Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 280 of 328)

DIS WEER VERKIESINGSTYD

Die vraag kan gestel word of Christen-gelowiges aan ‘n staatkundige bestel se verkiesings behoort deel te neem en daaraan mee te doen, terwyl daardie bestel se waardes en norme direk indruis teen die Christelike norme en belydenis. Wat se eer is daar vir God deur Christe-ne se deelname aan of instemming met ‘n humanistiese (mensgerigte) bestel? Oorwegings van bloot sekulêre en politieke aard geniet blykbaar voorkeur. ‘n Pragmatiese benadering vir die bevordering van belange word nagestreef deur deelname aan die verkiesing. Dit hoort egter nie so nie. Jesaja 65 : 12 sê iets van so ‘n situasie: “Julle het gedoen wat verkeerd is in my oë, julle het gekies vir wat My nie aanstaan nie.

Die Woord van God is baie duidelik omtrent die beginsels wat vir ons daaglikse lewe en ons menslike aktiwiteite behoort te geld. “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God” (1 Kor 10 : 31). As dit dan in die gewone dinge so belangrik is, hoeveel te meer in belangriker sake, soos byvoorbeeld verkiesings? Dit is die vraag wat elke opregte Christen-gelowige ten opsigte hiervan moet beantwoord.

Natuurlik kan ons leef en werk in enige vorm van staatkundige bestel, ook in die huidige. Maar kan ons as Christene ‘n humanistiese bestel ondersteun, propageer, bevorder en daarin opgaan? Nee, dit mag nie! Dit is in sekere sin vyandskap teen God en sy koninkryk, al is dit op ‘n indirekte wyse. Dan moet ons maar liewers die gevolge dra, soos wat dit tans op elke lewensterrein sigbaar is en daagliks aan die lyf gevoel of ervaar word. So verklaar Hosea 5 : 11 dan ook: “Efraim is verdruk, verbreek deur die oordeel; want dit het hom behaag om na die gebod van mense te wandel” (Sien ook: Ps 146 : 3; Jer 17 : 5; Jes 2 : 22).

Die euwels (bv aborsie ens) van die huidige bestel word egter gewettig en as goed en reg verklaar op grond van daardie einste Grondwet waarvoor talle Christen-gelowiges in April 1994 gestem het. Toe was daar geen beswaar of teenkanting vanuit die kerklike gemeenskap of van die geestelike leiers teen die liberaal-humanistiese waardestelsel wat deur middel van die nuwe Grondwet gevestig sou word nie – inteendeel!

Nou is die tyd ryp vir deeglike besinning. Duidelike en sterk standpuntstelling is dringend noodsaaklik vir elke Christen-gelowige in ons land. Dan kan daar begin word om die sogenaamde “morele krisis” aan te spreek. ‘n Verknogtheid aan ‘n politieke party en sy beleid is hier onvanpas want dit belemmer ‘n onbevange besinning en verhinder ‘n suiwere beginsel-standpunt en -formulering.

Kom, laat ons dan in die geloof en getrou aan Gods Woord, vreesloos die regte pad loop. Die tyd is min, die verantwoordelikheid is groot en die gevolge is ernstig.

Marius Coetzer (Kerkpad)

Besluite het verreikende gevolge

Skriflesing: 1 Konings 12
Teksverse: 1 Konings 12: 15 en 22-24

‘n Mens neem so maklik besluite sonder om werklik na te dink of te bid oor die wil van die Here. Sommige besluite het goeie en ander slegte nagevolge. In hierdie gedeelte hoor ons die verskil tussen die besluite van mense en die besluite van die Here met die gepaardgaande gevolge van die besluite wat geneem is.
Bo alles staan die ewige besluite van die Here vas en seker. Hy beskik en bepaal ons lewe. Hy sal deur sy besluite heen die gelowige lei om in en deur Hom te lewe of aan ons die geleentheid gee omtot inkeer en bekering te kom.
Ons land staan op die vooraand van ‘n verkiesing. Sogenaamde demokratiese besluite word geneem en ons sal met die gevolge van hierdie besluite vorentoe leef. Mag jy ook biddend voor die Here staan oor ander mense se besluite wat ‘n impak op die Here se eer en die mense se vreedsame bestaan tot God se eer sal hê.

Laai af

Die Emmausgangers – Jesus het waarlik opgestaan

Skriflesing: Luk 24:1-35
Teksverse: Luk 24:30-34
Heid Kat Sondag 17 Vr en Antw 45

Vr. Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?
Antw.
Ten Eerste het Hy deur sy opstanding die dood oorwin, Sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak.
Ten Tweede word ons nou deur sy krag tot ’n nuwe lewe opgewek.
Ten Derde is die opstanding van Jesus vir ons ’n betroubare waarborg van ons salige opstanding.

Laai af

Die sewe kruiswoorde

Skriflesing: Lukas 23:26-55
Teksverse: Luk 23:33

(1) Luk 23:34 “Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wa hulle doen nie!”
(2) Luk 23:43 “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees”
(3) Joh 19:26,27 “Daar is u seun…Daar is jou moeder”
(4) Mat 27:45,46 “My, God, My God, waarom het U my verlaat?”
(5) Joh 19:28-30 “Ek is dors”
(6) Joh 19:30 “Dit is volbring!”
(7) Luk 23:46 “Vader in U hande gee ek my gees oor”

Laai af

WAAROM WAG?

Ons leef in die tyd waarin ons in besonder dink aan die uitstorting van die Heilige Gees. Het jy al gewonder waarom die Heilige Gees eers 10 dae na die hemelvaart uitgestort is? Waarom moes die dissipels 10 dae wag op die vervulling van die belofte van Jesus Christus volgens Johannes 16:7?

Die uitstorting van die Heilige Gees is een van die wonderlike gebeurtenisse wat in die Bybel verhaal word. Die Heilige Gees het gekom om altyd by ons te wees. Om hierdie wonderlike gawe te kon ontvang, was dit nodig dat die dissipels moes wag om ‘n paar dinge te leer.

Ons kan ons nie werklik indink wat in die gemoedere van die dissipels die voorafgaande tyd afgespeel het nie. Die een oomblik was Jesus nog hier op aarde. Hulle het gesien en gehoor en ervaar wat Jesus alles hier op aarde gedoen het. Dan die skok van die gevangeneming van die Here Jesus. Binne enkele ure die verhoor en die kruisiging van hulle Here en Meester. Binne drie dae van verslaentheid, die opstandig van Jesus uit die dood. Dan die 40 dae wat Jesus nog op die aarde is en dan die hemelvaart.

Hierdie tyd van wag was tyd van gebed en voorbereiding op die koms van die uitstorting van die Heilige Gees (Handelinge 1:4). Die wag hou in dat die Here hulle voorberei het om sy getuies te wees, om met oorgawe en vertroue die Here te kan dien. Die wag het ingehou dat hulle die gebeure van die afgelope tyd kon verwerk en werklik tot verstaan kon kom oor wie Jesus Christus werklik is en wat hulle opdrag was.

Mag jy nadink oor die tyd van afwagting wat die dissipels deurgegaan het tot met die uitstorting van die Heilige Gees. Mag jy ook leer om op die inwerking van die Heilige Gees te wag. Mag jy leer om te wag op die uitkoms en troos en bemagtiging van die Heilige Gees ook in jou eie lewe.

In Johannes 16:8-15 sê Jesus dat wanneer die Heilige Gees kom, dan sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan Jesus Christus se kant is, en dat die oordeel al gekom het. Die Heilige Gees sal die dissipels help om te verstaan dat die wêreld skuldig is aan sonde. Die dissipels sal sien dat die wêreld nie in Jesus Christus wil glo nie.

Verder hou wag op die koms van die Heilige Gees in dat die dissipels werklik die ware waarheid sal leer ken en verstaan. Die wag hou in dat hulle gereed is om dit wat deur die Heilige Gees verkondig is, te glo omdat dit van die Vader en die Seun af kom. Hy sal die dinge wat nog gaan kom, aan hulle verkondig. Hy sal Jesus Christus verheerlik in alles wat deur Hom aan ons geopenbaar is. Alles wat die Heilige Gees van Jesus Christus ontvang het, sal Hy aan hulle verkondig. Daarom was die wag die geleentheid om te verstaan, te glo en te gaan doen. Vanuit die uitstorting van die Heilige Gees kon die dissipels volhardend en met oortuiging die blye boodskap van redding en genade aan die wêreld uitdra.

Ds Paul

« Older posts Newer posts »