Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Predikante Skryf (Page 3 of 39)

Die lewe is aanbidding

Vita Est Adoratio

Die lewe is aanbidding – dit is wat hierdie bekende spreuk beteken. Die hele lewe is om God te aanbid. Elke dag is soos ‘n erediens wat die hele bestaan van ons menswees omsluit. Ons aanbid God nie net op ‘n Sondag of as ons kerk toe gaan nie, maar in elke gedagte en woord en daad. Ons hele lewe is ‘n toewyding aan God. 

In ons Christelike dissipline van ‘n nuwe lewe in Christus word hierdie aspek die middelpunt wat ons hele lewe dryf. God wil hê dat ons hele lewe ‘n aanbidding moet wees van Hom. Dat Hy regeer oor alle sfere van die lewe. Natuurlik is die erediens sentraal in aanbidding, maar aanbidding strek baie verder as net die erediens. Dit is wat ons leef en beleef in die erediens wat ons help dat ons hele lewe aanbidding word. 

U weet mos wat soms gebeur met ons kinders en jongmense, dat hulle ‘n ikoon het wat hulle lewe inspireer. Dan sal jy sê jou kind aanbid die grond waarop daardie persoon loop. Dit beteken dat daardie persoon so groot invloed uitoefen dat jou kind se gedrag verander. 

Die Bybel leer ons dat ons God so moet aanbid. Ons moet in verwondering wees oor ons Maker. Jy moet Christus navolg in elke aspek van jou lewe. In jou stiltetyd en Bybelstudie, in jou gebed en gemeenskap van geloof sowel as in jou diensbaarheid en belydenis van geloof. Ons word wat ons aanbid. Dit verander jou menswees. Jou aanbidding heilig jou. As jy mammon aanbid, word dit jou lewe. As jy bachus aanbid lyk jou lewe naderhand so. Maar so ook as Jy die Drie-enige God aanbid, dan vertoon jy die beeld van God in sy geregtigheid en heiligheid en waarheid. Jy dra die vrug van die Gees. 

Onthou dan, jou liggaam is ‘n tempel, ‘n plek van aanbidding. Laat God jou verander deur die vernuwing van jou denke, sodat jy sy heilige wil mag volbring deur jouself te stel as ‘n lewende, heilige en welgevallige offer aan Hom, dit is ons redelike godsdiens. 

Lourens (vdm) 

Vergenoegdheid

Tevredenheid/Contentment – (Josua17:14-18) 

Die gelese paragraaf gaan oor die families van Josef, die stamme van Manasse en Efraim, wat ONTEVREDE is met hulle lot. 

Josua moet die land verdeel en doen deur loting. Deur die gooi van die lot het die Here bepaal wat elke stam moet kry. Die nakomelinge van Josef is egter nie tevrede met hulle lot nie. Hulle kom kla by Josua. 

Ons ken mos die spul Israeliete van ouds. Kerm en kla was hulle gewoonte. 

Oppad uit Egipte, nog voor die deurtog deur die Rooisee, as die Farao hulle agtervolg, kla hulle alreeds. Deur die woestyn verlang hulle terug na die vleispotte van Egipte… en dan ken u die episodes met die kwartels en die waters van Meriba. 

Manasse en Efraim kla dat hulle nie genoeg grond gekry het nie. En heel vroom ook nog… “Ons is baie mense, want die Here het ons besonderlik geseën”. (14) 

Let nou goed op: Hulle kla eintlik teenoor die Here. 

Josua moes mos deur loting (werp van die lot) die land verdeel. So het die Here bepaal wat elkeen kry. Hulle is dus eintlik ONTEVREDE met God se besluit en toekenning. 

As ons nou so bietjie navorsing doen kom ons agter dat hierdie stamme nie regtig rede gehad het om te kla nie. Met die 2de Sensus, Moses se tyd (Num 26), sien ons dat hierdie Josef-stam (Efraim en Manasse saam) wel die grootste stam in Israel gevorm het. Die halwe Manasse-stam het egter Oos van die Jordaan reeds grond gekry. As ons dan die helfte van Manasse aftrek van die totale getal, vind ons dat die oorblywende Efraim en Manasse selfs minder in getal was as die kleinste stamme van Juda en Dan en Issaskar! Hulle het dus ‘n tweede deel ook gekry – Oos van die Jordaan! Daarom was hulle dus nou nie geregtig op meer as één werping van die lot nie! Hulle vroom praatjies was dus nie heeltemal so waar nie! 

Ja, so ken ons die mens! Ons sal selfs teenoor die Here loop en kla! 

Laat ons versigtig wees in ons gebede en in ons klagtes dat ons die Here wat ons alles uit genade gegee het, nie beledig en loop en verkla en aankla nie. Gebruik dit wat Hy jou gee tot die beste van jou vermoë en dank Hom in alles altyd vir sy genade! Sluit gereeld u gebed af met dié woorde van Jesus: “Nie my wil nie, maar laat U wil geskied”. 

Ds Maarten 

Skerper as ‘n Tweesnydende Swaard

Een van die grootste gevare van die Christendom is ‘n baie onverwagse en skynbare onskadelike vyand. Dit is nie ‘n boosaardige gedrog wat jou wil oorrompel en verskeur, soos ‘n brullende leeu wat op jou afstorm nie, maar een wat lyk soos ‘n engel van die lig. Dit is gewoonlik die skadelikste dwaling, wat die naaste is aan die waarheid. Dwalinge is nie blote namaaksels van die waarheid soos ‘n goedkoper opsie wat Made in China is nie. 

U sien, hierdie gevaar wat menige gelowiges tot ‘n val gebring het, is gemaksug. Dit is die veronderstelling dat jy as gelowige “veilig” is en niks kan oorkom nie, omdat jy die Bybel ken. Dit is die gerief van ‘n Bybel in die sak, maar God se Woord wat ver van jou hart is. 

Baie self-identifiserende Christene verklaar hulself as Bybel kenners, en sommige van hulle ken inderdaad die Bybel goed, maar die Woord van God bring geen verandering in hulle lewe nie. Vir baie toegewyde gelowiges is die Bybel ‘n sentrale deel van hulle lewe, en tog leef hulle nie die Bybel nie. 

Om Bybel te lees het ‘n gewoonte geword, ‘n manier om geestelik gerus gestel te word. Hoeveel maal het u nie al die Bybel gelees en eintlik al vergeet wat jy gelees het nog voordat jy die Bybel terugplaas op jou bedkassie? Dit is soos iemand wat in ‘n spieël kyk en onmiddellik vergeet hoe hy lyk (1 Korintiërs 13). 

God se Woord is die bekendmaking van die Skepper van hemel en aarde. Dit is die eie Woord van God, die Almagtige aan wie jou hele bestaan te danke is. God wil met sy kinders praat, Hy wil hulle onderrig en bemoedig, waarsku en vermaan, maar sy kinders wil nie na sy stem luister nie. Ons het so besig geword dat ons nie meer tyd het om te hoor wat God vir ons wil sê nie. 

Maar weet u, die oomblik as jy jou tyd anders inrig, om tyd te maak vir God om jou tiende van jou tyd ook aan die Here te wy, om Hom te leer ken, dan verander dit jou lewe. Want God se Woord is skerper as ‘n twee snydende swaard. Dit dring deur gewrigte en murg. Dit sny waar geen lem kan bykom nie. Dit opereer jou hart. 

Maak tyd vir God, laat die Woord van God deur die Heilige Gees jou verander deur jou denke te vernuwe. Beproef die goeie en volmaakte wil van God, dan sal jy ware vreugde en vrede ervaar. 

Lourens (vdm) 

Geloof is nie ‘n Placebo nie

Soms ervaar ‘n mens die lewe asof dit net ‘n droom is. Dit is nou nie dagdroom, soos ons soms kan wegraak in ons eie gedagtes nie. Droom waarna hier verwys word is asof jou lewe onwerklik voel. Asof jy los staan van jou lewe. Dit gebeur veral wanneer jou lewe baie vol is en jy so besig is dat jy eintlik nie tyd kry om stil te word en tyd te maak vir mense wat vir jou belangrik is, of vir jouself nie. Dan kan die lewe verby spoed soos ‘n sneltrein sonder dat jy werklik die goeie van die lewe kan waardeer en geniet. Jou lewe word dan net ‘n oorlewingstryd. Jy het nie tyd om oor enige iets na te dink nie, jy neem net jou lewe oomblik vir oomblik. 

Aan die ander kant kan dit voel of tyd gaan stilstaan. Dit gebeur veral in beproewinge. As jy daar langs iemand se siekbed sit, of wanneer jy aansoek doen vir ‘n nuwe werk. As jy wag op uitslae of as daar groot besluite gemaak moet word. Sekondes kan voel soos ure. Dit is of een dag ‘n ewigheid duur. 

Om kop bo water te hou in hierdie uitdagende en soms onmoontlike lewe, gryp ons na geloof. Geloof is tog die dinge waarop ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien. Geloof help ons om rus en vrede te vind, om getroos te word, om seker te wees. 

Maar geloof is nie ‘n placebo nie. 

‘n Placebo is ‘n manier waarop daar veral in die mediese wêreld gekyk word na die effek van medisyne. Tydens kliniese proewe ontvang sommige pasiënte ‘n sekere soort medisyne, maar ander ontvang ‘n placebo (namaaksel). Dit lyk en proe soos die regte medisyne, maar dit is net suikerwater of ‘n “smartie”. 

Die toets van die placebo is om te sien of mense glo die medisyne maak hulle gesond, al is dit nie die ware Jakob nie. ‘n Mens sou kon sê placebo is om mense te “truuk” om te glo hulle het medisyne gekry, soos wanneer ‘n driejarige sê sy maag is seer en jy gee vir hom “pilletjie” (smartie). 

Nie geloof of Nagmaal is placebo’s van God se Woord of ‘n “truuk” van die Heilige Gees nie. God probeer ons nie om die bos lei of ons beter laat voel oor die gejaag van die lewe nie. Die Nagmaal is juis daargestel om ons geloof te versterk en ons te verseker van God se liefde en genade. 

Hy wat aan ons die Nagmaal gee, is self die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem, dit is Hy wat doop met die Heilige Gees en met vuur. 

Lourens (vdm) 

Evangelie

Hierdie woordjie is nogal so bekend in Afrikaanse kringe dat ons nie eintlik besef hoe vér terug dit in betekenis gaan nie. 

Evangelie (Eng: Gospel) stam af uit die Latyns of eerder Griekse woord “euangellion”. Die “eu” beteken goed en “angelo” (engel) is boodskapper. Die evangelie is dan die goeie boodskap. GOEIE NUUS! 

Die betekenis gaan egter só vér terug as die oorlogsveld. Nadat die veggeneraal die oorwinning oor sy koning se vyande behaal het, stuur hy ʼn hardloper met die goeie nuus na die volk en die koning. Die boodskap is dan evangelie, goeie nuus, blye boodskap. Die boodskapper se betaling word ook euangellion genoem. 

Ons Veggeneraal, Jesus Christus, het die vyand op Golgota verslaan. Die Goeie Nuus is opgeteken deur die boodskappers en ons noem hulle die evangelie-skrywers (evangeliste). Die Goeie Boodskap is dat ons Veggeneraal die omvattende en volslae oorwinning behaal het en daarom die erenaam “Here” ontvang het, nadat Hy uit die dood opgestaan en opgevaar het. 

Hom loof ons wat niks ontsien het om vir ons van sonde en duiwel en dood te verlos nie. Hierdie Evangelie moet aan alle mense oor die hele wêreld oorvertel (verkondig) word, want dis ʼn krag van God vir elkeen wat glo. 

Is dit ook vir jou goeie nuus? Vertel dit dan oraloor en herinner die wêreld dat hierdie Generaal nou Koning en Regter is wat binnekort met die wolke kom en Hy kom oordeel oor lewendes en dooies. 

Maranata! Kom Here Jesus! 

Ds Maarten 

Tekens van die tyd

Ek het die afgelope week ‘n paar video’s gekry waar Christen-predikers in Engeland gearresteer en van London se strate verwyder is. Net daarna sien ons hoe ‘n Moslem Imam, nogal met ‘n luidspreker, sy oproep tot gebed van die bekende London Tower Bridge basuin en dan onder dieselfde polisie beskerming! Dit is ooglopende diskriminasie en openbare vervolging van die Christene. 

Dit moet ons egter nie so baie ontstel of afskrik nie, want dit is maar die tekens van die tyd. Die einde van die wêreld storm nader. Ons stryd is immers nie net vir finansiële oorlewing nie. Ons leef vir die Here en moet hierdie dinge te wagte wees. 

Ef 6:10-12 lui immers:”.. word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. [11] Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. [12] Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” 

Die profesie lui dat die duiwel in die laaste dae ‘n tydjie losgelaat gaan word (Op 20:3,7). Ons sien dit alhoemeer. Die vraag is, dus of ons bewustelik deel is van hierdie stryd. 

Die minste wat ons, kan doen is bid, maar ons kan ook weerstand bied deur dié dinge te doen en te soek wat die koninkryk van God bevorder. Dan sal die Here vir die res sorg. 

“Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matt 6:33) 

Ds Maarten 

« Older posts Newer posts »