Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Predikante Skryf (Page 7 of 39)

TRIOMF IN CHRISTUS

Om te triomfeer is meer as om te wen. Soms kan ‘n mens wen, sonder om te triomfeer. As jou lewe daarop gerig is om in alles wat jy doen eerste te wees, of om te wen, kan dit baie negatiewe gevolge hê. Dink maar aan jou huwelik, jou gesin, jou werk. Jy kan nie “wen” in die huwelik nie. Daar is nie ‘n eerste plek in ouerskap nie. In ‘n huisgesin kan jy nie die beste familielid wees nie. Want waaraan sal jy dit tog kan meet? 

By die werk gaan jou kollegas verbitter raak teenoor jou as jy die heeltyd ten alle koste wil wen of die beste wil wees. Jy gaan dalk eerste kom, maar jy gaan laaste wees… Dit is presies wat Jesus ons leer dat ons oorwinning nie in wêreldse terme bepaal word nie. Want ons oorwinning is nie aan ons self gekoppel nie. Ons oorwinning is deur die geloof in Christus. Elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om Christus wil verloor, sal dit vind. 

Aan God kom toe al die dank en die lof en die eer en die verheerliking, wat ons altyd in Christus laat triomfeer. Ons is nie wenners in Christus nie, maar oorwinnaars. Paulus skryf hierdie woorde met die agtergrond van swaar beproewinge. Hy en sy metgeselle het getwyfel of hulle gaan oorleef. Die enigste hoop wat hulle gehad het, was die opstanding uit die dood. 

Deur die genade van God, in geloof, is hulle bewaar, en het hulle oor al hierdie omstandighede getriomfeer. God het uitkoms gebring. Hulle het nie “gewen” nie, hulle het oorwin. Hulle het deur die dal van doodskaduwee moes gaan, en het behoue, deur God se genade ander kant uitgekom. 

Soms gaan ons deur swaar beproewinge. Finansies druk, die werk se vereistes raak al moeiliker, jou geduld word al minder, jou huwelik begin skade lei. Jy vind uit jou spanning veroorsaak gesondheidsprobleme. Depressie, kanker, uitputting, maagsere. Jou vriende is skielik besig en afwesig, jou ouers het probleme, ‘n geliefde sterf. 

Teen hierdie elemente kan jy eintlik wen nie, maar jy kan in Christus, deur die geloof, oorwin. Jy kan aan die ander kant uitkom. Dalk nie soos jy gedink het nie, maar soos God dit beplan het. Jy is egter nie ‘n toeskouer nie, maar ‘n medewerker in die triomf van Christus. Jy is ‘n medewerker in gebed (2 Kor. 1:11) en ‘n medewerker aan blydskap (2 Kor. 1:24) saam met die medewerkers wat die evangelie verkondig in hulle swaarkry en vertroosting. 

So word ons medewerking en ons oorwinning deel van die triomf van Christus! 

Wie sal ons skei van die liefde van Christus: verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? Soos geskrywe is: “Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape. Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.”” Rom. 8:35-37 

Lourens (vdm) 

Bemoediging

Die nuwe jaar het begin en daar is alreeds vir elkeen van ons uitdagings. Die skole het begin. Die daaglikse arbeid het begin. En vir almal is daar alreeds uitdagings. Daar is besluite wat geneem moet word en daar is reeds spertye en harde werk. 

Hoe gaan ons die jaar deursien? Dit is juis vir ons as christene nie ’n krisis nie omdat ons die wonderlike bemoediging en genade, van God, ons Hemelse Vader ontvang. God is in beheer. God regeer. God het ons met Homself versoen deur Jesus Christus. Daarom is ons Nuwe mensein en deur Jesus Christus. Hy is ons Trooster. Omdat Hy ons bemoedig kan ons ander bemoedig. 

Daarom is dit so ’n wonderlike voorreg om deel van ’n gemeente te wees. Ja nie net aan ’n gemeente te behoort nie, maar om deel van ’n gemeente te wees. Omdat ons deel van die gemeente is, met Jesus Christus as ons Hoof, is daar vir ons oorvloedige vertroosting. Deur Jesus Christus weet ons dat ons alreeds God se kinders is, dat God alreeds en steeds ons versorg en elke dag by ons is en sal wees. 

Wat dan van die oorloë en aanslae van die Satan en die wêreld en ons eie vlees elke dag? Ons hoef nie bang te wees nie, want in en deur Jesus Christus is ons meer as oorwinnaars. 

Kom ons leef daarom ’n opregte, eerlike en dankbare lewe voor God. God bemoedig ons, maar kom ons bemoedig mekaar uit die Woord, deurdat ons ons lewe totaal aan God toewy. Alles wat ons dink en doen sê, kom ons doen dit tot eer van God. God se bemoedig uit sy Woord is so groot, maar kom ons maak dit ons eie deur in toewyding en gehoorsaamheid, aan God al die lof en al die eer en al die heerlikheid toe te bring. 

Om so te kan leef is die meelewing in die gemeente van kardinale belang. Dit is hier waar ons mekaar bemoedig en vermaan en versterk deur gebede, deur mekaar se hande vas te hou en deur mekaar aan die Here op te dra. 

Mag ons ’n geseënde en vrugbare jaar beleef, tot eer van God! 

Ds. Gerrit Kruger 

Voornemens

Ons trek alweer verby die helfte van die eerste maand van die nuwe jaar! ‘n Nuwe jaar met nuwe geleenthede. Natuurlik ook nuwe uitdagings. Ons wens u een en elk ’n baie geseënde jaar toe in u persoonlike- en gesinslewe en ook in die gemeente. Ons bede is dat u mag groei in die geloof deur die genade van die Here. 

Met ons tema op die kalender (jaarprogram) mik ons juis vir groei in geloof en veral die heiligmaking. Heiligmaking is die progressiewe verandering van ‘n kind van die Here, weg van die wêreldse dinge af om meer en meer beeld van God te wees. Daarvoor is bekering en volharding nodig waarvoor ons gedurig vir onsself en mekaar moet bid, en dan sal die Heilige Gees ons daarin lei. So neem ons die verbondsbeloftes van God asook ons verbands-verantwoordelikhede as kinders van die Here ernstig op. 

Daarom is nuwe voornemens jaarliks ‘n baie goeie ding. Voornemens veral rakende jou toewyding aan die Here en jou daaglikse lewensgewoontes, sodat jy daarmee aan jou skeppingsdoel en goddelike roeping kan beantwoord. So groei ons in alle opsigte na Christus toe. 

Dit is dus ons wens dat elkeen weer met goeie voornemens begin en ook daarin sal volhard en dat die groei van hierdie gemeente hierdie jaar vir almal sigbaar sal wees tot ere van God. En as ons dalk (reeds) in van ons voornemens sneuwel en struikel mag ons weet dat die genade van God in Christus genoeg is om weer op te staan en ons bes probeer om te doen wat Hy van ons vra. So sal jy ook jou eie naam en goeie reputasie eer aandoen en God in alles verheerlik. 

Mag God deur sy Gees ons hierin help. 

Ds Maarten 

DIEN DIE HERE MET BLYDSKAP

Ons sluit die jaar 2023 met die jaartema soos hierbo vermeld, nou af. Dit is die woorde van Psalm 100. Ek wonder toe nou of ons rêrig die Psalm as ons eiendom aanvaar het. Ons doen dinge dikwels so outomaties dat ons nie eers dink wat ons doen of sê nie… 

Dien die Here met blydskap! 

Blydskap waarvoor? 

Blydskap of vreugde omdat die Here aan ons gedink het, sy Seun gegee het en ons verlos het. Dit is ons enigste en grootste rede vir ware blydskap. Of is dit? Laat ons bietjie nadink! Hoe bly is ons? Het ons genoeg sondebesef om te weet dat die verlossing in Christus ons grootste rede is vir vreugde. Vreugde wat alle omstandighede te bowe gaan! Dat geen straf ons meer op ons sondes wag nie. Ons sonde is ten volle betaal. Ons rekening by God is vereffen! 

Egter ook blydskap omdat die Here ons versorg het, en toe ons in die nood was en gebid het, het Hy ons uitgehelp en versorg en gedra en uit die nood verlos. Ook in ons daaglikse gewone lewe. 

Blydskap omdat ons weet dat die ellende van die gewone alledaagse nie die einde is nie. Ons is pelgrims oppad en daar wag vir ons die allesoortreffende en heerlikste en vredevollle lewe saam met ons Here en Verlosser vir ewig! 

Blydskap omdat ons weet dat die Here trou is aan sy Woord en Hy sy beloftes nakom. 

Blydskap omdat ons en ons kinders en ons medegelowiges in sy hande, veilig is en niks toevalligs oor ons kom nie. 

Veilig omdat die die tekens van sy wederkoms aan die horison wink. 

Blydskap omdat ek weet dat ek kind is van God die allerhoogste en niemand dit kan wegneem nie. Die Bose kan ons nie uit sy hand ruk nie. 

Kom ons dien die Here met ware blydskap! 
Seënwense vir u almal oor die feestyd! 

Ds Maarten 

Blaas jou genadegawes weer aan soos ‘n vuur!

Skrifgedeelte: 2 Tim 1:1-18 (AFR83) 
Fokusgedeelte: 2 Tim 1:6-11 

As ek in die Bosveld gaan kamp, dan maak ek elke aand ‘n vuurtjie met lekker bosveldhout, wat goeie, warm kole maak. Die volgende oggend as jy ontbyt maak, dan blaas jy net die as van die kole af, sit ‘n bietjie fyn houtjies op en blaas die kole van die vorige aand totdat die vuur weer brand. Dit is hierdie beeld wat Paulus gebruik om Timoteus aan te moedig om die genadegawes wat hy ontvang het weer aan te blaas sodat sy hart warm vir die evangelie klop. 

Genadegawes, o.a. ons geloof, bly nie outomaties brandend nie. Jou geloof, jou genadegawes moet voortdurend gekoester en opgeskerp word, uit die Woord en met gebed deur met God besig te wees. Blaas die vuur aan! Blaas jou geloof weer aan die brand! Brand van ywer vir God en sy koninkryk! 

Paulus is op hierdie stadium in Rome ‘n gevangene. Paulus staar die dood in die oë. 2 Tim 4:6 “…Die tyd van my dood is voor die deur.” Maar Paulus dink nie net aan homself nie, hy is nie op homself gefokus nie, hy is gefokus op sy taak as apostel. Paulus skryf aan die jong predikant Timoteus en bemoedig en versterk hom in die geloof. Timoteus het ook gedurig aanmoediging nodig, soos almal van ons. 1 Kor 16:10-11 Paulus praat hom voortdurend moed in en versterk hom in sy dienswerk. 

Wat is genadegawes? Die genadegawe waarvan hier gepraat word, is spesifiek om die Woord uit te dra, om te preek, om te getuig van die verlossing deur Jesus Christus.1 Tim 4:14 

Genadegawes moet met ywer gebruik word. Deur die Gees, die wedergeboorte, word ons in staat gestel om God te dien. 

Bid voortdurend vir vervulling van die Heilige Gees. Die probleem is dat selfliefde en egoïsme lei tot vrees. Vrees dat alles nie meer sal wees soos wat ek dit wil hê of gewoond aan was nie. Ons kan maklik bekommerd raak dat ons aansien, mag of geld of besittings of voorregte kan verloor. Maar as ons biddend deur die werking van die Heilige Gees leef ervaar ons die werking van 2 Tim. 1:7 “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.” 

Om hierdie rede word ons herinner om die genadegawes wat God gegee het, elke dag weer soos ‘n vuur in ons lewens moet aanblaas. 

Ds Gerrit 

‘n Heilige oorlog?

Oorlog is oorlog. Meesal is daar weinig winste uit ‘n oorlog. Eerder pyn en lyding en diepe hartseer. Oorlog is geweld en nogmaals geweld. Die duiwel sit daaragter. 

In die Bybel gebruik die Here oorlog as deel van sy Godsopenbaring. Ons mag nie vandag enige oorlog op dieselfde lyn stel as die oorloë van ou Israel waar die Here die heilige geslag (draers van die belofte van die komende Messias) teen die aanslag van die draak of slang van ouds (Op 12) beskerm het nie. 

Die oproep van beide Israel én Palestina is dat die huidige oorlog in die Midde-Ooste ‘n heilige doel het omdat dit gaan oor God se volk of die nageslag van Abraham. Die interessante hiervan is dat beide nasies biologies kinders van Abraham is! En God seën beide die kinders van Isak én die kinders van Ismael! (Gen 12:3) 

Die seën oor Isak was daarin spesiaal dat hy die bloedlyn van die beloofde Messias sou dra, die Verlosser wat gekom het en uiteindelik juis deur die nasie van Israel verwerp is. Noudat hierdie belofte vervul is staan al die nasies van die hele wêreld gelyk voor God, met die enigste uitsondering van diegene wat in Gal 3:29 bedoel word: 

En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en, ooreenkomstig die belofte, erfgename.” Galasiërs 3:29 AFR20 

Die oorlog in die Midde-Ooste mag wel verstaan word as ‘n noodsaaklike optrede teen terreur, en moet natuurlik ook gestaak word as daardie doel bereik word, nl. die verhindering van terreur soos wat onder andere op 7 Oktober 2023 in Israel plaasgevind het. 

Die hele konsep dat ons hier te make sou hê met ‘n sg. “heilige oorlog” is nie ‘n Bybelse konsep nie. Behalwe dat God ‘n God van vrede is en vredemakers liefhet, weet ons dat sy Gees nie een van mag en geweld is nie, maar van liefde en selfbeheersing. Ook kom die wraak volgens die Skrif net aan God toe. Dus het die owerheid die swaardmag om sy onderdane te beskerm en te verdedig, maar steeds met die nodige beginsels van die Woord van God in gedagte. 

Ook die aanname dat Israel se grondgebied nou eintlik ‘heilig’ sou wees en daarom ook in die spreektaal die “Holy Land” genoem word, skep die valse idee dat ons nou in Israel met ‘n sg. heilige oorlog te make sou hê. Ons kan egter eerder glo dat elke duim grond (elke plek en elke hart) waar Christus se gesag onomwonde aanvaar en uitgeleef word, dit heilige grond mag wees. Daar waar Hy regeer daar het die koninkryk van God naby gekom!

Die naïewe idee dat God “aan ons kant is” is egter ‘n fout wat baie nasies in die verlede gemaak het, en nou waarskynlik in Israel weer. Die Moslems se Jihad is vir hulle niks anders as ‘n sogenaamde heilige oorlog nie, en insgelyks dink die Jode dieselfde aan hulle kant. Dit is net so kinderagtig sou twee rugbyspanne voor ‘n wedstryd bid dat God kwansuis hulle span moet laat wen! 

Veel eerder is dit van belang dat ons elkeen seker maak dat ons aan God se kant is. Dit is immers die les wat Josua by die Leërowerste van die Here moet leer voor hy die oorlog teen Kanaän aanpak (Jos 5 en 24). So behoort ons te bid vir die bekering van Jode én nie-Jode, omdat God sy genade slegs gee aan hulle wat aan sy verbond in en deur Jesus Christus getrou bly. 

Die enigste sogenaamde “heilige oorlog” sou dan die een wees, wat Jesus teen die duiwel en die sonde kom voer het en natuurlik ook gewen het! Ons moet egter weet dat die geestelike oorlog op ‘n ander terrein plaasvind en dat die Here belowe het om sy kerk deur hierdie stryd heen te suiwer en te bewaar. Ons moet ons dus gereed maak en onsself staal vir die ergste stryd en vervolging wat die kerk (= die ware Israel, bestaande uit Jode én nie-Jode) nog ooit beleef het, want deur kruis en stryd heen sal die oorwinning van die ware kinders van Abraham kom. 

Nie deur krag en mag nie, maar deur my Gees, sê die Here!” (Sag 4:6) 

As jy dus vir Israel wil bid, bid dan dat die Here die ware Israel (Rom 9:6), die ware kinders van Abraham, sal vashou in die uur van sware stryd wat oor die wêreld aan die kom is. (vgl. Ps 122:6).

Ds Maarten 

« Older posts Newer posts »