Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: 1 Petrus (Page 3 of 7)

Oordenking 13 April

Dat ek ly vir Jesus Christus, is goed vir my!

Donderdag 13 April 2023
Lees: 1 Petr 3:17-22 17 “As dit die wil van God mag wees dat julle moet ly wanneer julle goed doen, is dit beter só as om te ly wanneer julle kwaad doen.”
Ps 119:75 “Dat U my laat swaarkry, is ‘n teken van u trou.”

Die lyding vir ons as christene gaan toeneem, namate die wederkoms naderkom. Lyding veral omdat ons as christene wil lewe soos wat God wil hê ons moet lewe. Christene wil veral die goeie doen soos wat Paulus aan ons leer in Rom 7:19. Ons wil veral ‘n lig wees vir die wêreld volgens Mat 5:15.

Die goddelose wêreld hou nie van christene wat goed doen nie. Ons lees so duidelik in
1 Petr 2:12 “Gedra julle altyd goed onder die heidene, sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.”

Weereens wys Petrus aan ons dat ‘n goeie lewenswandel, nie ‘n waarborg is dat die gelowiges teen lyding gevrywaar sal word nie. Dit is juis as ek goed doen, dat ek na die wil van God soek.

Wat is goed doen of goeie werke? (Heidelbergse Kategismus Sondag 33 vr en antw 91)

“Slegs die…
• wat uit ‘n ware geloof,
• volgens die wet van God,
• tot sy eer gedoen word
en nie die …
• wat op ons goeddunke
• of op oorlgelewerde gebruike van mense gegrond is nie.”

As ons dus goeie werke doen tot eer van God, sal die wêreld, die Satan en die goddelose mense nie van ons hou nie. Maar as dit tot eer van God is, is dit goed. As ons moet ly of lyding daarom moet ervaar omdat ons goed doen, dan is dit vir ons goed.

Dit kan wees dat God die beproewing oor ons bring vir ‘n heilige doel. 1 Petr 1:6-7 “Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings 7 sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.”

Daar kan ‘n sterk versoeking wees om kwaad met kwaad te vergeld, maar dit word verbied.
1 Petr 3:9 “Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel antwoord met ‘n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry.”

Leef dus tot eer van God selfs al moet ons ly in hierdie wêreld twv ons geloof in ons Here Jesus Christus. Ons leef tot eer van God. Ons ly dikwels omdat ons goed doen.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 3 April

Jy moet heilige eerbied vir Christus in jou hart hê!

Maandag 3 April 2023
Lees: 1 Petr 3:13-15
15 “In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.”

In die lewe vandag is dit net al hoe moeiliker om totaal en al vir Christus te leef. Dit is ‘n stryd om te oorleef. Jy moet werk vir geld om te kan kos koop, om ‘n dak oor jou kop te hê, om te jou kinders se opvoeding te betaal, maar ook om vakansie te hou en die lewe te geniet. Alles word in die stryd gewerp om te kan lewe en goed te kan lewe.
• Daarom is daar dikwels in ons harte ‘n groter vrees dat ons dit op aarde nie sal maak nie as wat ons bang is dat ons voor God nie sal maak nie.
• Daarom lei ons dikwels ‘n swaar lewe omdat ons keuses eers is vir die skool, ons werk, ons verpligtinge teenoor die wêreld as dat ons alles biddend moet doen tot eer van God.

Wat beteken dit dat daar net heilige eerbied vir Christus in jou hart moet wees?
Dit beteken…
• Jy moet alles oorgee aan Jesus.
• Lewe alleen om Jesus Christus te vereer en te verheerlik.
• Wees eerder bang as jy mense plesier of vereer i.p.v. vir Jesus Christus.

God gee groot genade ook as ons ly! Daar is groot genade as ons ly vir Jesus Christus.

Die vrees (eerbied) vir die Here oorwin of is meer belangrik as alle ander vrees!
Jes 8:13-14
13 “Julle moet die Here die Almagtige eer as die Heilige. Vir Hom moet julle vrees en vir Hóm moet julle bang wees.
14 Hý sal vir julle ‘n veilige beskutting wees, maar vir die twee koninkryke Juda en Israel sal Hy ‘n klip wees waarteen ‘n mens jou stamp, ‘n rots waaroor jy struikel. Vir die inwoners van Jerusalem sal Hy ‘n vangnet en ‘n strik wees.”

Ons vyande kan ons seermaak, maar hulle kan ons nie skade aandoen nie. Dit is net onsself wat ons kan skade aandoen as ons nie gehoorsaam is aan God en sy Woord nie. Ons kan onsself skade aandoen as ons nie volkome op God vertrou nie. Niemand neem iemand anders kwalik as hy goed doen nie, maar as jy dit in die Naam van Jesus Christus doen, dan is daar dikwels teen-stand. Maar salig, gelukkig, geseënd is ons as ons doen wat God vra en gehoorsaam is aan sy Woord, al moet ons lyding ervaar. Hierdie saak word in diepte aan ons geopenbaar 1 Pet 4:12-19.

Wanneer Jesus Christus die Koning en Here van ons harte is, word elke krisis ‘n geleent-heid om te getuig van Jesus Christus. In vers 15 staan daar in die grieks dat ons altyd bereid moet wees om ‘n “apologia” – apologie te gee teenoor almal. Apologie beteken nie om te sê: “Ek is jammer nie!” maar dit beteken om ‘n weldeurdagte antwoord te gee vanuit die geloof.

‘n Krisis in die lewe van ‘n christen, skep die geleentheid om te getuig van jou geloof en lewende hoop in Jesus Christus. Ongelowiges behoort dan te kan sien maar ons as christene het ‘n sekere en vaste hoop. Ons is nooit hopeloos of verlore nie, maar ons sien uit na ‘n heerlike ewigheid by ons Hemelse Vader. Ons getuienis moet gegee word met sagmoedigheid vrees, respek, en nie met arrogansie en ‘n weet-dit-alles-houding nie.

Om dus heilige eerbied vir Jesus Christus in jou hart te hê, is …
• om volgens Mat 6:33, skatte in die hemel vir jou bymekaar te maak,
• om volgens Rom 12:1-2 jouself as lewende dankoffer aan God toe te wy en
• om volgens 1 Petr 2:5 jouself as ‘n lewende bousteen te laat opbou.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Gekies vir ‘n taak

Skriflesing: 1 Petr 2:1-10 
Teksvers: 1 Petr 2:9,10; Ex 19:5-6; Jes 7:6 

Dit is altyd ’n voorreg om gekies te word om ’n besondere taak te verrig. Die rede hoekom jy gekies word lê dikwels in wat jy alreeds in die lewe bereik het. 

Jy word byvoorbeeld vir ‘n sportspan gekies omdat jy goed presteer in die sport. Jy word as leier by die skool gekies omdat jy leierseienskappe openbaar. Jy word gekies dikwels vanweë iets wat jy al bereik het. 

Ons is deel van die kerk, omdat ons sekerlik aangesluit het om te glo. Maar hoekom glo ons? Omdat God ons daartoe gelei het. Ons is gekies vir ’n taak. 

Dit is oor hierdie taak waaroor ons vanaand gaan luister na die Woord. 

Oordenking vir 30 Maart

Hoe ‘n christen in die wêreld moet lewe!

Donderdag 30 Maart 2023
Lees: 1 Petr 3:8-12

Onthou dat Petrus hierdie brief geskryf het aan die gelowiges wat verspreid gewoon het in die Noordelike streke van die destydse Klein-Asië, dit is die hedendaagse Turkye. Petrus het hierdie brief geskryf om die gelowiges wat ter wille van hulle geloof vervolg en onderdruk is, te bemoedig.

Hoe moet ‘n christen optree as hy verdruk en onderdruk word. Die swaarkry waarvan hier gepraat word, dui op die dag tot dag lyding wat hulle moes verduur en nie noodwendig op die vuurproef waarvan ons in 1 Petr 4:12 en verder lees nie.

Hoe moet ons as christen optree as ons verdruk word?

Daar moet wedersydse liefde in die kerk wees. Liefde is ‘n deurlopende tema in die brief van Petrus. Dit gaan nie net oor God se liefde vir ons nie, maar dit gaan ook in besonder oor ons liefde vir mekaar.
• Petrus self moes hierdie soort liefde op dieselfde manier leer.
• Hoe geduldig moes Jesus nie wees met Petrus se voortvarendheid nie?
• Petrus wat vir Jesus wou veg en Malgus se oor afgekap het. (Joh 18:10)
• Petrus wat op die water wou loop en toe het hy kleingelowige geword. (Mat 14:31)
• Petrus wat Jesus self drie maal verloën het. (Luk 22:61)

Soos wat die hele wet deur Jesus opgesom is as ‘n liefdesgebod lees ons in Mat 22:34-40, so leer ons in Rom 13:8-10 dat liefde die volle uitvoering van die wet is.
Rom 13:8 “Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.”

As christen kan ons op drie maniere leef:
• Ons kan kwaad vir goed vergeld.
• Ons kan kwaad vir kwaad en goed vir goed vergeld.
• Ons kan goed vir kwaad vergeld, wat die heilige wil van God is. Jesus Christus het self hierdie voorbeeld gestel lees ons in 1 Petr 2:21-23 “21 Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ‘n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg. 22 “Hy het geen sonde gedoen nie en uit sy mond het daar nooit ‘n leuen gekom nie. 23 Toe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie, toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel.”

Samevattend leer Petrus hier aan ons, dat ons mekaar moet liefhê, ons vyande moet liefhê en die lewe moet liefhê. (1 Pet 3:10-12)
Om dit te kan doen moet ons…
• Doelbewus besluit om die lewe lief te hê en te geniet tot eer van God. (1 Petr 3:10)
• Ons tong in toom hou. (Ps 141:3; Jak 3:1-12)
• Ons moet goeddoen en die kwaad haat. (Mat 5:9)

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 27 Maart

Hoe ‘n huwelik suksesvol kan wees!

Maandag 26 Maart 2023
Lees: 1 Petr 3:1-7

Statistieke is dat een uit elke twee huwelike in die egskeidingshof beland. Dit ondanks die feit dat ons vandag duisende der duisende boeke het oor die huwelik. Daar is huweliksver- rykings-kursusse, pastorale beraders, sielkundiges ens. Tog word die egskeidingsyfer net al hoe meer, terwyl al meer mense saambly en bloot net nie meer trou nie. Hierdie probleem is ook van toepassing op christelike huwelike.

Al trou twee christene, is dit steeds nie ‘n waarborg dat die huwelik sal slaag nie.
‘n Huwelik vra opregte, eerlike, harde werk. Dit vra om biddend elke dag voor God te buig en te vra vir liefde en leiding. Hierdie leiding en liefde vind ons in die Woord.

Petrus onderrig christene oor die huwelik in 1 Petr 3:1-7. Paulus onderrig ook oor die huwe-lik in Ef 5:21-6:4 asook Kol. 3;18-21. As jou huweliks-maat nie ‘n christen is nie of selfs in ‘n ander christelike denominasie as jy is, kan dit dalk nog harder werk vra om die huwelik te laat slaag.

Petrus skryf aan die vrouens in 1 Petr 3:1-6. Hy begin met die woorde in die 2020 vertaling, 1 Petr 3:1,2 “Net so, vroue, moet julle aan julle eie mans ondergeskik/onderdanig wees, sodat, self indien sommige aan die woord ongehoorsaam is, ook hulle sonder ‘n woord gewen kan word deur die manier waarop julle leef, 2 omdat hulle julle rein, eerbiedige leefwyse raaksien.” Die “Net so…” wys terug na Jesus Christus se voorbeeld in 1 Petr 2:21-25 toe. Jesus Christus was onderdanig en gehoorsaam aan God se wil. So moet ‘n christen-vrou en haar christen-man aan mekaar onderdanig wees en Jesus Christus se voorbeeld navolg. Vir die mans klink dit dalk vreemd om te sê dat jy onderdanig moet wees aan die vrou, maar ons lees in Ef 5:21 “Wees uit eerbied vir Christus, aan mekaar onderdanig.”

Die groot probleem in ons hedendaagse tyd, is dat mans en vrouens, hulle huwelike wil inkleur soos wat die wêreld die huwelik voorhou. Net romanties, net ‘n fees, net daar ter wille van eie plesier. Romantiese vakansies, selfs sonder kinders en kleinkinders, net om twv jouself te leef. Die wêreldse standaarde word dan in Hollywood gemaak en almal volg dit slaafs na, die sepies, die flieks, dit wat die wêreld voorhou.

In die huwelik moet ons Jesus Christus as die Bruidegom (Open 19:1-7) navolg. As ons Jesus Christus navolg in die huwelik wat onderdanigheid, nederigheid, gehoorsaamheid aan God se wil inhou, dan sal die huwelik wonderlik en geslaag wees.

Ons kan nie Jesus Christus navolg tensy ons Hom nie ken as ons Verlosser en onsself aan Hom onderwerp in geloof en gehoorsaamheid nie. Ons moet elke dag, tyd met Jesus spandeer deur Bybel te lees en te bid.

So moet ‘n christen man en vrou elke dag tyd saam met mekaar spandeer om God te dien en te vereer, en mekaar te dien en te bedien met liefde en begrip.
 Dan sal die huwelik suksesvol wees.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking vir 20 Maart

Jesus Christus is ons Herder en Bewaker wat ons lei om God se wil te doen!

Maandag 20 Maart 2023
Lees: 1 Petr 2:25: Joh 10; Luk 15:1-7; Heb 13:20-21
25 “Julle het immers soos skape rondgedwaal, maar nou het julle teruggekom na julle Herder en die
Bewaker van julle lewe.”

Heb 13:20 “God wat vrede gee, het ons Here Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die groot Herder van sy kudde is, uit die dood teruggebring.
Heb 13:21 Mag dié God julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen.
Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is.
Aan Hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

In die Ou Testament is skape geslag vir die herder en in die Nuwe Testament is die Herder op Golgota geslag vir die skape.

Die beeld van die herder met sy skape word tale kere in die Bybel gebruik.
• Josef se broers het skape opgepas.
• Moses was ‘n skaapherder van sy skoonpa Jetro. Ex 3:1
• Dawid was ‘n skaapherder. Psalm 23
• Amos was ‘n skaapboer uit Tekoa. Amos 1:1

Daarom word hierdie beeld van skape en herders dikwels in die Bybel gebruik om aan ons te leer…
• Hoekom Jesus Christus ons Herder is.
• Hoekom ons sy skape is.
• Wat die doel van ons skaapwees is.

Hoekom Jesus Christus ons Herder is, is omdat skape sonder ‘n herder, ronddwaal en verdwaal.
Sonder ‘n herder is skape rigtingloos en doelloos en loop agter weiding en water aan, sonder om daarna te weet waar hulle kraal is. In Luk 15:1-6 vertel Jesus juis die gelykenis van die verlore skaap. Elke skaap is vir die herder belangrik. Hy tel hulle gereeld. En dan as een weg is, los hy die ander nege en negentig en gaan soek die verlore skaap. Die vergelyking is juis dat as een van Jesus Christus se skape weg is, gaan Hy hom soek en bring hom terug en dan is daar blydskap in die hemel, omdat die verlore skaap gekry is. Elkeen van ons is van lewensbelang vir God. Ja, God het elkeen van ons, sy kinders so lief dat Hy Jesus Christus, sy eie Seun gestuur het om ons wat verlore is te kom loskoop. Heb 13:20 “God wat vrede gee, het ons Here Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die groot Herder van sy kudde is, uit die dood teruggebring.”

Hoekom ons God se skape is, is omdat God ons gekoop het met die bloed van sy eie Seun. God het ons immers uitgekies nog lank voor ons geboorte. God het sy kudde uitgekies. Soos skape het ons rondgedwaal en weens ons sonde en ellende sou ons verdwaal het, weg van God af. Maar toe het God sy eie Seun, Jesus Christus gestuur as die groot Herder, wat ons nie net gekoop het met sy eie bloed en liggaam nie, maar wat ons ook lei en dra en versorg. Jes_40:11 “Soos ‘n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie.”
Wat die doel van skaapwees is! Geliefdes ons is nie skape om op ons eie te leef net tot ons eie geluk en voordeel nie. Nee ons is skape wat moet lewe tot eer van God, volgens sy wil. Ons lees in 1 Petr 2:24b dat ons moet lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Die Heilige Gees is ook uitgestort om in ons te woon, ons te lei hier op aarde, sodat ons, nadat ons wedergebore is, deur die Gees gelei kan lewe tot eer van God. Jesus Christus is egter ook die Opper-Herder wat oor ons waak en elke dag by ons is en in ons woon. Hy is die Bewaker van ons lewens, Deur in Sy voetspore te volg en Hom te dien en eer, is daar vir ons die heerlike blydskap en vreugde dat Hy ons sal lei na groen weivelde , na waters waar daar rus is, na die ewige lewe by ons Hemelse Vader.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

« Older posts Newer posts »