Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 4 of 49)

JUBEL SAAM IN GELOOF & LIEFDE

 (Matt 22:39; Rom 12:10; Ef 4;1; Tess 5:1; Pet 4:10)

 ‘n Jubeljaar/Hersteljaar vir die volk. Vreugde oor skulde afgeskryf en opnuut blydskap oor God se genade en voorsiening! Hy kom en herstel in Christus ons verhouding met Hom, Christus was ons skoon van ons sondeskuld. Die Jubeljaar beeld uit God se genade en ons kan ook daarin deel! 

Hy herstel ook die verhoudinge tussen mense. Hy bring versoening deur Sy Gees wat harte verander, herskep en bekering meebring. Vrymoedigheid in belydenis, vrymoedigheid in geloofsgemeenskap. Hy gebruik ons om in hierdie donker wêreld lig en sout te wees! 

Beleef jy hierdie herstelde verhoudinge? Vind jy vreugde in jou gesin, familie en onder mekaar as medegelowiges? Of is daar seer, ‘n huiwerende gemoed vir saam te kom, ‘n selfsug dat ek op my eie regkom? Kom jy na die erediens net om te ontvang en nie om diensbaar te wees nie? 

Ek skiet tekort in meeste van my verhoudinge. Maar nou kan ons hierdie introspeksie/herstel/“reset” gebruik om weer ‘n stap te neem om saam weer hande te vat, geloofs- en liefdesbande te smee en weer as geloofsfamilie mekaar te bedien. Dit begin by die huis en by ons as gemeente! 

Oudl Fred Reynecke 

 BEWUSTELIK JUBEL

 In hierdie Jubeljaar gaan dit allereers om lof en eer aan die Here. Jubel geskied veral deur sang en lied. Baie bekende en geliefde lofliedere (soos Psalms 103, 146 – 150) weerklink telkens gedurende ons eredienste, en met goeie reg. Hierdie lofliedere kom egter eers tot volle reg as die sanger nie net konsentreer op melodie en sang nie, maar veral ook op die woorde. Laasgenoemde word mettertyd verwaarloos, veral in die sing van baie bekende liedere, met as voorbeeld die dikwels gedagtelose sing van Psalm 146:1: 

Prys die Heer met blye galme, 
o, my siel, daar’s ryke stof! 
‘k sal solank ek leef, my psalme 
vrolik toewy aan sy lof 
en Hom, wat sy guns my bied, 
altyd groot maak in my lied. 

Die bewustelike sing van hierdie psalmvers behels die volgende: 

Prys die Heer met blye galme: Dit is die Here, die Skepper van hemel en aarde, en ons Vader in Jesus Christus, wat geloof word, en dit voluit, en met blydskap oor Sy genade. 

o, my siel, daar’s ryke stof!: Ek herinner myself daaraan dat die seȅninge van die Here in my lewe talryk is, en oor tyd en ewigheid strek. 

‘k sal solank ek leef, my psalme vrolik toewy aan Sy lof: My lof aan God is met vreugde deel van my hele lewe, of dit nou goed, of minder goed gaan. 

en Hom, wat sy guns my bied, altyd groot maak in my lied: Dit is die Here wat in Sy goedertierenheid Sy helpende hand in Christus na my uitgesteek het, en my vir ewig Sy kind gemaak het. Daarom kan ek nie anders nie as om Hom altyd, in alle omstandighede, te loof vir die oneindige omvang van Sy liefde en majesteit. 

By al die baie seëninge van ons Here, het Hy ons ook geseën met die vermoë om te dink en te konsentreer. Laat ons Hom dus loof met die bewustelike sing van elke lofpsalm, en daarmee saam elke lied waarin ons tot Hom nader. 

Oudl Gerrit Kamper 

 GOD SE GEREGTIGHEID

 In die bergpredikasie, sê Jesus: “Gelukkig is die wat dors na geregtigheid” Matt 5:6. Hy dra ons ook op, in Matt 6:33, om eers die koninkryk van God en sy geregtigheid te soek. Wat beteken God se geregtigheid? 

Geregtigheid gaan oor verhoudings tussen mense maar meer belangrik oor die verhouding tussen God en die mens. God se geregtigheid is een van sy wesens-eienskappe wat Sy verhouding met ons beheers. 

Hierdie eienskap behels dat Hy volmaak regverdig en billik is en altyd so teenoor ons optree. Hy lê reëls neer vir die mens en ongehoorsaamheid daaraan straf Hy met die dood (Gen 2:16–17). Elkeen van ons moet elke dag die erns van ons daaglikse ongehoorsaamheid besef – ons is almal skuldig tot die dood. Lees maar weer Rom 3:10–20. 

God se geregtigheid sluit genadiglik ook in dat hy deur Jesus Christus ons sondes volkome vergewe. In 1 Johannes 1: 8 – 9 lees ons dat as ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie, maar as ons ons sonde bely – Jesus Christus is getrou en regverdig, Hy vergewe ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Joh 1). 

Die sleutel tot hierdie vergifnis en die ware en ewige lewe lê in geloof in Christus. In Rom 1:17 sê die Heilige Gees deur Paulus dat elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo sal lewe. Die geregtigheid wat ek, sondige mens, nodig het, lê in die Evangelie van Christus. Christus is sentraal in God se geregtigheid – nie die wet, goeie werke of enige iets anders nie. 

Wat ons benodig is ware geloof wat sigbaar moet word in ons daaglikse lewenswyse. In Jak 2:14 ev word ons aangemoedig om ons geloof uit ons dade te wys. 

Ons jubel ook, Jak 1:4 ev, in God se geregtigheid wat Hy in Christus aan ons geopenbaar het. 

Oudl. Koos Pretorius 

 Die wonder van geloof!

 Elke gelowige van die ware kerk staan op ’n tyd en antwoord “ja” voor ons God en die gemeente. Hierdie belofte dra dan ook sy eie gewig oor as ’n amp. Ons amp tot toewyding en evangelisasie. Die amp van elke gelowige. 

Met tyd kan ons begin lou raak in ons amp en soms ook heeltemal oorgee in onsself. Ons weet ons is gered, maar tog probeer ons self die leisels neem en in ons eie kragte glo. Besef ons nog elke dag die krag van die geloof? 

Menigmaal in ons evangelisasie wil ons self ‘n persoon tot bekering bring en maak ons staat op ons woorde. Ons vergeet dat die mag om ’n persoon se hart te verander lê nie in onsself nie, maar in die Heilige Gees. In die geskiedenis van Lidia het ons dit gelees: “ …Die Here het haar vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak…” (Handelinge 16: 9-15). By die prediking word dit telkens bevestig, want onder die prediking – groei die geloof. 

Wanneer ons sterk staan in die geloof in volle afhanklikheid van God, besef ons weer dat ons nie werk van die Heilige Gees kan doen nie. Slegs die Gees kan mense se harte verander. Die amp van elke belydende lidmaat is om te volhard in die geloof en om die Woord te verkondig, suiwer – so sê die Here, Here. Daarna is dit verder ons amp om aan te hou glo, dat as dit die wil van God is, sal daar ware bekering wees. 

Ons kan ander bemoedig in nood en ellende in die Naam van God, en weet ons woorde mag dalk na woorde klink, maar agter dit werk die Gees. Gaan jubelend die dag in, want jy het dié wonder! 

Oudl Didrich Tereblanch 

JUBEL WANT GOD HEERS AS KONING

“Hoe lieflik op die berge is die voete van ‘n boodskapper van vreugde, een wat vrede verkondig, wat ‘n goeie boodskap bring, wat verlossing verkondig, wat vir Sion sê: “Jou God heers as Koning!” (Jesaja 52:7) 

Luister hoe Jesus Christus deur sy boodskappers die goeie boodskap van vreugde, vrede en verlossing aan Sy kerk bring en verklaar: “Jou God heers as Koning”. 

Deur die soenverdienste van Jesus Christus, wat vir ons sonde aan die kruis betaal het, het God aan ons vreugde geskenk. Hiervan ís die Nagmaal wat ons vandag vier die verbondsteken. Ons jubel in vreugde tot eer van God oor hierdie liefdesboodskap uit die hemel: Wie in Hom glo, is verlos, en die hoogtepunt: God regeer as Koning

“Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.” (Rom. 13:36) 

Vandag vier ons met vreugde en dankbaarheid die gemeente se stigting op 1 Junie 1975 soos God dit in Sy wil vir ons gegee het. 

Daarom gemeente van Centurion: jubel voor die Here! 

“Sing vir die Here ’n nuwe lied, sing vir die Here, o ganse aarde! Sing vir die Here prys sy naam.” (Ps. 96:1) 

Ons hartlike dank aan Jan en Isabel Nel en die Feeskomitee vir ure se beplanning en organisering om vir ons ‘n lieflike fees te reël. Dae lank hou ons kinderpartytjie, gesellige kuier, fynproewer-ete, koek-en-tee en sluit die fees af met lofprysing. Ons jubel want ons God heers as Koning! 

Kom vier dan fees in vreugde met ‘n ewigheidsperspektief… trek jou mooiste feesklere aan, doen rein dade, …want God heers as Koning

Oudl Pieter Wolmarans 

God sorg vir ons, maar…

“Julle is meer werd as baie mossies.” 

Die bekende gedeelte van Christus wat ons in Matteus 10:31 lees sê dat ons vir God meer belangrik is as al die diere op die aarde. Maar beteken dit ons het geen verantwoordelikheid hier op aarde het nie? Kan ons maar net agteroor sit en God sal sorg? Natuurlik nie. God gee vir ons die opdrag van werk in verskeie dele van die Bybel: Genesis 1:28; Genesis 3:19 asook in Handelinge 20:35 (1983) waar Paulus sê – “Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help…” is maar enkele voorbeelde hiervan. 

Nou kom die vraag op, hoe hard moet ek werk en en mag ek myself verryk? In die 10de gebod sê God aan ons, ons mag nie begeer nie, maar ook lees ons in Spreuke 10:4 (1953) “Hy word arm wat met ’n trae hand werk, maar die hand van die vlytiges maak ryk.”; en in Lukas 19:11-27 (1953) die bekende gelykenis van die goue munte en waar die heer aan sy diensknegte se “…Dryf handel daarmee totdat ek terugkom.” 

Dit is belangrik om te verstaan dat God nie ʼn ryk man haat nie, maar wel as geld in ons lewe God se plek inneem, en ons geld méér lief het as vir God. “Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.” (1 Tim 6:10). 

Dus kan ons saamvat deur te sê: God haat luiheid. Hy het immers aan ons talente gegee en om te gebruik. Daardeur kan ons die Gewer verheerlik. Ons word getaak om ons gawes tot die beste van ons vermoë te gebruik. Welvaart moet net nie ʼn afgod raak nie. 

Deel mee aan die wyse, en hy sal nog wyser word, leer die regverdige, en hy sal insig vermeerder.” Spreuke 9:9 (1953) 

Oudl André Pretorius 

« Older posts Newer posts »