Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 153 of 343)

STILTE-TYD!

Wat is nodig vir die ware beoefening van GEBED?

Ek onthou nog in die koshuis was daar altyd, stiltetyd. In die oggend vir 10 minute en in die aand vir 10 minute. Dan moes ons Bybellees en bid, dit was ononderhandelbaar, dan was daar ’n algemene stilte in die koshuis en moes almal persoonlik, Bybellees en bid.

Is daar vandag nog STILTE-TYD?

Ons leef in ’n baie gejaagde tyd. Daar is net eenvoudig nie genoeg ure in die dag om alles te doen wat ons gedoen wil hê nie. Want ons tyd word opgeëet deur ons besige programme. Vandat jy wakker word, word jou dag gevul met die radio, televisie, gesprekke met mekaar, regmaak vir skool of werk. Ons het nooit tyd om daadwerklik te stop en STILTETYD te hou nie. Selfone is altyd in die hand en moet geantwoord word.

Maar, om waarlik in jou gebedslewe te groei, om waarlik met God te praat in gebed, om waarlik jou intiem-persoonlike godsdiens te beoefen, is daar drie dinge nodig vir elke Christen:

‘n Stil plek. Mat 6:6 “Gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid.” Letterlik beteken hierdie ’n plek van afsondering. ’n Plek waar jy alleen, ongestoord, sonder die invloede van jou gesin, radio of TV, rustig en ernstig en opreg kan bid en met God kan verkeer.

’n Stil tyd. Mar 14:32 “Toe kom hulle by ‘n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit hier terwyl Ek gaan bid.” Jesus het ook eenkant toe gegaan om alleen te gaan bid, waar dit ‘n stil plek maar ook ‘n stil tyd was. Veral gedurende die nag, wanneer almal slaap, het Jesus nagte deur gaan bid. Maak jy tyd vir ‘n stil tyd alleen saam met God?

‘n Stil hart. Hoe bring ons ons onstuimige gemoedere tot rus? Hoe is dit moontlik om jou hart stil te maak, sodat jy op die Here alleen kan fokus? Ps 130:6 “Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre.” ‘n Mens kan net ‘n stil hart kry as jy voor God buig en voor sy grootheid stil word. Daarom is stiltetyd en ‘n stil plek so noodsaaklik. Ons het so maklik tyd vir radio, televisie, nog ‘n oproep, nog tyd op internet, maar ons het nie tyd vir ‘n stil plek, tyd en ‘n hart nie.

Kom ons werk doelbewus daaraan om ‘n stil plek en tyd te kry en te maak elke dag, sodat ons harte voor God stil kan word en ons opreg en eerlik kan bid.

Ds. Gerrit Kruger

Getsemane, Gabatta, Golgota

Skriflesing: Markus 14:32-36, 15:1-34
Teksvers: Markus 15: 26
HK Sondag 15

Die lyding van die Galileër gaan van Getsemane, na Gabatta, na Golgota. Hier sien ons die progressie in die diepte van die Christus se smart, maar terselfde tyd die vervulling van God se geregtigheid in die dra van God se toorn, Sy oordeel en Sy vloek. 

Ons staan vanaand stil by Sondag 15 van die Heidelberger waarin hierdie dieptepunt van die lyding so duidelik uitgespel word. 

Ons gebed vir heiligmaking

Skriflesing: I Tessalonisense 5
Teksvers: I Tessalonisense 5:23-24

Hierdie kort brief is waarskynlik Paulus se heel eerste brief aan ‘n gemeente. Hy sit op ‘n afstand, waarskynlik in Korinthe, en skryf aan hierdie gemeente vér daarvandaan. 

Hy kry nuus deur Timoteus en Silas (Silvanus) wat nou vanaf Tessalonika by hom aangekom het. Dit gaan goed met hierdie klein kerkie en hulle volhard in die geloof. Sy fokus is veral op hulle voorbereiding vir die wederkoms wat naby is. 

Ook ons teksverse is sy gebed dat hulle in hierdie voorbereiding sal volhard en groei. Die troos dat ons dit sal regkry, lê in die feit dat die getroue God dít wat Hy in ons begin het ook sal klaarmaak tot op die jongste dag (vgl Fil 1:6). 

As die Strelitzias blom

Dit was twee jaar gelede dat ek hier in die kerk se tuin my trane moes inhou weens die eensaamheid en verlatenheid van die kerkwerf tydens die lockdown. Ek het op die stoep gesit en iets gedrink nadat ek die kerk se gras kom sny het wat in die lockdown nie opgehou groei het nie. Die son het so agter die strelitzias gesak. Daar was meer blomme as ooit voorheen. So asof hulle wou sê dat alles nie verby is nie. Die Covid-lockdown het ons stil gemaak, ingehok, bang gemaak. Wat wag vir ons? En dan skyn die laat middagson op die helder oranje van hierdie besondere blomme in die kerktuin en jy kry weer hoop en uitsig. 

En nou bloei hulle weer. In die afgelope twee jaar het ons ‘n paar van ons geliefde lidmate begrawe soos elke jaar. Sommige het weer regtig ‘n paar noue ontkomings met die virus gehad. Soms het ons gestruikel in ons vertroue weens die vrese en kommer. 

Maar die son skyn vandag weer deur die strelitzias… Die kerktuin ‘n lushof van hoop! 

Die Here was getrou. Die Here het gesorg. Hy het ons bewaar. Ja, selfs in die tye van dood en graf was daar die troos van “sal lewe al het hy ook gesterwe” (Joh 11:25,26). 

Die dood was hartseer, maar nie tragies nie. Want ons treur nie soos hulle wat geen hoop het nie. En nou dat Covid deel geword het van ons daaglikse lewenswyse kan ons nog steeds na die strelitzias kyk. Hulle blom weer. Elke jaar sal hulle blom want God, die onderhouer van sy skepping, sorg vir hulle… en vir ons. 

Hy sal ons bewaar in doodgevaar. Jou siel sal Hy bewaar. Die Here sal jou ingang en uitgang bewaar, van nou af tot in ewigheid! (Ps 121) 

Liefdegroete 

Ds Maarten 

Ns: Strelitzia van die genus Birds of paradise, uniek aan Suid-Afrika en verskyn op ons 50c, word ook die kraanvoëlblom genoem.
« Older posts Newer posts »