Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 135 of 343)

Die werke van die vlees staan teenoor die vrug van die Gees

Ons jaartema het vandag die hoogtepunt bereik met die afsluiting van ons Familie Naweek. Miskien het u dit al vergeet, maar hierdie familie naweek is eintlik ons gemeentekamp van 2020. Vir meer as twee jaar is ons ontwrig en ontwortel van die gewone gang van ons gemeente aktiwiteite.

Dit is natuurlik ook vir ons as gemeente noodsaaklik om hieroor na dink en te reflekteer wat werklik die prioriteite is wat ons nie kan of mag mis nie. Vir hierdie rede het ons doelbewus die jaartema gerig op die Vrug van die Heilige Gees. En ons familie naweek was in geheel hierop gefokus: Hoe leef ons anders as die wêreld. Of soos dit in Galasiërs genoem word die werke van die vlees staan teenoor die vrug van die Gees…

Hoe lyk die werke van die sondige natuur, die vleeslike werke teenoor die Vrug van die Gees wat gelowiges behoort te kenmerk? Dit is ‘n totale kontras. Waar die vleeslike werke gekenmerk word deur eie belang en selfsug, is die vrug van die Gees gerig op die vervulling van die wet om jou naaste lief te hê.

Noudat ons lewens weer begin spoed optel, ervaar ons hoe gejaagd dit weer word. Ons beleef die spanning van verantwoordelikheid en stres van bybly. Vir ander is die spoed optel ‘n groot verligting en uitkoms, vanweë die gebrek aan besigheid.

By dit alles word ons getoets in ons geloof. Sal ons verval in die begeertes en behoeftes van die vlees, of sal ons volhard om goed te doen, en vrug dra van die Gees?

Onthou dan Galasiërs 5 “16 Leef deur die Gees, dan sal julle beslis nie die begeertes van die vlees uitvoer nie.” En “24Almal wat aan Christus Jesus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25Aangesien ons deur die Gees leef, laat ons ook met die Gees in pas bly.”

Lourens (vdm)

Gedenk die rusdag, en dink aan jou verlossing

Skriflesing: Eksodus 20:8-11;
Deuteronomium 5:12-15
Teksvers: Eksodus 20:8
HK Sondag 38

Gedenk die rusdag, en onderhou die rusdag, dit is die onderskeid in die 40 jaar van die woestyn. Gedenk die rusdag, want God het op die 7de dag gerus, maar so ook moet jy hierdie herdenking bly onderhou in die beloofde land. Want Israel was ‘n slaaf in Egipte. Dink dan aan jou verlossing, en gedenk die HERE se werke.

So kan ons ook op die rusdag gedenk en onderhou, dat ons van die slawerny van die sonde vrygemaak is om God te dien. Kom dan na die Nagmaal, om te gedenk, om te dink aan jou verlossing…

Wat ‘n ervaring!!

Skriflesing: Psalm 34 (Verw 1 Sam 21:12-15)
Teksvers: Psalm34:9

Ter voorbereiding van die prediking en Nagmaalviering is dit nogal nodig dat jy rustig dink oor hoe goed die Here al vir jou was. Miskien moet jy soos Dawid ‘n bepaalde insident in gedagte roep.

Dawid verwys hier na die episode by die stadspoorte van die Filistynse koning Agis (sy ampstitel was Abimeleg), waarvan ons kan lees in 1 Samuel 21. In die tyd van die vervolgings deur koning Saul het Dawid baie sulke noue ontkomings beleef. Die Here het hom uit gevare en benoudheid gered en dit het hom ‘n bepaalde ervaring van sy God gegee.

« Older posts Newer posts »