Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 282 of 328)

Christelike perspektief oor die verkiesing op 8 Mei 2019

Op Woensdag 8 Mei 2019 vind die sesde sg demokratiese algemene verkiesing in ons land plaas. Tot op datum het die ANC die land met ‘n volstrekte meerderheid regeer. Al hoe meer onrus en verdeeldheid in eie geledere het meegebring dat die sekerheid van die ANC se beheer begin verkrummel. Korrupsie, swak ekonomiese omstandighede, die swaard van grondonteiening en ander sake raak ook elke Christen in die land. Daarom is dit goed dat elke gelowige hom of haarself voor die Here afvra oor sy verantwoordelikheid om te gaan stem.

Daar word gereken dat daar amper 27 miljoen kiesers is wat geregistreer is en ongeveer 9 miljoen mense wat nie geregistreer het vir die verkiesing nie. Daar word volgens die statistieke in Suid-Afrika bereken dat tussen 70% tot 80% van ons land se inwoners Christene is. Sou dit waar wees, dan wonder ‘n mens of hierdie groot getal Christene met hierdie verkiesing ‘n verskil kan maak met die verkiesing van die leiers van ons land?

Ons bely dat die Here die regeerders oor ‘n land daarstel. Romeine 13 vra dat ons ons aan die owerheid van die dag sal onderwerp insover dit reg en billik volgens God se Woord is. In die Nederlandse geloofsbelydenis Artikel 36 bely ons onder andere dat die Here ‘n owerheid daarstel om te sorg vir goeie orde sodat ons as Christene in alle gods-vrug en eerbaarheid ‘n rustige en stil lewe kan lei (1 Timoteus 2:2).

Ons sien dit ook as die taak van die owerheid om te verseker dat die Woordbediening beskerm sal word. Die owerheid se taak is volgens die Woord van die Here om verder die geleentheid te bevorder vir die verkondiging van die Woord sodat God deur elkeen in ons land geëer en gedien sal word soos Hy dit in sy Woord beveel.

Mag dit wees dat die Here jou lei in die tyd om biddend te vra vir die leiding van die Heilige Gees. Mag dit wees dat ons werklik gelowig die Here sal vertrou om leiers te laat aanwys wat in alle trou en eerbaarheid rentmeesters sal wees voor die Here. Mag ons bid vir die regeerders en leiers in ons land dat hulle in gehoorsaamheid aan die Here, ons sal regeer.

Ds Paul

DIE BRUILOF VAN DIE LAM

Skriflesing: Openbaring 19:1‑13
Teksvers: Openbaring 19:9

Die Kerk is die bruid van Christus. Ons vergeet maklik ons posisie omdat die bruids-beelde en -metafore in die Bybel nie so baie ooreenstem met die gebruike in ons Afrikaner se tradisies by troues nie.

Kom ons kyk weer na die Bybelse gebruike en gewoontes rondom die troudag en bepaal dan wat hierdie gedeelte vir ons sê in terme van ons verantwoordelikhede as Bruid van ons Konings-Bruidegom, Jesus Christus, wat kom.

Laai af

Trane versus lag. God gee aan ons die blydskap om te lag

Skriflesing: Psalm 30
Teksvers: Psalm 30:6

Ons lees in Spreuke 17:22 dat “‘n Vrolike mens is ‘n gesonde mens, ‘n neerslagtige mens raak uitgeput.” Wat ‘n voorreg om vreugde in die lewe te kan hê, ‘n tyd om te lag en ‘n tyd om te huil. Vanmôre weereens ‘n tyd om te lag van vreugde tot eer van God en vir nog ‘n gesin wat ons met blydskap in die gemeente welkom heet, vir ‘n belydenisaflegging, vir die doop van twee kinders. “Verbly julle in die Here!” Wat ‘n vreugde om te kan lewe. Die lewe bestaan ook nie net uit lag nie, maar daar is ook hartseer. So lees ons: “Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ons weer.” Ons gaan kortliks kyk na:

  • ‘n Nuwe Oorwinning – van dood tot lewe. (v1-4)
  • ‘n Nuwe Dag – Van nag tot môre. (v5-6)
  • ‘n Nuwe Hart – Van trots tot nederigheid. (v7-10)
  • ‘n Nuwe Lied – Van rou tot vreugde. (v11-13)

Laai af

« Older posts Newer posts »