Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 126 of 343)

Om waarlik gereformeerd te wees

Skriflesing: Genesis 39; Psalm 40:8,9; Heb 10:7-10
Teksvers: Genesis 39:6-9
HK Sondag 44

Die gewilligheid waarmee ons soek na die wil van God en die hartlike doen daarvan. is vanaand ter sprake. Nie die uitdink van jou eie beginsels (tradisies en gewoontes) en dit dan tot goddelike status te verhef nie, maar die wedergeboorte van jou hart en denke (kyk Rom 12:1,2), sodat ons alhoemeer dink en vra om te doen wat God wil.
As ons fokus sou wees om slegs te doen wat vir die HERE aanneemlik is, dan vorder ons eintlik eers werklik in die heiligmaking – al het “die allerheiligstes in hierdie lewe maar net die begin van hierdie gehoorsaamheid” – ten minste vorder ons in die heiligmaking.

Deur die Gees van die HERE voed Hy die kandelaar

Skriflesing: Sagaria 4:1-14; Openbaring 11:1-19
Teksvers: Sagaria 4:4

Sagaria se vyfde gesig is ‘n baie besondere toneel van ‘n kandelaar met ‘n oliekan en sewe pype na elkeen van die kelke om olie te voorsien. Daar staan ook ‘n olyfboom aan elke kant van die kandelaar met pype wat van die bome afloop na die oliekan om dit te voorsien van olie!

Die kandelaar, of menora, is die lampstaander wat in die Heilige staan van die tabernakel en later van die tempel, wat die priesters elke oggend voorberei en in die aandoffer met olie vul en aansteek om deur die nag te brand. Dit is ‘n simbool van God se teenwoordigheid onder sy volk. ‘n Simbool van lig in die donker!

Maar Sagaria is eerlik genoeg om te erken dat hy nie alles verstaan van God se Woord nie. Daarop kom die verklaring van die engel. Waarby ons vanoggend gaan stilstaan met die oog op die bediening van die doop

Vol van Genade en Waarheid

Johannes, die apostel vir wie Jesus lief was, beskryf in die eerste hoofstuk van die evangelie die koms van die Christus van God met die bekende woorde: 

“114En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos die van die unieke Seun van die Vader –vol genade en waarheid.” 2020-vertaling 

Met die wêreld wat om ons verlig word deur liggies en fees versierings, kan ‘n mens maklik verswelg word in die kersfeesgees van Jesus se geboorte. Almal maak planne en sien uit na die kosbare tyd in die jaar. Familie is op reis en vriende kom by mekaar. Kinders is natuurlik die heel meeste opgewonde! 

Oor Jesus se menswording kan ons nie stilbly nie. Dit het die gang van die wêreldgeskiedenis bepaal. In hierdie versie staan daar: Hy het onder ons kom woon. Daar staan in die Grieks as te ware: Hy het by ons kom tent opslaan. Hy het onder ons kom tabernakel. 

Hy het sy heerlikheid, sy glans en majesteit aan die wêreld bekend gemaak. Hierdie heerlikheid, is uniek. Dit is enig in soort. Dit is uitsonderlik. Want dit is vol van genade en waarheid. Hierdie twee begrippe genade en waarheid bring volheid. 

Genade dui op God se karakter. Hy is ‘n genadige God, wat groot is in goedertierenheid. Hy vergewe menigvuldig, maar laat nooit die sonde ongestraf bly nie. Want sy genade is nooit sonder waarheid nie. God is in sy wese self die waarheid. So maak Christus Homself ook bekend as Johannes in hoofstuk 14 beskryf: Hy is die Weg, die WAARHEID en die Lewe. 

Mag die Here u ook vervul met die volheid van sy heerlikheid deur sy genade en waarheid. 

Lourens (vdm) 

« Older posts Newer posts »