Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 283 of 344)

VROUE VAN DIE REFORMASIE

Luther, Calvyn, Zwingli en Knox was as mans baie bekend tydens die Reformasie. Daar was egter ook vroue wat destyds op verskillende plekke en maniere in Europa meegewerk het om die Reformasie te bevorder. Dit was veral besonders omdat hulle opgetree het in ‘n tyd waar die vrou in die Rooms-Katolieke Kerk nie gereken was nie. Daar was twee tipes vroue wat tydens die Reformasie op verskillende maniere die reformasie ondersteun en bevorder het. Eerstens was dit vroue wie se mans as hervormers opgetree het. Tweedens was daar die adellike vroue wat ‘n groot liefde en ywer aan die dag gelê het vir die Reformatoriese waarhede. Hier volg inligting oor van hierdie Reformatoriese vroue wat die nuwe verstaan van die Christelike geloof, soos deur Luther en Calvyn beskryf is, hulle eie gemaak en positief ondersteun het:

KATHARINA VON BORA (1499-1550)

Katharina von Bora was Martin Luther se vrou. Sy het vanaf vyfjarige ouderdom as ‘n non in ’n klooster grootgeword. Sy het van Luther se beswaar teen die Roomse Kerk gehoor en haar daarmee vereenselwig. Sy en elf ander nonne het toe een aand in 1523 uit die klooster ontsnap en in Wittenberg aangekom. ‘n Paar jaar later is sy daar met Luther getroud. Sy het ‘n geweldige groot rol in Luther se lewe gespeel. Haar lewe laat ‘n mens onwillekeurig dink aan die vrou van Spreuke 31:10-31. Sy het byvoorbeeld geboer, ’n gastehuis en konferensiesentrum bedryf en handel gedryf. Baie van Luther se besoekers het in haar gastehuis tuisgegaan. Katharina het ook studente-akkomodasie gereël, sy het toegesien dat bier gebrou word en na die tuin en vee omgesien en ook die huishouding se finansies in orde gehou. Sy was, met Luther se dood, die eerste vroulike erfgenaam. Alhoewel sy later deur die staat onterf is. Luther het sy vrou bewonder vir haar skerp intellek en ook haar praktiese ingesteldheid.

ARGULA VON GRUMBACH (1492–1568)

Argula von Grumbach was ‘n vrou uit die adelstand in Beiere. Sy was van kleins af ‘n ywerige leser en het ook die Bybel bestudeer. Sy moes dit tuis doen, want formele opvoeding buite ’n klooster was nie vir jong meisies toelaatbaar nie. Sy het saam met haar man, Friedrich von Grumbach, naby Ingolstadt gewoon. Sy het eendag gehoor van ’n jong student, Arsacius Seehofer, wat by die teologiese fakulteit in Ingolstadt die standpunte van Luther ondersteun en versprei het. Die rektor en die universiteitsraad het vir Seehofer in hegtenis laat neem en hom gedwing om sy steun vir Luther terug te trek. Argula het ’n brief in Duits aan die universiteitsowerhede geskryf waarin sy hulle uitgedaag het om oor teologiese kwessies en spesi-fiek die student se saak met haar te debatteer. Hulle het egter geweier. Haar brief het egter ’n kitstreffer geword en was een van die mees gedrukte geskrifte van daardie tyd. Baie van haar geskrifte daarna het die boodskap van die Reformasie in Duitsland en na ander lande bevorder.

JEANNE D’ALBRET (1528-1572)

Jeanne d’Albret was ‘n Franse adelike. Sy was van jongs af uitgesproke en nie bang om op te staan teen onreg nie. Sy skryf op 12-jarige ouderdom ’n sterk bewoorde beswaarskrif teen haar gedwonge huwelik. Nadat haar huwelik nietig verklaar is, het sy met haar geliefde getrou. Haar seun, was koning Hendrik IV van Frankryk. Op Kersdag 1560 was sy een van die eerste adellikes wat openlik hulle protestantse geloof bely het. As heerser oor die ryk van Navarre het sy die vlugtelinge in Genève finansieel ondersteun. Sy het ook op skrif die protestantse geloof verdedig. Sy het die Bybel in Frans laat vertaal sodat enige gelowige die Bybel self kon lees. Sy het haar ryk se ekonomiese en juridiese sisteme hervorm. Dit alles ten spyte van al die oorloë waarby sy as heerser van haar land betrokke was.

KATHARINA SCHÜTZ ZELL (1497/8-1562)

Sy was een van die mees uitgesproke vroue, ‘n ware vuurvreter, wat by die hervorming betrokke was. Sy was ’n geleerde vrou, getroud met haar mede-hervormer, Matteus Zell. Sy was bekend vir haar barmhartigheid en omgee vir mense. Sy het byvoorbeeld haar ontferm oor die voortvlugtende hervormermans se vroue. Tydens ’n vlugtelingkrisis in haar tuisdorp, het sy die behoeftiges versorg. Sy en haar man was van die mees verdraagsame ondersteu-ners van die Reformasie. Sy het byvoorbeeld by Luther gepleit om liefdevol teenoor Zwingli op te tree oor hulle verskille met mekaar.
Die Here het bogenoemde vroue saam met ander mans en vroue instrumenteel gebruik om die groei en vestiging van die Reformasie daar te stel. Soli Deo Gloria!!!

Ds Paul

Verhoudings in jou lewe

Elke mens staan in ‘n klomp verhoudings in sy lewe. Dit begin met huweliksverhoudings, gesinsverhoudings, werksverhoudings, vriendskapsverhoudings en nog baie meer. Maar die belangrikste verhouding is sekerlik die verhouding met God.

Gesonde verhoudings is een van die belangrikste bepalers van lewensgeluk. Daarom is dit so belangrik om altyd aan jou verhoudings te werk, of jy ‘n groepsmens is of nie. Eerstens gaan dit oor jou verhouding met God. “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en siel en verstand.” (Mat 22:34-40) Dit is die grond van jou gesindheid in verhoudinge. As jy respek en eerbied en ontsag vir God het, sal jy ook respek en eerbied vir jou naaste hê wat die tweede gebod in is.

Die res van die verhoudings waarin jy op aarde verkeer, hetsy huweliksverhouding, gesinsverhouding, werksverhouding, vriendskapsverhoudings moet jy nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. (Ef 6:1-9) Elke verhouding waarin jy staan moet jy koester en aan werk.

In enige verhouding waarin jy staan, moet jy altyd respek en eerbied vir mekaar hê. Moet ook nie eerbied en respek verwag as jy dit nie gee nie. As jy nie ‘n vriend respekteer en uit jou pad gaan om liefde te bewys nie, moet jy ook nie respek en liefde terugverwag nie. Koester jou vriendskappe en dra mekaar op die hande. Wees goed vir mekaar. Laat die vrug van die Gees ook in jou verhoudinge tot uiting kom.

Gal. 5:22 “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.”

Wat ‘n voorreg is dit om vriende te hê by wie jy veilig voel en is. Vriende met wie jy lief en leed kan deel. Vriende wat vir mekaar omgee as dit goed gaan en as dit sleg gaan. Vriende wat mekaar in die liefde van God op die hande dra. Veral vriende met wie jy jou geloof kan deel. Waardeer opnuut die vriendskappe wat jy het, koester dit, en wees goed vir mekaar. Moet nie net van ’n vriendskap voordele verwag nie, maar gee ook aan ander en vorm mekaar tot eer van God.

Spr. 27:17 “Yster slyp yster, vriende vorm mekaar.”

Ds Gerrit

‘n Gruwelike ontvoering!

Skriflesing: Rigters 21 (Geheel Rigters 19-21)
Teksvers: Rigters 21:21

Vir seker is hierdie drie hoofstukke (19-21) die aakligste deel van die verhale van die hele Skrif. Dit lees nie lekker. Dit het geen les om te leer nie. Daar is geen korrektief nie. Net ’n aaklige verhaal van misbruik en ongehoorsaamheid en moord en roof. Mense-roof nogal!

In aansluiting met die praatjie van Fiona Botha vanaand oor mensehandel en -roof (Human Trafficking) gaan ons kyk na die mense-roof om die arme Benjaminiete van ondergang te red. Hulle verweer is seker maar: die doel heilig die middele.

Ongelukkig gaan jy daarmee nie voor die heilige God en hemelse Koning wegkom nie. (Kyk ook Amos 1:6,7 vgl met 2 Kron 28:18)

Laai af

Wysheid van God teenoor die dwaasheid van die mens ‘n Wyse vrou en ‘n dwase man

Skriflesing: 1 Sam 25:1-22
Teksvers: 1 Sam 25:3, 26, 32, 33, 39

Wanneer ons dikwels dom en dwaas optree, en wanneer ons nie God se wil in ons lewens laat seëvier nie, dan tree God soms op ‘n drastiese manier in om ons wil te verander. God het gesien dat Dawid dwaas wou optree om reg in eie hande te neem en te vergeld omdat hy as Dawid veronreg gevoel het. “…My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here;…” Heb 10:30. God het daarom ‘n wyse en dapper vrou wat reg en geregtigheid geken het maar ook die dwaasheid geken het, gestuur om Dawid te stop. God het ‘n vrou in sy wysheid gebruik om die dwaasheid van ‘n man te verander. Ons gaan na drie sake kyk:

  • God gee wysheid aan Abigail.
  • God gee nederigheid aan Abigail.
  • God gee uitkoms aan Abigail.

Laai af

« Older posts Newer posts »