 8 word daar weer terug beweeg na die regerings-tyd van koning Belsasar van Daniël 5. Dit is opvallend dat Daniël juis in die tyd van die goddelose koning Belsasar hierdie drome en visioene gehad het. Op die kruin van goddeloosheid en uittarting van die lewende God, kom die Here om die gelowiges in ballingskap te versterk en te bemoedig.
Dinge sal uitmekaar val, koninkryke sal kom en gaan, swaar tye sal daar wees, maar die Here is die Een wat die finale en laaste sê het in die wêreldgeskiedenis.
Die koninkryk van God sal vir ewig bly bestaan. Dis jou anker en troos in hierdie gebroke wêreld waarin ons nou is. Mag jy moed hou en volhard in die geloof tot met die wederkoms van Jesus Christus.

Laai af

Dit is die Here alleen wat ons kan red en bevry

Skriflesing: Daniël 6
Teksvers: Daniël 6:27, 28

Het jy al gewonder wat jy sal maak as iemand jou konfronteer om te kies tussen jou lewe en jou geloof in die Here?
Op hierdie stadium van Daniël se lewe was hy al ‘n bejaarde man. Hy het niks gehad behalwe sy lewe nie. Vir hom was dit egter belangrik om aan die Here meer gehoorsaam te wees as aan mense. Sy verbondenheid aan die Here, het hom daartoe in staat gestel om eenvoudig sonder ophef of vertoon voort te gaan om die Here te dien, te prys en te smeek om genade.
Mag jy ook getrou bevind word in jou gehoorsaamheid aan die Here. Mag jou lewe ander mense lei om soos Darius tot die ontdekking te kom van Wie die Here werklik is.

Laai af

Die wat die Here minag, ontvang die oordeel van die Here

Skriflesing: Daniël 5
Teksvers: Daniël 5:22-28

Koning Belsasar het groot geword in die huis waar die Here vir koning Nebukadnesar met oneindige geduld gelei en gevorm het om tot volle geloofsoorgawe in Hom te kon kom.
Ten spyte van alles wat koning Belsasar gesien, gehoor en beleef het, het hy onverskillig teenoor die Here gestaan. Vandaar dan dat die Here so drasties optree teenoor hom. Die wat weet, die wat tot kennis van die Here gekom het en dit nogtans verwerp, sal die oordeel van die Here ontvang.
Jy het nog geleentheid om jou saak met die Here reg te maak. Mag die Heilige Gees jou lei om die Here met volle oorgawe en vreugde te dien.

Laai af

« Older posts Newer posts »