Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 5 of 50)

 Bybelse ekonomiese beginsels

 Dwarsdeur die wêreld en eeue heen stoei die mensdom met die kwessie van ryk en arm. In die vorige eeue het die dwaasheid van die koningshuis en gepaardgaande adellike rykdom en verkwisting tot ‘n breekpunt gekom met die Franse rewolusie. Demokrasie is gebore en verkoop as die “silver bullet”, maar die ongelooflike kontraste in die Westerse wêreld tussen super rykes en armes skreeu ten hemele. Sosialisme en kommunisme as alternatief het gefaal en lui mense gekweek met min inisiatief om die wêreld te bewoon, bewerk en bewaar. 

As Christene moet ons antwoorde kan bied op alledaagse probleme, anders bly die Bybel en ons godsdiens teoreties en ‘n Sondag-stokperdjie. Jubeljaar met al sy reëlings, is die Bybel se antwoord op hierdie ekonomiese vraagstuk. “Heilig die vyftigste jaar en kondig ‘n kwytskelding in die land af vir al die inwoners van die land. ‘n Jubeljaar moet dit vir julle wees” (Lev. 25). Een keer in elke mens se lewe het almal die kans gekry om van vooraf te begin. Al het jy hope bymekaar gemaak, is alles tydens die Jubeljaar geneutraliseer en het die vader se groot erfdeel nie sorgelose kinders geskep nie. As jy verarm het a.g.v. jou vader se wanbestuur, het jy ‘n kans gekry om oor te begin en ‘n sukses te maak vir jou en jou gesin. Leef jy uitspattig voor die Jubeljaar, beter jy na die Jubeljaar baie vinnig te verander of jy word die een wat jou grondgebied moet verkoop. 

Verder vereis Lev 25 dat die armes gehelp moet word deur hulle land te verpand en self dagloners te word. Daar was dus geen “SASSA-uitkerings” vir werkloses nie, en selfs die weduwees en wese moes hulle kant bring deur self kos bymekaar te maak, soos dit baie mooi vir ons geskilder word in Rut 2. Almal was besig om hulle talente te gebruik om besig te wees met hul kultuur opdrag van Gen. 2. 

Ons wat leef in ‘n komplekse 21ste eeuse samelewing, is die onmiddellike terugkeer na hierdie Bybelse model is nie haalbaar nie. Ons kan egter begin met ‘n paar praktiese dinge soos om voor die Here te bely dat alles syne is en dat alles wat ons het net geleende goed is. Wees elke dag besig om voluit te werk om die wêreld te bewoon, bewerk en te bewaar. Leef om te werk in Gods koninkryk en nie werk om te leef (oorleef). As die Here ons seën met oorvloed, seën ons ander mense sonder om terug te verwag. Weerstaan die wêreldse begeerte om so gou moontlik genoeg bymekaar te maak om “gemaklik te kan aftree” en dink twee keer voor jy geld op jouself spandeer (bv. nuutste model voertuig). As elkeen sy plig doen, en ons vra die Here se seën daarop, kan ons land ‘n paradys word waarin almal in vrede met mekaar kan leef. 

Oudl Andries Zeevaart 

 Die Here bewaar

 Die Here bewaar jou uitgang en jou ingang (Ps121) 

 Die afgelope week was vir ons as gemeente een van baie hartseer. Binne 24 uur word drie lidmate skielik uit ons midde weggeruk en dan boonop is daar nog die talle siekes waarvan sommige baie ernstig is. 

Nie alleen is daar Sondag twee lidmate wat met hartprobleme sterf nie, maar Maandagoggend sterf die jonge suster Melinda op haar verjaarsdag in ‘n motorongeluk en haar man Liam Pilkington beland in ‘n kritieke toestand met veelvuldige kop en rugbeserings, in die hospitaal. Om die donker prentjie nog te vererger begrawe ds Lourens sy oom die afgelope week nadat hy deur ʼn vragmotor in Pretoria omgery is! 

En tog sien ons dat die digter van Ps 121 bely dat dit alles nie toevallig plaasgevind het, omdat die Here dalk sou slaap of sluimer nie. Nee, Hy is soos die skadu aan ons regterhand. 

Hy bewaar ons nie maar net VAN die dood nie maar ook IN die dood. Hy, die Bewaarder van Israel, laat niks toevallig oor ons kom nie. 

So skryf die digter dat God ons uitgaan en ingaan beheer. Eerstens dui dit gewoon op ons daaglikse lewensgang – jy gaan uit om te werk of te leer, en keer weer terug huistoe na ‘n bepaalde tyd. En Hy, die almagtige God en Here, Hy sorg vir jou. 

Maar as ons na die volgorde van die twee woorde kyk, dan sien ons dat die Here ook in ons UITGAAN uit hierdie lewe die enigste sê het, en dat juis Hy bepaal wat daarna, dws in die dood, met ons gebeur. 

Jesus se ‘uitgang‘ wat Hy in Jerusalem kom voltooi het (Luk 9:31), kom gee aan ons uitgang uit die lewe sin, sodat ons nou kan ‘ingaan’ in die hemelse heerlikheid. 

So bewaar Hy ons uitgaan én ons ingaan, om ewig by die Vader te wees. En so word die hartseer van die afgelope week, beperk deur die heerlike wete dat ons verlies hul wins is. 

Mag die Here wat die dood oorwin het, uit die hoë hemel deur die Heilige Gees aan elke bedroefde hart sy lieflike troos en bystand gee. 

Ds Maarten 

JUBEL SAAM IN GELOOF & LIEFDE

 (Matt 22:39; Rom 12:10; Ef 4;1; Tess 5:1; Pet 4:10)

 ‘n Jubeljaar/Hersteljaar vir die volk. Vreugde oor skulde afgeskryf en opnuut blydskap oor God se genade en voorsiening! Hy kom en herstel in Christus ons verhouding met Hom, Christus was ons skoon van ons sondeskuld. Die Jubeljaar beeld uit God se genade en ons kan ook daarin deel! 

Hy herstel ook die verhoudinge tussen mense. Hy bring versoening deur Sy Gees wat harte verander, herskep en bekering meebring. Vrymoedigheid in belydenis, vrymoedigheid in geloofsgemeenskap. Hy gebruik ons om in hierdie donker wêreld lig en sout te wees! 

Beleef jy hierdie herstelde verhoudinge? Vind jy vreugde in jou gesin, familie en onder mekaar as medegelowiges? Of is daar seer, ‘n huiwerende gemoed vir saam te kom, ‘n selfsug dat ek op my eie regkom? Kom jy na die erediens net om te ontvang en nie om diensbaar te wees nie? 

Ek skiet tekort in meeste van my verhoudinge. Maar nou kan ons hierdie introspeksie/herstel/“reset” gebruik om weer ‘n stap te neem om saam weer hande te vat, geloofs- en liefdesbande te smee en weer as geloofsfamilie mekaar te bedien. Dit begin by die huis en by ons as gemeente! 

Oudl Fred Reynecke 

 BEWUSTELIK JUBEL

 In hierdie Jubeljaar gaan dit allereers om lof en eer aan die Here. Jubel geskied veral deur sang en lied. Baie bekende en geliefde lofliedere (soos Psalms 103, 146 – 150) weerklink telkens gedurende ons eredienste, en met goeie reg. Hierdie lofliedere kom egter eers tot volle reg as die sanger nie net konsentreer op melodie en sang nie, maar veral ook op die woorde. Laasgenoemde word mettertyd verwaarloos, veral in die sing van baie bekende liedere, met as voorbeeld die dikwels gedagtelose sing van Psalm 146:1: 

Prys die Heer met blye galme, 
o, my siel, daar’s ryke stof! 
‘k sal solank ek leef, my psalme 
vrolik toewy aan sy lof 
en Hom, wat sy guns my bied, 
altyd groot maak in my lied. 

Die bewustelike sing van hierdie psalmvers behels die volgende: 

Prys die Heer met blye galme: Dit is die Here, die Skepper van hemel en aarde, en ons Vader in Jesus Christus, wat geloof word, en dit voluit, en met blydskap oor Sy genade. 

o, my siel, daar’s ryke stof!: Ek herinner myself daaraan dat die seȅninge van die Here in my lewe talryk is, en oor tyd en ewigheid strek. 

‘k sal solank ek leef, my psalme vrolik toewy aan Sy lof: My lof aan God is met vreugde deel van my hele lewe, of dit nou goed, of minder goed gaan. 

en Hom, wat sy guns my bied, altyd groot maak in my lied: Dit is die Here wat in Sy goedertierenheid Sy helpende hand in Christus na my uitgesteek het, en my vir ewig Sy kind gemaak het. Daarom kan ek nie anders nie as om Hom altyd, in alle omstandighede, te loof vir die oneindige omvang van Sy liefde en majesteit. 

By al die baie seëninge van ons Here, het Hy ons ook geseën met die vermoë om te dink en te konsentreer. Laat ons Hom dus loof met die bewustelike sing van elke lofpsalm, en daarmee saam elke lied waarin ons tot Hom nader. 

Oudl Gerrit Kamper 

 GOD SE GEREGTIGHEID

 In die bergpredikasie, sê Jesus: “Gelukkig is die wat dors na geregtigheid” Matt 5:6. Hy dra ons ook op, in Matt 6:33, om eers die koninkryk van God en sy geregtigheid te soek. Wat beteken God se geregtigheid? 

Geregtigheid gaan oor verhoudings tussen mense maar meer belangrik oor die verhouding tussen God en die mens. God se geregtigheid is een van sy wesens-eienskappe wat Sy verhouding met ons beheers. 

Hierdie eienskap behels dat Hy volmaak regverdig en billik is en altyd so teenoor ons optree. Hy lê reëls neer vir die mens en ongehoorsaamheid daaraan straf Hy met die dood (Gen 2:16–17). Elkeen van ons moet elke dag die erns van ons daaglikse ongehoorsaamheid besef – ons is almal skuldig tot die dood. Lees maar weer Rom 3:10–20. 

God se geregtigheid sluit genadiglik ook in dat hy deur Jesus Christus ons sondes volkome vergewe. In 1 Johannes 1: 8 – 9 lees ons dat as ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie, maar as ons ons sonde bely – Jesus Christus is getrou en regverdig, Hy vergewe ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Joh 1). 

Die sleutel tot hierdie vergifnis en die ware en ewige lewe lê in geloof in Christus. In Rom 1:17 sê die Heilige Gees deur Paulus dat elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo sal lewe. Die geregtigheid wat ek, sondige mens, nodig het, lê in die Evangelie van Christus. Christus is sentraal in God se geregtigheid – nie die wet, goeie werke of enige iets anders nie. 

Wat ons benodig is ware geloof wat sigbaar moet word in ons daaglikse lewenswyse. In Jak 2:14 ev word ons aangemoedig om ons geloof uit ons dade te wys. 

Ons jubel ook, Jak 1:4 ev, in God se geregtigheid wat Hy in Christus aan ons geopenbaar het. 

Oudl. Koos Pretorius 

 Die wonder van geloof!

 Elke gelowige van die ware kerk staan op ’n tyd en antwoord “ja” voor ons God en die gemeente. Hierdie belofte dra dan ook sy eie gewig oor as ’n amp. Ons amp tot toewyding en evangelisasie. Die amp van elke gelowige. 

Met tyd kan ons begin lou raak in ons amp en soms ook heeltemal oorgee in onsself. Ons weet ons is gered, maar tog probeer ons self die leisels neem en in ons eie kragte glo. Besef ons nog elke dag die krag van die geloof? 

Menigmaal in ons evangelisasie wil ons self ‘n persoon tot bekering bring en maak ons staat op ons woorde. Ons vergeet dat die mag om ’n persoon se hart te verander lê nie in onsself nie, maar in die Heilige Gees. In die geskiedenis van Lidia het ons dit gelees: “ …Die Here het haar vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak…” (Handelinge 16: 9-15). By die prediking word dit telkens bevestig, want onder die prediking – groei die geloof. 

Wanneer ons sterk staan in die geloof in volle afhanklikheid van God, besef ons weer dat ons nie werk van die Heilige Gees kan doen nie. Slegs die Gees kan mense se harte verander. Die amp van elke belydende lidmaat is om te volhard in die geloof en om die Woord te verkondig, suiwer – so sê die Here, Here. Daarna is dit verder ons amp om aan te hou glo, dat as dit die wil van God is, sal daar ware bekering wees. 

Ons kan ander bemoedig in nood en ellende in die Naam van God, en weet ons woorde mag dalk na woorde klink, maar agter dit werk die Gees. Gaan jubelend die dag in, want jy het dié wonder! 

Oudl Didrich Tereblanch 

« Older posts Newer posts »