Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Johannes (Page 4 of 14)

Oordenking 27 Junie

“Die EK IS… uitsprake in evangelie van Johannes!”

Vir die volgende paar weke gaan ons kyk hoedat God en Jesus Christus hulleself aan ons openbaar in die” “EK IS…” uitsprake in die Bybel.
Ons kan vra, maar: Hoekom is dit nodig dat ons dit behandel?
• Ons ken mos God die Vader as ons skepper en onderhouer.
• Ons ken mos Jesus Christus as ons Verlosser, Saligmaker.
• Ons ken die Heilige Gees as ons Trooster wat in ons woon en bly.

Maar God openbaar Homself aan ons sodat ons nog meer vertroos en versterk in hierdie lewe kan wees.

Het jy ook al die vrae gehoor: Waar is God, dat Hy ons dan nie van die Covid virus bewaar nie? Waar is God wat sonde toelaat? Hoekom het God dan toegelaat dat daar oorloë hongersnood, selfmoord, egskeidings ens. is.

So het God aan Abraham belowe dat hy ‘n groot nageslag sal hê wat in Kanaän sal bly. Maar nou was daar ‘n droogte en hongersnood in Kanaän en moes Josef en sy hele familie na Egipte verhuis om te oorleef. En nou is hulle slawe in Egipte. Eers was hulle vry en nou is hulle slawe.

Is dit nie wat in Suid Afrika ook aan die gebeur is nie? Eers was Suid Afrikla ‘n welvarende land, ‘n land onder die 20 welvarendstes in die wêreld. Nou het Suid Afrika “Rommelstatus” bereik. Waarheen is die land heen op pad? Waar is God wat ons moet bewaar?

Israel het byna dieselfde lot gehad net nog baie erger in Egitpe.

Israel is uit Kanaän na Egipte vanweë hongersnood. Daar het hulle slawe geword. Hulle het gekerm en gekla en God het hulle gekla gehoor. En God roep en stuur vir Moses om die volk uit Egipte te lei!
• En Moses moet vir Israel sê Wie hom gestuur het!
• Sal hulle glo dit is die Almagtige God?
• En God sê Moses moet aan die volk sê: Ex 3:14 “En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur.”

God verduidelik wat sy Naam beteken.

God OPENBAAR Homself aan Moses en aan Israel.
God sê “EK IS WAT EK IS!”
Dit beteken dat God is betroubaar. God is onveranderlik. Onveranderlik beteken juis dat God betroubaar is. Ons kan op God staatmaak. Al verstaan ons nie altyd alles nie. God bly dieselfde God. Dit is ons wat verander. Dit is ons wat vir onsself leef en God vergeet. Ons kan ook vandag op God staatmaak.

God het Israel uit Egipte verlos en gelei. Vir 40 jaar deur die woestyn, maar hulle het Kanaän binngetrek. Hulle het swaar gekry, maar God het getrou gebly.

God, “EK IS WAT EK IS…” lei ons vandag ook nog.

Al kry on sook hoe swaar. Al gaan dit swaar in die land. Al het ons Rommelstatus bereik. God is by ons en lei ons, wat Hy is betroubaar, Hy is wat Hy is. Hy bly altyd dieselfde van geslag tot geslag.

Ook aan ons is die hemel, die ewige Kanaän, belowe. Ons wat in Jesus Christus glo sal ook eendag in die hemel kom. Dit is belowe en Jesus Christus het reeds vir ons daar plek gaan voorberei. Maar ons trek nog deur die geestlike woestyn wat ook ‘n fisiese swaarkry is. Alles op aarde is nie rosegeur en maanskyn nie. Ons kry swaar omdat ons God vergeet het. Maar daarom openbaar Jesus Christus Homself met sewe Ek is uitsprake om ons te vertroos en te versterk. Hy openbaar Homself in die evangelie van Johannes met sewe Ek is uitsprake. Dit is wat ons gaan behandel vir die volgende paar kere.

Sewe “Ek is….” uitsprake in die evangelie van Johannes.
Joh 6:35 “Ek is die brood wat die lewe gee.”
Joh 8:12 “Ek is die lig vir die wêreld.”
Joh 10:7-9 “Ek is die ingang vir die skape.”
Joh 10:11-14 “Ek is die goeie herder.”
Joh 11:25-26 “Ek is die opstanding en die lewe.”
Joh 14:6 “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.”
Joh 15:1,5 “Ek is die ware wingerdstok en my vader is die boer.”

Daarna gaan ons na nog drie “Ek is ….” Uitsprake in die boek Openbaring kyk.
Open 22:12 “Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die einde.”
Open 22:16a “Ek is die Wortel, dit is, die Nakomeling van Dawid”
Open 22:16b “Ek is die helder môrester.”

Mag ons almal versterk en vertroos word deur hierdie reeks dat Jesus Christus vir ons die brood, die lig, die ingang na die hemel, die goeie herder, die opstanding, die ewg en die waarheid en die ware wingerdstok is.

Ds Gerrit Kruger; Gereformeerde Kerk Centurion. Sel 082 964 5595; gskruger1@gmail.com

Bronne
Coetzee. C.(red) 1984 Quo Vadis? http://www.cjbf.co.za/uitreik/quovadis/qv185.pdf

Die Heilige Drie-eenheid! 

Skriflesing: Joh 14:15-31; Jes 63:7-16
Teksvers: Joh 14:25,26:
HK Sondag 8

Kan ons die Drie-enige God verduidelik? 

Indien wel, hoe kan ons Hom verduidelik? 

Daar is al baie pogings deur gelowiges aangewend om God te probeer verduidelik. 

Ons belydenis is egter wat die Woord aan ons leer. 

NGB art. 1

“Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar ‘n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem. Hy is Ewig, Onbegryplik, Onsienlik, Onveranderlik, Oneindig, Almagtig, Volkome wys, Regverdig, Goed en die Alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.” 

Hier bely ons dat God Onbebryplik is. 

Kan ons God dan hoegenaamd verduidelik? 

  • Nee ons kan nie! 
  • Ons glo wat God in die Woord van Homself openbaar. 

Oordenking 1 Junie

Vervulling met die Heilige Gees!

Lees: Joh 14v15,16,17
15 “As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.
16 Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te
wees,
17 naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom
nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”

Bron Kruger GS Julie 27 2018 Gereformeerde kerk Centurion.

Hoe word jy vervul me die Heilige Gees?
Wat beteken dit om vervul te wees met die Heilige Gees?

“In die Nuwe Testament word daar nêrens aan die mense die eis gestel: word wedergebore of word met die Heilige Gees gedoop nie. Maar wel verneem ons telkens met betrekking tot die Heilige Gees ’n hele aantal bevele:
• “word vervul met die Gees” (Ef 5:18);
• “wandel deur die Gees” (Gal 5:16);
• “as julle deur die Gees gelei word” (Gal 5:18, voorwaardelik gestel);
• “wees heilig” (1 Petr 1:16).” (Floor.1979:116)

God gee in Christus, uit vrye genade, aan al Sy kinders, sy lewendmakende Heilige Gees. Jesus Christus het ook aan ons geleer in Joh 14:16,17, “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: 17) die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”

Ons moet onderskei tussen die “inwoning” en “vervulling” van die Heilige Gees. Die Heilige Gees word aan al God se kinders gegee, (Ef 1:13) die oomblik van wedergeboorte, sodat hulle kan glo. Niemand kan uit eie inisiatief in God glo en die verlossing verkry as God dit nie aan jou gee of dit aan jou openbaar nie. (Gal 3:2) Daarom bly die Heilige Gees in al God se kinders.
Maar omdat ons die Gees ontvang het, die kosbare heilige geloof, moet ons ook groei in die geloof, in kennis en vertroue, Gal 3:2.

Daarom moet ons ook biddend die Bybel lees, en doelbewus van die sonde wegvlug en ons volmaak met die sake van God. In Psalm 19:14 leer ons: “Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!”

Om daarom met die Heilige Gees vervul te word, beteken dat ons elke dag biddend ons sondes moet bely, wegvlug van die sonde af, en in gehoorsaamheid ons aan God toewy in gedagtes, woorde en werke. Dan het die Gees ’n vrye werking in ons om ons te lei. Sodoende word ons ook elke dag deur God se genade gelei om ’n al heiliger lewe te lei en meer en meer met die Heilige Gees vervul te word.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Jesus se bevel en opdrag: Julle moet mekaar liefhê!

Skriflesing: Joh 15:1-17; 1 Joh 4:7-21; Mat 22:34-40
Teksvers: Joh 13:34; Joh 15:9,12,17; 1 Joh 4:8; Kol 3:14; 1 Pet 1:22; 4:8

Jesus noem homself die ware/egte wingerdstok en sy Vader is die boer en almal wat in Jesus Christus glo, is die lote of takke van die wingerdstok. Die lote of takke word ook in twee kategorieë verdeel, die wat vrugte dra en die wat nie vrugte dra nie. 

Om vrugte te dra, moet die lote of takke gesond wees, vas aan die wingerdstok vanwaar die lote al hulle lewenssappe vandaan kry om vrugte te dra. Dit kan alles net gebeur as daar werklike liefde is. Liefde is die oorheersende en groot begrip van al die verhoudinge in die lewe. 

  • Die Vader het sy Seun lief. 
  • Die Seun het ons lief. 
  • Ons moet mekaar liefhê. 

Wat is waarheid?

Skriflesing: Johannes 18:28-40
Teksvers: Johannes 18:37-38
HK Sondag 43

Christus se Koningskap is vir ons as gelowiges bekend en reg, maar u kan maar net dink hoe vreemd dit moes geklink het vir Pilatus. Dat ‘n arm Galilese man, wat skynbaar hulpeloos is, met ‘n klomp visserman-vriende, aanspraak maak op Koningskap. 

Christus se Koningskap is egter geheel en al gerig op die waar-heid. Daarvoor is Hy gebore en daarvoor het Hy in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. 

Ons staan vanaand stil by die 9de gebod in die lig van Jesus se waarheids-getuienis in ‘n wêreld verward oor die waarheid. 

Liefde vir die Vader en vir Jesus Christus word in gehoorsaamheid geopenbaar.

Skriflesing: Joh 14:15-31
Teksvers: Joh 14:21

Die liefde van God word in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is. Rom 5:5. Daarom weet elke wedergebore kind van God dat God hom/haar liefhet. Daarom kan en wil ons nie anders as om gehoorsaam te wees aan God se gebooie nie. Dit is die Heilige Gees wat die wonderlike troos in ons harte vasmaak, deur die lees van die Woord en die versterking van die Heilige Nagmaal. Hierdie versterking kom onder andere deur drie sake na ons toe: 

  • Jesus Christus se openbaring reeds in die verlede aan ons. 
  • Jesus Christus se openbaring nou in die hede aan ons. 
  • Jesus Christus se openbaring in die toekoms aan ons. 
« Older posts Newer posts »