Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Nuwe Testament (Page 85 of 129)

Ons ontrou teenoor God se getrouheid! Die grootste troos van genade! GOD BLY GETROU!

Skriflesing: 2 Tim 2:1-13 
Teksvers: 2 Tim 2:13; Psalm 33:4,5 

Ons sterkte lê nie in ons eie krag, of óns groot geloof nie. Ons sterkte lê in Jesus Christus Dit gaan oor die onverdiende genade wat God aan ons gee deur Jesus Christus. Daarom moet ons in harmonie met ons medegelowiges saamleef. Ons het die wonderlike belofte van genade. God se genade aan ons is onverdiend aan ons gegee. Hierdie wonderlike genade dien tot ‘n ontsettende groot troos vir elke Christen. Dit klink asof hierdie laaste drie verse voorwaardelik is vir redding. Nee, die teendeel is juis waar, vanweë ons geloof uit genade is ons bevoorreg om te weet dat God is altyd getrou. Ons gaan na drie sake kyk: 

  • Ons lewe deur Jesus Christus. 
  • Ons regeer deur Jesus Christus. 
  • Ons leef vanweë Jesus Christus se getrouheid. 

Verloën jy Jesus of wen jy die geestelike stryd met ‘n Oorwinningsperspektief?

Skriflesing: Luk 22:1-71; 1-6; 14-23; 31-34; 47-53; 54-62 
Teksvers: Luk 22:3-6; 21-23; 31;47,48; 60-62 
HK Sondag 52 

Judas Iskariot, self ‘n dissipel op sy tyd en Petrus, self ‘n lieflings-dissipel, verloën onse Here Jesus Christus. Dit is ‘n bewys van die skrikwekkende sondemag. 

Weens die sonde is ons in ‘n ononderbroke geestelike stryd teen die Satan, die sonde en ons eie vlees gewikkel. Ons moet nie een oomblik ons waaksaamheid verslap nie, want ons verkeer gedurig in die versoeking. 

Daarom dat ons Here Jesus Christus ons ook geleer het om te bid:…. 

“Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.” 

Van Stryd tot Oorwinning in en deur Christus

Skriflesing: 2 Tim 4:6-8 
Teksvers: 2 Timoteus 4:6-8 

Vandag doen 21 kinders van ons gemeente Publieke Belydenis van Geloof in Jesus Christus! Ons kyk terug op die opvoedingspad en dan vorentoe na die stryd wat nog voorlê… 

Ten minste gee die Here ook die belofte van oorwinning! 

Onthou die jaartema: Meer as Oorwinnaars deur Hom! Meer as net wenners in hierdie lewe. Daar wag ‘n kroon (Grieks:stefanos)van oorwinning! Dit opsigself dra al die belofte van die oorwinning. En dan word dit genoem ‘die kroon van geregtigheid’! 

Laat ons mooi nadink oor die stryd op die pad vorentoe, maar vashou aan sy beloftes! Daar wag ‘n groot verrassing .

Jou vra om vergifnis moet ook vergewensgesind wees!

Skriflesing: Matt 18:21-35; Lukas 7:36-50 (Matt 6:9-14; 1 Joh 1:5-10) 
Teksvers: Luk 7:47; Matt 18:31-33 
HK Sondag 51 

Die bede om brood en die bede om vergifnis word in Matteus 6:12 met die woordjie “en” aan mekaar verbind. Die mens het beide ewe nodig: brood vir die liggaam en vergifnis vir die siel! So leer die Woord ons dat die mens nie net van brood alleen sal lewe nie… Daar is dus ‘n heilige balans tussen die stoflike en geestelike. 

As jy egter mooi nadink, is die laste van jou sondeskuld veel erger as broodsgebrek. Die las van ‘n skuldige gewete en skuldgevoelens is dikwels die oorsaak van gebroke verhoudinge. Dit kan net heel word deur ware vergifnis. Vir daardie regte gesindheid moet ons bid. Vergifnis genees en heel. Daarom leer Jesus ons om te bid vir vergewing, mààr dan ook vir ‘n gesindheid waarin ek ook van harte gewillig is om my naaste opreg te vergewe.

Laat ons die wedloop met volharding hardloop

Skriflesing: Heb 12:1-4; 1 Kor 9:24-27 
Teksvers: Heb 12:1-3 

As Paulus vandag geleef het, sou hy heel waarskynlik die sport-bladsye van die koerante elke dag gelees het. Want in baie van sy briewe gebruik hy die beeld van atlete, wedlope, oorwinning en hoe ‘n wedloop gehardloop moet word. 

In ons teksverse skryf hy juis ook hoe ‘n atleet met volharding ‘n wedloop moet hardloop. Is jy besig met die geloofswedloop. Hierdie is nie ‘n fisiese wedloop nie, maar ‘n geloofswedloop. Dit het baie raakelemente met ‘n gewone wedloop maar verskil ook baie. 

Maar daar is een groot gemeenskaplike faktor, VOLHARDING. Ons kan ook volharding vertaal met blydskap, aanhoudende volharding, om met blydskap nie op te hou om te probeer nie. 

Maranata! Laat u Koninkryk Kom!

Skriflesing: Openbaring 22; I Korintiërs 16:22
Teksvers: Openbaring 22:20
HK Sondag 48

“Laat die genade kom en laat hierdie wêreld verbygaan! Amen.
Hosanna vir die Seun van Dawid!
As iemand heilig is, laat hy kom!
En as iemand onheilig is, laat hy hom bekeer!
Maranata! (I Kor 16:22) Amen”


Dié woorde kom uit die eerste eeu n.C. uit die geskrif DIDACHé as aantekening by ons teksvers Op 22:20. Byna 2000 jaar later het die Here nog nie hierdie gebed verhoor nie… wel nog nie volledig nie. Die koninkryk se koms het immers ‘n ‘reeds en ‘n nog-nie’-perspektief, want die koninkryk is hier én aan die kom, en dààrvoor leer die Here Jesus ons bid in die tweede bede. Die koms van die koninkryk geskied op verskeie wyses en ons kyk daarna onder die volgende punte:

  • Die (weder)koms van Christus.
  • Die koms in mense-harte.
  • Die koms deur mense-hande.
  • Die koms deur ons mense-stryd.
« Older posts Newer posts »