Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 201 of 344)

Elke oorwinning kom net van die Here!

Skriflesing: Psalm 20; Op 19:11-16; Deut 17 en 20 
Teksvers: Psalms 20:8

Gewoonlik kyk mense maar bietjie neer op ‘n donkie. Selfs spreekwoordelik is die donkie maar lui en steeks. Gee my veel liewer die krag van ‘n perd en sy ruiter en ek sal beter doen, verder vorder meer oorwin.
Dit is alles menslike gedagtes. God het nie iets of iemand nodig om sy plan uit te voer of oorwinnings te behaal nie. Juis omdat ons nie kan nie, doen Hy dit self. Selfs in die alledaagse gewone dinge kan ons maar net op die Here vertrou en op dié manier totaal anders wees as die mense van die wêreld onder wie ons lewe en oorlewe! 

SELF-ISOLASIE

‘n Derde golf van die virus. Lidmate wat positief getoets word, Covid-19. Lidmate wat al gesterf het vanweë die virus. 

Die staat se verantwoordelikheid. 

Die werk, skool, universiteit se verantwoordelikheid. 

Die kerkraad se verantwoordelikheid. 

 Elkeen se eie verantwoordelikheid! 

Hierdie virus het ‘n uitwerking op elkeen van ons se lewens, psigies, sowel as fisies. Die fisiese invloed en uitwerking is duidelik. Dit beteken protokolle moet gehandhaaf word. Hande moet gewas word. Gesigsmaskers moet gedra word. Afstande moet gehandhaaf word. Dan kan ons verder gaan en vitamine ens. drink om ons immuni-teit op te bou. Fisies is merkbaar en meetbaar en soms behandelbaar. 

So het dit dan ook met my gebeur dat ek verlede Maandag huisbesoek gedoen het by lidmate wat op daardie stadium nie naastenby gedink het dat hulle positief vir Covid getoets het nie, maar dit eers Dinsdag geweet het. Daarom het hulle my onmiddellik teen Dinsdag laat weet, hulle is positief getoets vir Covid. 

My eerste reaksie is dat ek nog jonk en sterk en gesond is en ‘n sterk immuniteitstel-sel het. My tweede reaksie is om vir die lidmate te bid en hulle spesifiek aan die Here op te dra., maar ook vir myself. Dan skop die verantwoordelikheid in. Die Skrif is tog duidelik in Mat 22:37-40: “Jy moet God eerstens liefhê en daarna jou naaste SOOS jouself.” Dit beteken dat jy in verantwoordelikheid, ook ander se gesondheid moet oppas net soos jy jou eie oppas. 

Op aanbeveling van my dokter, sewe dae van SELF-ISOLASIE. As jy dan geen simptome het nie kan jy weer aangaan met jou werk. Jy moet toesien dat jy nie die oorsaak is dat ander siek word nie. Maar ons is almal in die Here se hand. Ons vertrou op Hom alleen. Hy is die groot geneesheer. 

Jer 17:14 

“Maak Ú my gesond, Here, dan sal ek gesond wees! Bevry Ú my, dan sal ek vry wees! Dit is vir U wat ek wil loof.” 

Ds. Gerrit 

PINKSTER: Vervulling met die Heilige Gees (Ef 5:18)

Tydens die Pinksterfees (Oesfees) in Jerusalem word die Heilige Gees uitgestort op al God se kinders. Die eersteling van die volle oes van die offerwerk van Christus! Vroeër kon net sekere mense sporadies aanspraak maak op die krag van die Heilige Gees (Dink aan Simson en ander profete). Nou mag elkeen weet dat, as jy tot geloof gekom het, dan woon die Heilige Gees in jou. Dan geld die woorde van die Here aan Josua in Deut 31:8 –“Ek sal jou nie begewe of verlaat nie”.

Ons moet dus aanvaar dat die Gees net één keer uitgestort is. Dus kan ‘n gelowige nie méér van die Heilige Gees kry nie. Vervulling van/met die Heilige Gees gaan nie om meer Gees nie. Jy kan nie méér Gees kry nie. So kan mens ook nie méér geloof kry nie. Om dus te bid vir nog ‘n uitstorting van die Gees, nog ‘n pinkster-ervaring, sal nie Bybel wees nie.

As die Gees aan ons wedergeboorte en geloof gee, dan is dit gegee. Daarmee saam kom ‘n groot verantwoordelikheid. As die mosterdsaad van die geloof geplant is, kan die saadjie nie groter nie, maar dit kan wel ontkiem en vrugdra.

Die gawe is die genade van geloof deur die Gees.

Die verantwoordelikheid is die gehoorsaamheid deur die Heilige Gees.

In plaas dus om te bid vir meer geloof, wil die Here dat ons bid vir meer gehoorsaamheid! Meer toewyding. Meer tyd en soeke na die groei van die saad. Méér van jouself aan die Gees gee…

Dan roep Pinkster ons nie op tot ‘n nuwe uitstorting nie, maar tot ‘n nuwe gehoorsaamheid en gevolglik die noodwendige vrugdra wat by die bekering pas .

Geseënde Pinksterfees!

Ds Maarten

« Older posts Newer posts »