Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Nuwe Testament (Page 1 of 121)

Deur stryd tot oorwinning

Skriflesing: Lukas 9 (1983)
Teksvers: Luk. 9:29,30

Die bogenoemde preektema is eintlik bekende woorde, maar die impak daarvan word maklik deur ons ontken. Laasweek kon ons leer dat God ons uit liefde as sy kinders aangeneem het. Hierdie nuwe identiteit in Christus maak ons egter nie bo swaarkry verhewe nie. 

Volgens die vorige paragraaf (9:23,24) moet ons juis agter Jesus aangaan… Daarom moet ons verstaan hoe die vurk in die hef steek. Ons moet begryp dat ons Koning se heerlikheid anders kom as wat deur die wêreld en sy filosofieë bedink of verwag word. 

Laat ons onsself deeglik oriënteer tov die pad van stryd wat vir die gelowige in hierdie laaste dae inwag. Hy wat ons vooruit gegaan het, sal ook by ons wees. 

Jou lewe gevorm na die wil van God in en deur Christus

Skriflesing: Kolossense 1 (1983)
Teksvers: Kol 1:10 (9-20)

Paulus bid vir hierdie kerkie uit die heidendom dat hulle mag groei in die geloof. Dit beteken dat hulle sal toeneem in gehoorsaamheid aan sy woord en vrugdra wat by die geloof en bekering pas. 

Paulus begrond sy aansporing of vermaning in die beskrywing van die grootheid of gróótsheid van Jesus Christus, hul ewige Verlosser. 

Wat is jou prentjie of idee van Christus se heerlikheid, mag en matesteit? Dit is nogal bepalend vir die erns waarmee jy jou lewe vorm na die wil van God. 

Ons identiteit in Christus

Skriflesing: 1 Johannes 3 (1983)
Teksvers: 1 Joh 3:1

Ek het eendag gelees dat volgens die Romeinse Reg ‘n aangenome kind nooit onterf mag word nie. By aanneming word volle kindskap verkry, asof jy natuurlik gebore is, en het jy deel geword van die ‘familia’ en onder die ‘patria potestas’ van die aannemende vader moet jy die volle erfreg ontvang, gelyk aan ’n biologiese kind. 

Aanneming is dus nie ’n tweede-klas verhouding nie. Kyk wat ‘n voorreg het ons dan om kinders van die Vader en dus broers en susters van die Seun van God te wees! 

Gedagtig aan die laaste dae, bly steeds ‘n dader van jou geloof in Christus

Skriflesing: Jakobus 5 (2020)
Teksvers: Jakobus 5:7-11

Die Heilige Gees het vir Jakobus geïnspireer om geloof en dade hand aan hand met mekaar te laat loop. In Jakobus 5:1-6 word daar in besonder gefokus op die eindtyd, die laaste dae, voordat die wederkoms van Jesus Christus gaan plaasvind. 

Gedagtig aan die laaste dae, word gelowiges aangemoedig om regverdig op te tree teenoor mense waarmee hulle te doen sou hê. Jakobus 5:7-11 fokus daarop dat gelowiges in woord en daad gelowig sal volhard ten spyte van lyding of wat ookal. 

Gelowiges word opgeroep om in die laaste dae nie vals te sweer nie. Verder word riglyne aan Christene in die laaste dae gegee wat om te doen as hulle siek is, as hulle swaar kry, as hulleself sou sondig of as iemand anders sou sondig. 

Uit Hom, Deur Hom, Tot Hom, Aan Hom

Skriflesing: Romeine 11:33-36 (2020)
Teksvers: Romeine 11:36

Ons jaartema kom uit die loflied van Romeine 11 dat alle dinge uit God voortkom, dat alles deur Hom gemaak en onderhou word, en dat alle dinge tot Hom bestaan. Hierin sien ons die volkomenheid van die werk van die drie-enige God. 

Die Vader is die begin en die oorsprong van alle dinge. Uit Hom het alles wat bestaan voortgekom. Deur die Seun is alle dinge geskep, en word alles onderhou. 

So ook rig die werk van die Heilige Gees alle dinge tot God in heiligmaking. Die gevolg: Aan Hom is al die eer en heerlikheid tot in ewigheid. 

« Older posts