Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: 2 Kronieke

Rig jou oë op die Here

Skriflesing: 2 Kronieke 20:1-30
Teksvers: 2 Kronieke 20:12
HK Sondag 45

Koning Josafat sit vasgevang in ‘n geweldige krisis. Daar is ‘n leermag oppad waarteen hy sy eie volk nie kan verdedig nie. En hulle is al baie naby. Engedi is nie verder as twee dae te voet van Jerusalem af nie. 

Wat sal jy doen as die oorlog op jou voorstoep dreig? Josafat bid. En hy laat roep ‘n vasdag uit. Hy soek sy hulp van die Here. Hy beroep hom op die beloftes van God. 

Ons staan vanaand stil by die aangrypende gebeurtenis waar God self ingryp en vir sy volk oorlog voer, omdat hulle bid. 

Aanskou hoe die Here vir julle veg en loof Hom!

Skriflesing: 2 Kronieke 20:1-34
Teksvers: 2 Kronieke 20:17

As dinge vir ons té veel raak en ons skrik vir die omstandighede en die bedreigings van ons tyd, roep die Woord van die Here ons op om sy oorwinnings in herinnering te roep. Kyk hoe het Hy sy volk in die ou tyd telkens uit die grootste benoudhede verlos. Kyk dan na die Nagmaaltekens en weet: Die Here voer selfs die stryd vir ons. Ons is deel van sy koninkryk waarvan Hy die Oorwinnaar-Koning is! 

Oneindig groot is die Here in sy genade!!!

Skriflesing: 2 Kronieke 33; 2 Konings 21
Teksvers: 2 Kron 33:12, 13

Voordat Manasse in ballingskap weggevoer is, het hy die mees gruwelike sondes gepleeg. Hy was openlik uittartend teenoor die Here en het die Here op elke denkbare manier geminag.

Nadat die Here hom en die volk sonder sukses gewaarsku het, het Hy vir koning Manasse in groot vernedering en in pyn in ballingskap laat wegvoer. In die ballingskap het dit nog slegter met Manasse gegaan. In die diepste ellende het Manasse toe tot die Here sy God om genade gesmeek. Die Here het hom tot bekering gelei en Hy het opregte berou voor die Here getoon.

In die ballingskap het hy gebid om genade en uitkoms. Sy fokus was op die Here alleen. Die Here was hom genadig en het sy smeekbede verhoor en hom laat teruggaan na Jerusalem. Sy koningskap is herstel. Manasse het toe geweet dat die Here die enigste ware God is.

Sy hele lewe het verander en hy het hom aan die Here en die Here se saak toegewy tot met sy dood. Groot en oneindig is die Here se genade!

Laai af