Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Ou Testament (Page 1 of 63)

Omdat die Here lief het, bring Hy hoogmoed tot ‘n val

Skriflesing: Obadja 1 (2020)
Teksvers: Obadja 1:4

Aanvanklik het die Here vir Israel gestraf, omdat hulle aan die Here ongehoorsaam was. Toe hulle egter in ballingskap weggevoer was en probeer vlug het, het die Edomiete teen die Israeliete opgetree. Volgens Jeremia 49:9-16 het die Edomiete-hulle (Esau se nageslag) teen hulle broers (Jakob se nageslag) opgetree. Die tragiek van ‘n “broer-se-nageslag” teen ‘n ander “broer-se-nageslag” word hier uitgelig. 

Die Edomiete woon hoog en veilig in hulle vesting en voel onaantasbaar, maar die Here kom en straf die nageslag van Esau omdat hulle teen die Here se volk geveg het, hulle doodgemaak het en vervolg het. Die Edomiete het in hoogmoed hulleself as onaantasbaar beskou. 

Die Here maak die mense wat in hoogmoed en selfvoldaanheid lewe, nederig. 

Beantwoord geloofs-flouheid met gegronde kennis van die Here

Skriflesing: Jesaja 40:12-31 (2020)
Teksvers: Jesaja 40:28

Let fyn op vir tekens van geloofs-flouheid. 

Die geloofs-flouheid waarvan ons in Jesaja 40 hoor (vgl. v.27), kan in verskillende vorme by gelowiges voorkom. Voorbeelde: verslaenheid, verwardheid, moegheid en opstandigheid. 

Gegronde kennis van die Here is ʼn vereiste. 

Israel word tot gegronde kennis gelei (vgl. v.28). Die Verbondsgod het “eeue-uitsig”; werk met onbeperkte afstande; word nie moeg nie en sy insig kan nie deurgrond word nie. 

Vertrou Hom. Hy gee hoop én krag. 

Met kennis van die Here kan ek vol verwagting op Hom bly hoop. Wie op Hom wag, sal in die wagtyd voortdurend nuwe krag kry (vgl. v. 29-31). 

Kom ons weeg die Jubeljaar!?

Skriflesing: Jeremia 34; Lev 25; Gen 15; Deut 15:12-18; Exodus 21:2-6 (1983)
Teksvers: Jer 34:15,16

Die jaar 2025 nC sal in die annale van die Gereformeerde Kerk Centurion opgeteken staan as Jubeljaar. En ons het feesgevier en gejuig, want die Here was werklik goed vir ons. 

Dit sal jou goeddoen om weer na te dink oor die bedoeling van Lev 25 en soortgelyke verbondsbepalings vir Israel. Veral die herstel van verhoudinge deur o.a. die vrylating van alle Hebreeuse slawe. 

Die vraag vanoggend, as afsluiting van die tema vir 2025, is of ons gejubel van hierdie feesjaar darem bietjie dieper as die oppervlak gegaan het. 

Dit is nodig om jouself, op hierdie stadium van jou geloofslewe, te ondersoek of jy werklik het in geloof en in die heiligmaking gegroei. 

Hoe goed en lieflik!

Skriflesing: Psalm 133; Ef 4:3-6; Klaagliedere 3:21-25 (1983)
Teksvers: Psalm 133

Alles in die lewe is nie altyd “goed en lieflik” (Eng: good and pleasant) nie. Dawid smag na iets wat hyself ook maar min beleef het. 

Tussen hom en sy broers was dit maar ‘n narigheid. Tussen hom en sy werkgewers was daar heeltyd probleme. Selfs tussen hom en sy familie sou die swaard nooit meer wyk nie. 

Hierdie psalm is dus sy versugting en smagting na wat mooi en lieflik is: eenheid van die gelowiges… broers en susters wat in liefde saam aanbid en dien. 

Vandag kry u en ek weer die geleentheid om te midde van ‘n gebroke wêreld iets te beleef van dit wat werklik mooi en lieflik is. En dit vir ewig! 

God Vertroos deur Vergifnis

Skriflesing: Genesis 50:1-26 (2020)
Teksvers: Genesis 50:17-20

Jakob het gesterf, en ‘n geweldige groot begrafnis en rou het gevolg. Die tyd van die aartsvaders gaan verby. Maar Josef se broers is benoud want dalk sal hy nou reg in eie hande neem. 

Die vergifnis wat ons sien by Josef is nie ter wille van sy pa Jakob nie, maar ware vergifnis in die ewige God. Dit is wat ons Here Jesus ons leer by die nagmaal met sy dood, om ware vergifnis te vind in die Verlossing wat hy skenk. 

Vryspraak bring vertroosting. Vergifnis skenk Vryheid. So kan ons alleen vertroosting vind in die vergifnis van die Seun van God. 

Dink aan die kinders van Bet-El!

Skriflesing: II Konings 2:5-15, 19-25; Eksodus 20:4-6 (1983)
Teksvers: II Konings 2:23,24

‘n Eienaardige stukkie geskiedenis in die minimum verse. Twee-en-veertig kinders in Bet-El sterf ‘n wrede dood! Dink ‘n bietjie na oor die koerantstories of die video’s op sosiale media as dit vandag sou gebeur het. 

Na aanleiding van verlede week se besef uit Jakob se lewe dat ons moet aandag gee aan ons kinders se katkisasie en opvoeding en wat hulle van óns leer, is gevra dat ek weer hierdie gedeelte vir die gemeente in die prediking aanbied. So kyk ons dan na die straf van die Here oor die kinders wat met die heilige dinge van God mors. 

Waar kry ons die genade van God in hierdie storie? 

« Older posts