Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Preke (Page 1 of 177)

Omdat die Here lief het, bring Hy hoogmoed tot ‘n val

Skriflesing: Obadja 1 (2020)
Teksvers: Obadja 1:4

Aanvanklik het die Here vir Israel gestraf, omdat hulle aan die Here ongehoorsaam was. Toe hulle egter in ballingskap weggevoer was en probeer vlug het, het die Edomiete teen die Israeliete opgetree. Volgens Jeremia 49:9-16 het die Edomiete-hulle (Esau se nageslag) teen hulle broers (Jakob se nageslag) opgetree. Die tragiek van ‘n “broer-se-nageslag” teen ‘n ander “broer-se-nageslag” word hier uitgelig. 

Die Edomiete woon hoog en veilig in hulle vesting en voel onaantasbaar, maar die Here kom en straf die nageslag van Esau omdat hulle teen die Here se volk geveg het, hulle doodgemaak het en vervolg het. Die Edomiete het in hoogmoed hulleself as onaantasbaar beskou. 

Die Here maak die mense wat in hoogmoed en selfvoldaanheid lewe, nederig. 

Jesus is uit die Heilige Gees gebore

Skriflesing: Lukas 1:26-38 (2020)
Teksvers: Lukas 1:35

In die oë van die Jode is Nasaret nie ‘n noemenswaardige plek nie. Inteendeel dit word verag, want sê hulle: Kan daar iets goed uit Nasaret kom? In hierdie eenvoudige dorpie in ‘n eenvoudige huisie woon ‘n arm en eenvoudige plattelandse meisie wat opreg is in haar geloof en godsdiens! 

Skielik verskyn die engel Gabriel aan haar! Dit is ‘n verskyning wat sy in die minste verwag het en nog meer as dit, is die woorde van die engel vir haar sê: “Wees gegroet begenadigde! Die HERE is met jou, geseënd is jy onder die vroue” 

Juda is nie gering nie

Skriflesing: Matteus 2:1-12 (2020)
Teksvers: Matteus 2:1-2

Soos u weet is daar slegs in twee van die vier Evangelies die beskrywing van Jesus se geboorte. Dit laat ‘n mens aan die een kant wonder of die Evangelieskrywers werklik soveel gemaak het van Jesus se geboorte soos wat ons vandag van Kersfees maak. 

Markus begin sommer direk by Jesus se openbare optrede, en Johannes het ‘n totale ander aanslag in die beskrywing van hoe die Messias, die beloofde Verlosser se koms op die wêreld van belang het. 

Ons kyk vanaand na die beskrywing vanuit die Ou testament oor die menswording van ons Heiland 

Volkome Blydskap is Alleen in Christus

Skriflesing: Filippense 2:1-11 (2020)
Teksvers: Filippense 2:5-8

Ons blydskap moet volkome wees, dit is die oproep. Om waarlik vreugde te vind in hierdie gebroke en stukkende wêreld is nie maklik nie. Wanneer ons beledig of verneder word, is dit ons tot skande. 

Ons Here Jesus Christus is anders, Hy het Homself verneder, Hy het Homself ontledig, en ‘n mens, ‘n slaaf geword, om te dien. Die inkarnasie, waar Jesus as die ewige ware God, mens word, is die ondenkbare vernedering wat ons nie self kan dra nie. 

Daarom kan ons blydskap alleen volkome wees in Christus. 

Beantwoord geloofs-flouheid met gegronde kennis van die Here

Skriflesing: Jesaja 40:12-31 (2020)
Teksvers: Jesaja 40:28

Let fyn op vir tekens van geloofs-flouheid. 

Die geloofs-flouheid waarvan ons in Jesaja 40 hoor (vgl. v.27), kan in verskillende vorme by gelowiges voorkom. Voorbeelde: verslaenheid, verwardheid, moegheid en opstandigheid. 

Gegronde kennis van die Here is ʼn vereiste. 

Israel word tot gegronde kennis gelei (vgl. v.28). Die Verbondsgod het “eeue-uitsig”; werk met onbeperkte afstande; word nie moeg nie en sy insig kan nie deurgrond word nie. 

Vertrou Hom. Hy gee hoop én krag. 

Met kennis van die Here kan ek vol verwagting op Hom bly hoop. Wie op Hom wag, sal in die wagtyd voortdurend nuwe krag kry (vgl. v. 29-31). 

Kom ons weeg die Jubeljaar!?

Skriflesing: Jeremia 34; Lev 25; Gen 15; Deut 15:12-18; Exodus 21:2-6 (1983)
Teksvers: Jer 34:15,16

Die jaar 2025 nC sal in die annale van die Gereformeerde Kerk Centurion opgeteken staan as Jubeljaar. En ons het feesgevier en gejuig, want die Here was werklik goed vir ons. 

Dit sal jou goeddoen om weer na te dink oor die bedoeling van Lev 25 en soortgelyke verbondsbepalings vir Israel. Veral die herstel van verhoudinge deur o.a. die vrylating van alle Hebreeuse slawe. 

Die vraag vanoggend, as afsluiting van die tema vir 2025, is of ons gejubel van hierdie feesjaar darem bietjie dieper as die oppervlak gegaan het. 

Dit is nodig om jouself, op hierdie stadium van jou geloofslewe, te ondersoek of jy werklik het in geloof en in die heiligmaking gegroei. 

« Older posts