Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Predikante Skryf (Page 6 of 39)

Verskillende opvattinge oor die Nagmaal      

(Bron: Feenstra, JG 1986 p244) 

Hoekom vier ons vandag die heilige Nagmaal? Wat is die betekenis van die Nagmaal en waarop dui die brood en die wyn? Die Heidelbergse Kategismus behandel die Heilige Nagmaal en wel in Sondag 28-30 so ook die Nederlandse Geloofsbelydenis, art 33,35 

Om hierdie vrae te antwoord en tot dié belydenis te kan kom, was daar ’n heftige stryd tydens die Reformasie gevoer oor die betekenis van die heilige nagmaal. Die opdrag het tog van Jesus Christus self gekom om nagmaal te vier en Hy het gesê: “Dit is My liggaam en dit is My bloed!” Die woordjie “is” kan verskillende betekenisse hê wat dui op verskillende opvattings van die verstaan van die brood en die wyn. Bv. Wanneer ek ’n foto van ’n olifant bekyk, kan ek sê: “Dit is ’n olifant!” Terwyl dit eintlik ’n foto van ’n olifant is. As Jesus dan sê van die brood: “Dit is my liggaam!” wat beteken dit? 

1 Die Roomse kerk leer die transubstansiasie. 

Volgens hierdie siening moet die woordjie “is” letterlik verstaan word en verander die brood letterlik in die liggaam van Christus en die wyn letterlik in die bloed van Jesus Christus. 

2 Luther leer die konsubstansiasie. 

Luther het nie geheel en al met die Roomse nagmaalbeskouing gebreek nie. Volgens hom verander die brood en wyn wel nie in die liggaam en bloed van die Here nie, maar die liggaam en bloed “is” daarin. Soos water in ’n spons is, so “is” Christus in die brood en wyn. 

3 Zwingli leer die figurasie. 

Uit reaksie teen Rome het hy te ver gegaan en gesê dat ’n mens die woordjie “is” heel gewoon moet opvat en in die nagmaal slegs ’n gedagtenismaal moet sien. Soos ons dan op ons verjaarsdag ons geboortedag herdenk, so herdenk die kerk by die nagmaal slegs die lyding en sterwe van die Here. 

4 Calvyn leer die sakramentele betekenis van die Nagmaal. 

Calvyn leer dat die brood en wyn tekens maar ook seëls is van die liggaam en bloed van Jesus. Christus is na sy Godheid, majesteit genade en Gees by die nagmaal teenwoordig. Dit is sakramenteel. Dit is tekens en seëls. Die betekenis is heilig. Daarom moet ons dit met die grootste respek en eerbied en verantwoordelikheid in die geloof gebruik. 

Verlossing het nie goedkoop gekom nie. Daar is ten duurste voor betaal met die bloed en die liggaam van ons Here Jesus Christus. Daarom moet ons dit met ’n opregte geloof, in die regte gesindheid tot versterking en opbou van ons geloof gebruik. 

Ds. Gerrit 

Die Lam van God!

Lees Ex 12; Joh 1:29,36 

Joh 1:36 Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Dáár is die Lam van God!”” 

Die aand voordat die Israeliete uit slawerny bevry is, die aand voor die uittog uit Egipte, het hulle opdrag gekry om vir elke gesin of twee ’n lammetjie, sonder gebrek te slag en te eet. Maar daar was ook ’n belangrike opdrag by, hulle moes die bloed van die lammetjie neem en dit met ’n hisoptakkie aan die deurkosyne smeer en hulle moes binneshuis bly die hele nag lank. Daardie nag het die Here self deur Egipte getrek en elke huis waar daar nie bloed aan die deurkosyne was nie se eerstelinge, mens en dier, laat sterf. 

Ex 12:12 Daardie selfde nag sal Ek deur Egipte gaan om al die eerstelinge van die Egiptenaars, mens en dier, te tref. Met al die Egiptiese gode sal Ek afreken. Ek is die Here!” 

Die paasmaaltyd het heengewys na die nagmaal. Dit was dan ook die aand voor sy dood dat Jesus die nagmaal ingestel het (Mat 26). Johannes het dan ook na Jesus verwys as “Die Lam van God!” Daarmee het hy aangedui dat Christus die gelowiges van die slawerny van die sonde kom bevry het. Christus het Homself as die Paaslam aan die kruis laat spyker, sodat die dood, ons wat in Hom glo, nie sal tref nie. Ons moet egter die belangrikheid van Jesus se soenverdienste begryp en dit glo en dit met ons hele hart en siel en verstand aangryp en bely en aanvaar. Die is die Heilige Gees wat hierdie openbaring aan ons bekend maak sodat ons dit kan glo. Dit is dan ook hoekom ons die heilige Nagmaal so gereeld vier om herinner te word aan wat Jesus Christus vir ons gedoen het. Kom daarom ywerig op om deel te neem aan hierdie heilige sakrament. 

Die Lam is vir ons geslag! 

Jesus Christus is die Lam van God. 

Ds. Gerrit 

BELA BELA

Moenie jouself misgis en dink ons het hier met Bela Bela in die Limpopo te make nie. Die BELA Wet (Basic Education Laws Amendment Bill), wat binnekort in die parlement dien, raak die hart van ons en ons kinders en die skole en onderwysers waarmee ons hulle vertrou. Na al die insette van die publiek, politieke partye en onderwyskundiges storm die regering voort om ons die beheer van ons skole te ontneem, sodat hulle die pad kan oopmaak vir totale beheer. 

Die belang van ouerdeelname aan die eerskomende beheerliggaam-verkiesings is van die uiterste belang vir die beperking van staatsinmenging en totale beheer van ons skole. Die hele BELA wetgewing is volgens kenners nie in lyn met die grondwetlike beginsels nie en eïen die Staat homself funksies toe wat hom nie toekom nie. 

Dit sal dus in belang van ons geloof en ons kultuurgoedere wees dat ons hierdie wetgewing bly beveg en dat ons bid vir hulle wat die moed het om dit in die Konstitusionele Hof vir ons te doen. 

Die opvoeding en dissipline van ons kinders is tog in die eerste plek die plig en taak van die ouer. En ook hiervan gaan u en ek eendag aan God moet rekenskap gee. 

Die regering se magswellus neig steeds na totale beheer waar hulle selfs oor u en my persoonlike lewe besluite sal kan neem. Dit sal ‘n kwade dag wees as dit gebeur en daarom moet ons die Here van hemel en aarde bid dat Hy ons en ons kinders hiervan sal bewaar. Sekere sake, soos die opvoeding van ons kinders, is ononderhandelbare Godgegewe take. Bly maar op u knieë vir die sake van skole en onderwys en bly betrokke by die bestuursake van die skole waar u kinders is. Mag die Here ons hierin bewaar! 

Ds Maarten 

Om te BEHOORT

Een van die swaarste dinge in die lewe is wanneer ‘n mens voel dat jy nie behoort nie. Dit is belangrik om dan die onderskeid te maak tussen die gevoel en die werklikheid. Ongelukkig is dit baie moeilik as die gevoel nie wil verander of weggaan nie. ‘n Mens se emosies kan soms met jou weghardloop. Want niemand kan emosies ontken of ontduik nie. 

Die gevaar bestaan egter daarin dat ‘n mens se emosies uiteindelik die oorhand kry, en veroorsaak dat jy opgee in die lewe. Wanneer jy jou werk verloor, wanneer jou verhoudinge verbrokkel, wanneer jy net nie gesond kan word nie, wanneer jy net nooit kan voor kom met jou finansies nie. 

Dit maak nie saak hoe hard jy probeer nie, dit is asof niks wil reg loop nie. Niks wil uitwerk nie. Niks wil in plek val nie. Baie keer is dit nie een groot probleem nie, maar die klomp klein jakkalsies wat saam die wingerd verniel. 

Hieroor skryf die apostel aan die Korintiërs. In sy eerste brief staan dit so duidelik, veral die eerste drie hoofstukke. Hulle is so vasgevang in ‘n verkeerde denkpatroon, dat hulle nie raak sien wat God besig is om te doen nie. Hulle is so besig om met mekaar te baklei en te kompeteer, dat daar geen plek is vir groei en opbou en versterking nie. 

Dit is aan die einde van hoofstuk 3 wat die apostel die belangrike opmerking maak: 

“Alles behoort aan julle.” 

Daarmee bedoel hy, dat hulle in Christus die volle rykdom van God se besitting deel. Hulle moenie baklei en twis en stry soos armes wat niks het nie. Hulle moet anders dink oor hulle rykdom. Want nie net behoort alles aan die gelowiges nie, gelowiges behoort ook self. Jy is duur gekoop. Jy behoort aan Christus. Jy is die eiendom van die opgestane Heiland. 

Dit is die boodskap wat ons moet uitdra! Nie net behoort ons nie, ons moet ander ook leer wat dit beteken om te behoort. Oor ‘n maand begin ons Koningskinders-kamp. Dan gaan ons as gemeente ook aan kinders uit ons gemeenskap leer wat dit beteken om ryk te wees in God. Om alles in Christus te besit. Self deel ons die rykdom van God se gawes in lewensmiddele en in die Heilige Gees. Omdat alles aan jou behoort, mag jy en moet jy dit ook deel en uitdeel. 

Onthou dan, ongeag jou omstandighede, dat alles aan jou behoort. En dat jy self behoort. Aan Christus. En Christus behoort aan God. 

Lourens (vdm) 

Paulus het geplant, Apollos het natgegooi en God het laat groei!

Paulus was baie teleurgesteld, omdat die gemeente van Korinte hulle nie deur die Gees van God laat lei het nie. Hulle moes teen die stadium al volwasse in die geloof gewees het. Het Paulus dan nie al vir agtien maande lank die gemeente toegerus en vir hulle gepreek en hulle bedien nie? Duidelik stel Paulus dit in vers 9 dat hy en Apollos, net medewerkers is, in diens van God. 

Paulus het die gemeente in Korinte geplant of gestig. Hy was eerste daar om die evangelie van Jesus Christus aan hulle te verkondig. Paulus het hard gewerk om Jesus die Christus te verkondig (Hand 18:1-11). 

Apollos het ook in die omstreke gewerk. Ons lees in Hand 18:24-28 dat Apollos kragtig in die openbaar uit die Skrif bewys het dat Jesus die Christus is. Hy het dus natgegooi en die evangelie verder en duidelik verkondig. Hy kon dit doen want hy was ’n begaafde spreker met ’n deeglike kennis van die Skrif, (Hand 18:24-25). 

God laat egter die evangelie in die harte vasslaan en ontkiem en dit is God wat laat groei. Hier is God Drie-enig aan die werk. God die Vader sorg vir ons en Hy skenk die geloof aan ons uit loutere genade (Ef 2:8-10). Jesus Christus is ons Verlosser, ons Koning, die Hoof van die kerk, die Seun van God, ons Here. Die Heilige Gees is elke dag in ons harte besig met sy heilige werking om ons al heiliger as nuwe mense in en deur Jesus Christus te maak. 

Ons is die saailand van God, (1 Kor 3:9). Beide Paulus en Apollos is medewerkers in diens van God. Hulle is gelyk voor God. Een is nie belangriker as die ander nie. Albei het hulle werk en hulle taak as medewerkers in diens van God om in Sy saailand te kon werk. So het die gemeente van Korinte tot stand gekom. 

In die Gereformeerde Kerk Centurion is ons ook drie predikante. Al drie van ons saai en plant en maak nat. Elkeen van ons is ‘n medewerker in die koninkryk van God, in hierdie gemeente. Ja ons moet die herders wees wat die Goeie Herder navolg. Ons moet sekerlik ook ’n voorbeeld stel en ons verkondig niks en niemand anders nie as Jesus Christus, en wel Hom as gekruisigde en opgestane Verlosser. Kom ons bly dus God dien in opregtheid met die liefde vir God in ons harte. Kom ons hou vas aan Jesus Christus en nie aan Paulus, Apollos of Petrus nie. 

Ds. Gerrit 

Corona Muralis

So onthou ek die week van die Pro Patria Medalje wat al ons manne destyds gekry het as jy vir ‘n sekere aantal dae anderkant die kaplyn vir SA in die Bosoorlog gewerk of geveg het. Dit was so ‘n algemene medalje dat die troepe van die ProNutro medalje gepraat het! In die Romeinse tyd het soldate ook erkenning gekry vir die dapperheid in die oorloë wat wyd en syd gevoer is. Een van die toekennings was die Corona Muralis

Hierdie dekorasie is toegeken vir uitsonderlike dapperheid aan die soldaat wat eerste was om die vyandelike stadsmuur te bestyg en die Romeinse standaard (Vlagwapen) op die muur van daardie stad te plant (Aulus Gellius, Noctes Attici, 5.6.4). 

Wat dit nou vir óns interessant maak is dat Paulus spottenderwys daaroor handel as hy in 2 Kor 11:23,33 daarin ‘roem’ dat hy eerste was om in ‘n mandjie van die stadsmuur van Damaskus neergelaat te word en so die vyand te ontvlug (Hd 9:23-25). 

In die kerk van die Here en in sy magtige koninkryk word ons nie gedekoreer met pryse en medaljes of toekennings nie. Die wat laaste is sal eerste wees, het Jesus ons self geleer. As jy belangrik wil wees moet jy jou naaste se mindere word en diens lewer. 

Dis nie sterkstes wat wen nie maar die nederiges en die sagmoediges en die treurendes. Wie sy/haar lewe wil behou moet hom/haarself verloën… Só hoor ons die stem van die groot Prediker van Nasaret. 

Nuwe mense lewe nie meer vir hulleself in die hoop om geprys en vereer te word nie. Ons dien mekaar in liefde uit dank vir God wat ons eerste lief gehad het, en ons voel selfs eer daarin om vir Christus te ly. 

Ds Maarten 

« Older posts Newer posts »