Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 287 of 328)

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika Loof die Here vir 160 jaar se genade!

Dit is vandag, 10 Februarie 2019, presies 160 jaar gelede wat ons geloofsvoorouers by Rustenburg biddend daartoe oorgegaan het om die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika te stig. Die diepste motief was en is nog steeds om ‘n kerk van die Here te wees wat die Woord van die Here voorop stel in alles wat ons doen, dink en sê.

Die Here het deur 160 jaar die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) instrumenteel gebruik om die boodskap van redding en genade in Jesus Christus uit te dra aan alle volke en tale in ons land en ook aan mense in lande buite Suid-Afrika.

Kyk ons terug, dan staan die GKSA daarvoor bekend dat hulle onvoorwaardelik aan die waarheid van die Woord vasgehou het. Wanneer daar in die kerkverband onrus of verskil bestaan het, is die vrede gevind deur die buig voor die gesag van die Woord van die Here.

Die GKSA het in die 160 jaar steeds reformerend gebly. Diep in ons harte bly dit staan om altyd te reformeer, terug na die Woord van die Here, nader aan die waarheid van die Woord van die Here.

Vele uitdagings en druk word tans van buite die GKSA beleef. So is daar druk van die kant van die regering en van sekere mense om te konformeer met die wêreldse standaarde en beskouings. Wetgewing in Suid-Afrika van die staat se kant om beheer en inspraak in kerke te probeer kry, is ‘n uitdagende saak. Die wettiging van lotery, aborsie op aanvraag, regstellende aksies, homoseksuele/lesbiese huwelike en moontlike grondonteiening is maar ‘n paar sake wat die lidmate van die GKSA mee gekonfronteer word.

Dan is daar ook druk en verskil wat binne die GKSA beleef word. So is daar onder andere vandag verskillende opinies oor die Bybelvertalings, oor die vrou in die amp, oor die nagmaalsgebruik, oor die sing van geestelike liedere bo en behalwe die Psalms en huidige Skrifberymings. Verder is daar ook groot kommer oor die dalende lidmaat getalle van gelowiges regoor die wêreld en veral in die GKSA.

Die GKSA het reformatories wonderlike groei en geleenthede beleef ten opsigte van die uitdra van die evangelie in Suid-Afrika en ander lande aan die mense wat nog nie tot geloof in die Drie-Enige God gekom het nie.

Mag die pad vorentoe vir die GKSA steeds wees:

  • Sola Scriptura – Die Bybel (Skrif) alleen
  • Solus Christus – Christus alleen
  • Sola Gratia – Genade alleen
  • Sola Fide – Deur die geloof alleen
  • Soli Deo Gloria – Aan God Alleen die Eer.

Ds Paul

Die enigste ware roem

Gal 6:14 Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld.”

Paulus het in sy vroeër jare as ‘n Rabbi menslikerwys baie dinge gehad om oor te roem, Hy het bo die Jode van sy tyd uitgestyg vanweë sy fanatieke ywer om die kerk van die Here te vervolg, Gal 1:13,14. In Fil 3:1-10 lys hy waarop hy alles sou kon roem. Maar nou het Paulus tot bekering gekom en besef hy die mens het niks om op te roem nie. Alles is genade en ons genade is gesetel in die kruis.

Die kruis was in Paulus se tyd ‘n vervloekte, veragte dood en die uiterste voorbeeld van swakheid en skande. En tog het Saulus van Tarsus die krag van die kruis ondervind en Paulus die apostel geword. Die kruis was nou nie meer ‘n struikelblok vir Paulus nie maar die fondamentsteen van sy boodskap: “Christus het vir ons sondes aan die kruis gesterf en betaal.”

Paulus het besef dat die kruis Vryheid gebring het van homself, Gal 2:20, van die liggaam Gal 5:24 en van die wêreld Gal 6:14. Met die dood en opstanding van Jesus Christus is God se krag geopenbaar en aan ons gegee om vryspraak te kry van sonde en dood. Die vleeslike mens en selfs die wettiese gelowige blaas sy eie roem en ego vir wat hy/sy doen, bevredig sy aardse menswees en doen goed vir die wêreld. ‘n Ware Christen roem alleen in die genade wat ons ontvang het deur Jesus Christus se kruisdood en lewe volkome uit dankbaarheid.

Elkeen wat dan in Jesus Christus glo en Hom dien en aanbid is deel van die nuwe, ware Israel. Gal 6:16.

Daarom roem ons saam met Paulus in die kruis van Jesus Christus. Aan die kruis het Hy gesterf, betaal en in ons plek die vervloeking geword vir al ons sondes.

1 Kor_1:31

Daarom, soos daar geskrywe staan: “Dié wat wil roem, moet in die Here roem.”

Ds Gerrit

Wil jy God beter sien? Maak oop jou ore!

Skriflesing: Ex 32-34
Teksvers: Ex 33:1,3,14-17

Eerder in ‘n wildernis met God as in ‘n paradys sonder God!

Hoe leef ons elke dag, met of sonder God? Is God net in die agtergrond van ons gedagtes? Ploeter ons elke dag voort in ons werk en in ons lewens? Of sien ons God in ons lewens en leef werklik tot eer van God? Moses was ‘n man van God wat in sy teenwoordigheid gelewe het elke dag. Elke dag het hy God “gesien en gehoor”. Moses wou niks doen as hy nie seker was dat God by hom en die volk is nie. Maar God is net by jou as jy in ware opregte afhanklikheid van God leef. Om in afhanklikheid te leef is om te hoor, te verstaan en in ‘n opregte gebedslewe met God te leef.

Ons gaan na drie sake kyk:

  • God se opdrag: Moses trek na Kanaän.
  • God se toorn: Ek trek nie saam met julle nie.
  • God se genade: Goed Ek sal saamtrek.

Laai af

« Older posts Newer posts »