Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 6 of 50)

God sorg vir ons, maar…

“Julle is meer werd as baie mossies.” 

Die bekende gedeelte van Christus wat ons in Matteus 10:31 lees sê dat ons vir God meer belangrik is as al die diere op die aarde. Maar beteken dit ons het geen verantwoordelikheid hier op aarde het nie? Kan ons maar net agteroor sit en God sal sorg? Natuurlik nie. God gee vir ons die opdrag van werk in verskeie dele van die Bybel: Genesis 1:28; Genesis 3:19 asook in Handelinge 20:35 (1983) waar Paulus sê – “Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help…” is maar enkele voorbeelde hiervan. 

Nou kom die vraag op, hoe hard moet ek werk en en mag ek myself verryk? In die 10de gebod sê God aan ons, ons mag nie begeer nie, maar ook lees ons in Spreuke 10:4 (1953) “Hy word arm wat met ’n trae hand werk, maar die hand van die vlytiges maak ryk.”; en in Lukas 19:11-27 (1953) die bekende gelykenis van die goue munte en waar die heer aan sy diensknegte se “…Dryf handel daarmee totdat ek terugkom.” 

Dit is belangrik om te verstaan dat God nie ʼn ryk man haat nie, maar wel as geld in ons lewe God se plek inneem, en ons geld méér lief het as vir God. “Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.” (1 Tim 6:10). 

Dus kan ons saamvat deur te sê: God haat luiheid. Hy het immers aan ons talente gegee en om te gebruik. Daardeur kan ons die Gewer verheerlik. Ons word getaak om ons gawes tot die beste van ons vermoë te gebruik. Welvaart moet net nie ʼn afgod raak nie. 

Deel mee aan die wyse, en hy sal nog wyser word, leer die regverdige, en hy sal insig vermeerder.” Spreuke 9:9 (1953) 

Oudl André Pretorius 

‘N JUBEL LEWE TOEGEWY AAN GOD

‘n Lewe toegewy aan God – ‘n begrip wat ons maklik vir onsself toeëien. Ek dink elkeen van ons as gelowiges streef tog op een of ander manier na ‘n lewe toegewy aan die Here, al is dit soms bitter moeilik. Want die vraag is, waar en hoe pas ek die Here in my dag tot dag lewe in. Tussen ons werk, kinders se skool en na-skool programme is daar nie veel gesinstyd, tyd vir onsself, tyd vir vriende, en dan ook maar min tyd vir die Here. Op die manier kan ons beswaarlik sê dat ons, ons lewe toegewyd aan God.

Die Here gee ons egter in 2 Pet 1: 3-8 duidelike riglyne oor hoe Hy wil dat ons geestelik moet groei om toegewyd aan Hom te lewe :

  • Span jou in om altyd God se wil na te jaag – maar om dit te kan doen:.
  • Moet jy sy Woord goed ken (om Sy wil raak te sien);
  • Lewe met selfbeheersing – Moenie dat sondige begeertes jou onderkry nie.
  • Wees standvastig – Hou aan glo, onder alle omstandighede.
  • Maak God se Naam groot in alles wat jy doen.
  • Dra ander gelowiges altyd op die hande – bewys liefde aan alle mense.

Om toegewyd aan die Here te leef, moet Hy ons eerste prioriteit wees – die werklikheid is dat ons prioriteite gereeld agterstevoor is. Dit behoort iets as volg te lyk:

  1. God (my verhouding met God).
  2. My huwelik / gesin.
  3. Rus / persoonlike dinge (soos sport en stokperdjies).
  4. My werk.

Dis min of meer hoe dit in die meeste mense se lewensideale lyk. Maar kom dit in die praktyk, dan is die teenoorgestelde die werklikheid. Ons probeer die Here hier en daar in te pas tussen die verloop van ‘n normale dag.

God verwag egter van ons om Hom eerste te stel en die res van ons lewens, met al ons verpligtinge en verantwoordelikhede, te rig en te bestuur rondom Hom, as kernpunt in ons lewe. Op die manier is die Here se wil deel van hoe jy besigheid doen, omgaan met mense, besluite neem – en hoe jy oor die algemeen teen jou naaste optree.

Kom ons begin in hierdie jubeljaar om God weer eerste te stel, deur ‘n lewe toegewy aan Hom – deur ons lig te laat skyn, te getuig deur die manier hoe ons leef, om so Sy liefde en hoop uit te straal.

Oudl Renier vd Merwe

Christus die vervulling van dieJubeljaar

Levitikus 25 beskryf die Sabbatsjaar en die Jubeljaar. Elke sewende jaar moet die land rus. Ná sewe sulke siklusse, in die 50ste jaar, is dit Jubeljaar: grond word aan oorspronklike eienaars teruggegee, slawe word vrygelaat, en skuld word herstel—’n jaar van vryheid en herstel volgens God se wil.

Wonderlike vryheid en herstel veral vir onderdruktes en behoewendes, maar moontlik ook ‘n tyd van geestelike beproewing en geloofsvertroue vir welgesteldes wat moet afstand doen van grond en/of arbeiders.

In Lukas 4:16-21 kan ons sien dat Jesus sy koms en sending direk verbind aan die Jubeljaar wanneer Hy in die sinagoge uit Jesaja 61 lees:
“Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig.
Hy het My gestuur om gevangenis aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien, om onderdruktes te bevry,
en om die genadejaar van die Here aan te kondig.”

Die genadejaar is ’n verwysing na die Jubeljaar (Levitikus 25) en Jesus sê in wese dat Hy die vervulling is van die Jubeljaar.

Hy praat nie net van ’n ekonomiese herstel nie, maar bied geestelike en sosiale herstel aan: vryheid van sonde, skaamte, skuld en onderdrukking.

In Christus leef ons in ʼn Jubeljaar as onverdiende verloste sondaars; dit roep ons op tot ‘n lewe van dankbaarheid, maar vereis ook ‘n aktiewe geloofsvertroue in God se wil en werking in ons lewens.

Oudl J Hoogendyk

Ware Barmhartigheid

Julle wat hier sit in die kerk, het my amper dood gemaak.” Dit is harde woorde van ‘n gerehabiliteerde straatbedelaar by ‘n kerkbyeenkoms waar hy sy getuienis gelewer het. 

Ja, hy het ook ‘n verantwoordelikheid, maar elkeen wat sonder verantwoording geld in sy hand gestop het, was deel van sy probleem. 

Barmhartigheid beteken betrokkenheid by die probleem totdat dit opgelos is. Barmhartigheid veroorsaak nie afhanklikheid van mense nie. Ons kan slegs afhanklik wees van God! Die Barmhartige Samaritaan (Lukus 10) het nie net die arme jong man ‘n paar munte in die hand gestop en gehoop hy help homself nie? Hy het werklik deel geword van die probleem tot by oplossing. 

Daar is ongeveer 8000 straatbedelaars in Pretoria en Centurion omgewing, 99,9% van hulle het een of ander afhanklikheid – dwelms en/of drank. Hulle bedel/verdien daagliks ‘n gemiddeld van R300 tot R900 kontant. Soms met die mees hartroerende stories. 

Daar is meer as 42 kosbedieningspunte in die area en ook verskeie organisasies wat help met straatbedelaars. Die geld wat hulle so bedel word primêr vir die koop van dwelms gebruik – kos kry hulle in elk geval. Selfs die kos, doeke en babamelk wat hulle bedel word verkoop. Hierdie is in baie gevalle die mense wat dwelms aan ons kinders verkoop. 

Die gevaar bestaan dat jy nie deel is van die oplossing van die probleem nie maar van die oorsprong daarvan, deur die selfsugtige en onverantwoordelike uitdeel van geld en goed aan die mense wat uiteindelik gaan oor die gewer se “goedvoel” omdat hy/sy “gehelp” het. 

Help eerder die wat reeds help en weet wat om dit te doen, of vra eerder hoe om te help. 

Hippocrates het gesê: “maak ‘n gewoonte van twee goed, om te help, of om ten minste nie skade te doen nie.” 

Oudl Anton Smith 

Kenmerke van ‘n Christelike lewe

Hoe verskil die lewe van ‘n Christen teenoor ‘n nie-Christen? Beleef ons as Christene nie ook maar teenspoed of swaarkry nie? Word ons nie ook maar siek nie? Of beleef ons as Christene nie enige finansiële druk nie? Net soos enige iemand anders, of dalk selfs meer, juis omdat ons Christene is, beleef ons ook moeite, swaarkry en verdriet. 

Paulus bid vir die gemeentes van Kolossense en Tessalonisense: 

Kolossense 1:3-5: “Elke keer wanneer ons vir julle bid, dank ons God, die Vader van ons Here Jesus Christus. Dit doen ons, want ons het gehoor van julle geloof in Christus Jesus, en die liefde wat julle vir al die heiliges het, op grond van die hoop wat in die hemel op julle wag.” 

1 Tessalonisense 1:2-3: “Ons dank God altyd oor julle almal wanneer ons aan julle dink in ons gebede. Voor God ons Vader onthou ons onophoudelik die uitwerking van julle geloof, die moeitevolle inspanning van julle liefde, en die standvastigheid van julle hoop op ons Here Jesus Christus.” 

Paulus bid nie: “ons dank die Here omdat ons gehoor het hoe goed dit met julle gaan en hoeveel voorspoed julle beleef”, nee, Paulus dank God omdat die Christene se lewens gekenmerk word deur geloof, hoop en liefde. 

Gaan dus hierdie week in met ‘n diepe geloof in ons Koning en Verlosser Jesus Christus, en met standvastige hoop op al God se beloftes en ‘n onvoorwaardelike liefde aan God, aan ons naastes en aan alle mense. 

Oudl Eric Guldemond 

Psalms

In hierdie jubeljaar het ons die voorreg om Psalms te sing. 

Hierdie is aanhalings uit: “Ek sing ‘n lofsang by my snare” (Psalms as lied in die Erediens) deur T.G. van Wyk. Die Griekse woord “psalmos” beteken ‘n lied wat met begeleiding van snarespel gesing word. Volgens sekere verklaarders is dit ook die betekenis van die Hebreeuse woord “mizmoor” wat in die opskrif van 57 Psalms voorkom en inderdaad in Afrikaans met “psalm” vertaal is. 

Wat gebied die Skrif? 

Luister wat sê Ps. 47:7,8: “Psalmsing tot eer van God, psalmsing! Psalmsing tot eer van ons Koning, psalmsing! … ” 

Ps. 81: (Dit is die Verbond Psalm) Vers 3: “Hef aan ‘n lied…” (In die State-Bybel word in die plek van lied, Psalm gebruik) Vers 5: “…want dit is ‘n insetting vir Israel“. 23 Ps. 105:2: “Sing, psalmsing tot sy eer.” 25 Ps. 147:7: “Sing ‘n danklied tot eer van die Here, psalmsing tot eer van onse God, met die siter“. 

Jakobus 5:13: “Is daar iemand onder julle wat ly? Laat hom bid. Is iemand opgeruimd? Laat hom Psalmsing“. 

1 Kor 14:15: “Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing.” 

Ef. 5:19: “Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here“. 

Kol. 3:16: “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here“. 

Laat ons dan in hierdie Jubeljaar in gehoorsaamheid en dankbaarheid saam met ons geliefde mede-broeders en -susters psalmsing tot eer van Sy Naam 

Oudl Leon Lourens 

« Older posts Newer posts »