Skrywer: admin (Page 282 of 344)
Soos u bewus is heers daar ʼn erge droogte in groot dele van die Noord-Kaap. ʼn Afvaardiging van SDDS het groot dele in die Noord-Kaap gaan besoek om met gemeentes en boere in daardie gebiede kontak te maak, ten einde vas te stel op welke wyse die kerke kan help. Hulp is dringend nodig vir water, voer, brandstof, arbeiders, kos, klere, skoolgelde, brandstof, krag ens.
Die impak van die droogte is so geweldig dat boere gedwing was om die meeste van hulle vee teen baie lae pryse te verkoop. Die bietjie vee wat oor is word tans byna voluit gevoer om hulle aan die lewe te hou.
Die dringender nood lê egter by die huis. As gevolg van die langdurige droogte is baie van die boere se kontantvloei totaal uitgeput. Dit raak ʼn stryd om kinders op skool en in die koshuis te hou. Die afstande wat baie van hierdie boere moet aflê om hulle kinders by goeie skole te kry raak ook te groot en baie moes noodgedwonge hulle kinders uit dié skole haal, omdat die uitgawes aan vervoer en losies nie meer bygebring kan word nie.
Graag deel ons ook die vreugdes met u. Ondanks die omstandighede heers daar ʼn moedigheid en kameraadskap. Dit het ons nederig gemaak om te sien hoe dankbaar hierdie boere in die Here is. Ons vra ook voortdurende voorbidding!
Dit is vir ons verblydend om te kon opmerk dat die fondse wat ons reeds beskikbaar gestel het met groot sorgvuldigheid beheer en met wysheid bestee word. Die nood is werklik groot en dringend. Wees verseker dat elke bietjie hulp, hoe gering dit ookal mag wees, werklik ʼn impak het.
U word vriendelik versoek om die nood in u gemeente bekend te maak. Waar lidmate dit in hulle harte vind om ook ‘n bydrae te maak om die nood te verlig, versoek ons vriendelik dat diakonieë enige bydraes na die volgende rekening sal oorplaas:
Rekeningnaam: SDDS
Rekeningnommer: 3330141750;
Takkode: 632005;
Verwysing: Droogtehulp
U broeder in Christus
Ds Fritz Potgieter (Geref. Kerk Bloem.Suid)
Voorsitter: SDDS (Brief verkort. 31 Okt 2019)
Mens hoor hierdie woorde gedurig as ons geloof in die gedrang is. Dan word daar vertel hoedat ander gelowe in opstand sal kom indien daar so met hulle godsdiens gespot word. Ek onthou juis hoe iemand, wat op die punt was om een of ander militante aksie in die naam van Jesus van stapel te stuur, dit ’n paar jaar gelede nogmaals vir my gesê het. Toe sê ek vir hom hulle tree niks anders as daardie einste godsdienstiges op nie.
“Maar ons moet opstaan vir die Here,” sê hy driftig.
“Inderdaad, maar dan soos wat die Nuwe Testament ons leer,” antwoord ek. Toe herinner ek hom aan 1 Petrus 2:15: “Dit is die wil van God dat julle deur goed te doen ’n einde sal maak aan al die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat.” Toe voeg ek by dat Petrus ons boonop in vers 18-21 oproep om in moeilike omstandighede lyding te verduur vir Christus. Met name skryf hy in vers 20: “Om lyding te verdra wanneer julle goed doen, dit is genade van God. Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ’n voorbeeld gestel het sodat julle in sy voetspore kan volg.”
“Beteken dit ons mag niks doen nie?” vra die persoon.
“Nee, dit beteken ons handel altyd in liefde, ook as ons protesteer. Ons voorbeeld is Jesus, nie ander godsdienste nie. Ons doen wat 1 Petrus 2:23 sê: “Toe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie. Toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel.””
Ons moet weet ons geloof gee soms aanstoot. Die Nuwe Testament waarsku ons oor en oor dat dit sal gebeur. Die vraag is egter hoe ons hierop reageer. En dit is juis hier waar ons 1 Petrus 2:21 en 23 getrou moet navolg. Jesus self wys vir ons hoe ons moet optree in sulke tye. Ons beledig nie terug nie. Ons raak nie aggressief nie. Ons veg nie. Ons baklei nie. Ons pak ons aanvalswapens weg. Vroeër moes Petrus self dit ook leer toe Jesus gearresteer is in die Tuin van Getsémané. Ons lees in Johannes 18 hoe hy sy swaard uitgeruk het en begin baklei het. Toe het Jesus hom gestop, want Sy ryk kom nie deur mag en geweld nie.
Ons mag protesteer as ons Heer se mooi Naam in die gedrang is. Maar ons kry eers al die feite voordat ons blindelings instorm. Ook herinner ons onsself aan Jesus se voorbeeld in 1 Petrus 2 oor hoe ons moet optree. Slegs deur ons eie voorbeeldige optrede in sulke tye sal ons ’n getuienis, hê. Wanneer ons nie kwaad met kwaad vergeld, of belediging met belediging nie (1 Petrus 3:9), sal ons met integriteit en beskeidenheid oor ons geloof kan praat (1 Petrus 3:15-16). Ons as navolgers van Christus is nie militant of triomfantalisties nie. Ons is knegte van ons Here. En ons leef ook so.
Stephan Joubert
Skriflesing: Rom 1:1-17
Teksvers: Rom 1:16-17
SOLA SCRIPTURA – Die Woord alleen
SOLA GRATIA – Slegs uit genade
SOLA FIDE – Deur die geloof alleen
SOLUS CHRISTUS – Deur Christus alleen
SOLI DEO GLORIA – Aan God alleen al die eer
Skriflesing: Filippense 3
Teksvers: Filippense 3:17-21
Die Here waarsku die gelowiges in Filippi om op te pas vir die honde, die slegte werkers en die vals besnyding. Dit is die dwase mense en die dwaalleraars wat mense so maklik op sleeptou kan neem om die sondige en die verkeerde sommer te glo. Dit is mense wat op uiterlike dinge vertrou en nie op die Here se genade in Christus Jesus nie. Dit is mense wat vyande van die kruis van Christus is. Dit is aardse mense wat die verderf tegemoet gaan, wie se maag hulle god is en wat hulle eer in hulle skande vind.
Daarteenoor het die Heilige Gees vir Paulus geleer om die Here sy alles te maak. Dit wat eers ‘n bate was, beskou hy as verlies ter wille van Christus. Daarom span hy hom in om die ewige burgerskap deur Jesus Christus in die hemel te kan binnegaan.
Waarna luister jy, wat en wie glo jy as daar omstrede sake in die geloofswêreld ter sprake kom? Is Christus my alles of is die skande en sonde van die wêreld besig om vir my sin te maak?