Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Romeine (Page 6 of 7)

Jesus se Kolskoot!

Skriflesing: Romeine 8:31-39
Teksvers: Romeine 8:34

Die agtergrond van die skrywer van Romeine is Paulus die regsgeleerde. Die brief is soos ‘n verslaggewer van ‘n hofsaak.

Hy begin by die aanklag daar is geen verdediging nie, daar is geen versagtende omstandighede nie, daar is geen appél nie, net skulderkenning.

Die uitspraak is: Skuldig tot die dood. Die vonnis is uitgespreek maar, dit is wat Paulus so mooi maak, dan tree die Advokaat na vore en verloop die hofsaak in die guns van God se kinders.

Jesus Christus tref die kol!

Laai af

‘n Nuwe mens in en deur Jesus Christus

Skriflesing: Romeine 8:1-17
Teksverse: Romeine 8: 1-3

In 2 Korintiërs 5:17 staan daar dat elkeen wat in Jesus Christus glo, ‘n nuwe mens word. Die vraag is of ek werklik ‘n nuwe mens in en deur Jesus Christus wil word? Immers wat is nou so verkeerd met my huidige lewe? Kyk ons na Romeine 8:1-3 dan is dit duidelik dat ons sonder Jesus Christus veroordeeldes is. Die Heilige Gees skep in die gelowige se hart ‘n innige verlange om al hoe meer nuut te word in Christus. Deur Jesus Christus se versoeningsdood het ons die wet van die Gees ontvang. Hierdie wet van die Gees maak elkeen vry van die dwingende en verwoestende mag van die wet van die sonde en die dood. Hierdie nuwe wet skep ‘n nuwe lewe en ‘n nuwe identiteit in Christus. Dit is moontlik gemaak toe God sy eie Seun mens laat word het en die sonde van die mens op Hom geneem het.
Dit is die verlange van elke gelowige om die wet van die Gees sy eie te maak. So sal jy as gelowige nie meer in die mag van die wet van die sonde en die dood vasgevang bly nie, maar werklik vry word om in en deur Jesus Christus oor die sonde te heers. Mag jy groei in die nuwe lewe in Christus alleen.

Laai af

Redding is enkel en alleen ‘n genadedaad van die Here

Skriflesing: Romeine 1 en 8
Teksvers: Rom 1:20-22; 8:3
DL: Hoof 3 & 4. Punt 4 – 6
HK: Son 7 (21) en 25 (65)

Oor die eeue heen was daar al baie dinge gesê oor die positiewe en of negatiewe beskouings ten opsigte van die mens. Sommige mense is oor optimisties oor die mens en ander word weer aangekla dat hulle hiper negatief is oor die wese van die mens. Wat is jou mening oor die mens vandag? Is die mens op sy eie tot iets goeds in staat? Daar is ‘n algemene siening in die wêreld dat die meeste mense darem weet wat goed en sleg, reg of verkeerd is. Dit word die sg “lig van die natuur genoem”.

Om die vraag na die goeie en of slegte aard en wese van die mens te bespreek, laat die opstellers van die Dortse Leerreëls, hoofstuk 3 & 4, punt 4 tot 6 die lig van die Here skyn oor drie sake:

  • ‘n Mens kan nie gered word deur die sg “lig van die natuur” nie.
  • ‘n Mens kan nie gered word deur die onderhouding van die wet nie.
  • ‘n Mens kan slegs gered word op grond van die genade van die Here wat deur die Heilige Gees en die Woord van God, ons harte oopmaak vir die Blye Boodskap van redding en genade.

Laai af

Erfsonde en die gevolge vir die mens

Skriflesing: Romeine 5
Teksvers: Rom 5:12-14
DL: Hoof 3 en 4: Punt 1-3
HK: Sondag 2-4

Die Dortse Leerreëls (DL), hoofstuk 3 en 4 handel hoofsaaklik oor drie aspekte, nl:

  • Die verdorwenheid van die mens,
  • Die bekering tot God en
  • Die wyse waarop die bekering tot God plaasvind.

In die prediking sal daar vanuit Romeine 5 na die erfsonde en die gevolge vir die mens gekyk word. Die reformatoriese kerke wat die erfsonde bely, staan teenoor mense wat:

  • Glo dat die mens van nature goed gebore is
  • en teenoor mense wat dink dat die bose wat in die mens se hart is, bloot aangeleerde slegte gedrag is.

Voordat ‘n gelowige kan smag na verlossing, is dit nodig om eers te weet hoe gebroke die mens sonder Jesus Christus is.

Laai af

Sola Gratia! Loof die Here!

Skriflesing: Rom 8
Teksvers: Rom 8:28-30

Die Dortse Leerreëls (DL) is een van ons gereformeerde belyde-nisskrifte. Ek is redelik oortuig dat baie mense dit nog nooit of weinig gelees het. Dit is egter ‘n pragtige troosboek. U word aangemoedig om dit so gou moontlik deur te lees (of deur te blaai) en weer uself te vergewis waarvan daar gepraat word. (U vind dit op GKSA se webblad of op ons eie kerk se webblad of agter in jou Psalmboek)

Die DL is in 1619 gefinaliseer, dus presies 400 gelede. Die Here het by hierdie sinode die kerk op ‘n baie spesifieke manier gelei om antwoorde te gee op die destydse dwaalleer wat die kerke bedreig het. In breë trekke sien ons iets van die KETTING van goddelike genade in ons verlossing.

Vanaand begin die drie leraars met ‘n reeks oor die DL wat ten minste oor die volgende ses maande tydens die aanddienste sal strek. U wil dit nie eintlik misloop nie!

Laai af

« Older posts Newer posts »